Oordink die Woord en laat God toe om jou gedagtes te vernuwe, jou geloof te versterk en nog baie meer.
Die Bybel is meer as net ‘n boek.
Dit is die Woord van God, wat deur Hom geïnspireer is.
Die Woord is lewend en kragtig, skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg. En dit beoordeel die hart se voornemens en gedagtes (Hebreërs 4:12).
Die Woord is ook Gees en lewe (Johannes 6:63).
Al bogenoemde dinge wys ons daarop dat ‘n mens die Woord nodig het om te verander.
DINK NA OOR DIE WOORD.
Om na te dink oor die Woord of dit te oordink, help ons om God se woorde diep in ons harte te kry, waar dit ‘n werk in ons kan doen.
Die Woord werk nie net in ons harte nie, maar ook in ons gedagtes.
Romeine 12:2 leer ons dat ons nie aan die wêreld gelykvormig moet wees nie. Ons moet God toelaat om ons te verander deur die manier wat ons dink te verander. Die Woord leer ons hoe om te dink soos God dink.
Wanneer ons nadink oor die Woord of dit oordink, dan bepeins ons elke stukkie daarvan.
Dit help ons om nuwe insig te kry.
Dit help ons ook om duideliker te hoor wat God vir ons wil sê wanneer ons tyd neem om stil te wees voor God sodat Hy ons gedagtes kan lei.
PRAKTIESE STAPPE OM DIE WOORD TE OORDINK.
Kom ons kyk vervolgens na ‘n paar praktiese idees om ons te help om die Woord te oordink.
VRA DIE HERE OM JOU IN DIE WOORD TE ONTMOET.
Voor jy jou Bybel begin lees, word stil en vra die Here om met jou te praat.
Vra Hom om jou te help om fyn te luister sodat jy Sy stem kan hoor.
Lees dan jou Bybel met die verwagting dat Hy wel met jou gaan praat.
LEES DIE BYBEL MET ‘N BEROUVOLLE GEES.
Wees gereed om afstand te doen van enige iets wat die Here jou wys.
Kies om gehoorsaam te wees aan alles wat jy in die Woord lees.
Stel jouself oop vir God se instruksies. Onthou, Jakobus skryf: “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie” (Jakobus 1:22).
OORDINK ‘N KORT SKRIFGEDEELTE.
Kies ‘n kort gedeelte uit die deel wat jy gelees het om te oordink.
Bepeins dit.
Rol dit oor en oor in jou gedagtes.
Lees dit weer en weer.
Vra die Here of daar iets spesifiek in die verse is wat Hy vir jou wil sê of wat jy moet raaksien.
NEEM DIT SAAM DEUR DIE DAG.
Dalk het die Here ‘n spesifieke vers vir jou uitgewys. Oordink daardie vers deur die dag. Laat die Here toe om jou meer insig te gee of verder met jou daaroor te praat.
Om die Skrif te oordink is nie iets wat ‘n mens vinnig kan afjaag nie. Jy kan die hele dag oor ‘n skrifgedeelte dink terwyl jy besig is om ander dinge te doen. Of jy kan stilsit en niks anders doen as om die Woord te oordink nie.
Dit maak nie saak hoe jy kies om dit te doen nie, jy sal die voordeel van skrifoordenking begin ervaar wanneer jy dit op ‘n gereelde basis doen.
LEER DEUR TE OORDINK.
Om mee af te sluit. Iemand het op ‘n keer gesê dat ‘n mens nie regtig uit ‘n boek kan leer hoe om die Woord te oordink nie. Jy leer die Woord oordink deur die Woord te oordink.
Moet dus nie moedeloos raak as jy aan die begin daarmee sukkel nie.
Hou net aan om dit te doen.
Dit sal makliker word.
Begin dus sommer vandag nog om die Woord te oordink. Dink daaroor na in jou daaglikse handel en wandel.
En mag die Here jou seën met nuwe insig en met die waarheid van Sy woorde.
GEESTELIKE DISSIPLINESREEKS:
Hierdie artikel was die laaste een van die Geestelike Dissiplinesreeks.
Hier is al die vorige artikels in die reeks, net ingeval jy iewers een gemis het: