Ons almal ly aan gejaagdheid-siekte, maar ons moet leer om gejaagdheid sonder genade uit ons lewens uit te skakel.
In sy boek, “The life you’ve always wanted – spiritual disciplines for ordinary people”, vertel John Ortberg van die dag toe hy vir Dallas Willard raad gevra het.
John en sy familie het Chicago toe getrek. Op ‘n dag het hy vir Dallas gevra vir ‘n bietjie geestelike leiding. Hy het hom vertel hoe besig sy lewe was. Hy het met hom gedeel hoe hulle as gesin saamleef en ook wat die toestand van sy hart was.
Dallas het ‘n ruk lank stil gebly en toe gesê, “Jy moet gejaagdheid sonder genade uit jou lewe uitskakel.”
Dit was al raad en leiding wat hy vir John gegee het.
DIE GEJAAGDHEID-SIEKTE.
Almal van ons is besig.
Ons is meeste van die tyd gejaagd en raak geïrriteerd met mense en dinge wat stadig is.
Om die waarheid te sê, ons ly omtrent almal aan “gejaagdheid-siekte”!
Hoe weet jy jy ly aan die siekte?
Hier is ‘n paar simptome om jou te help om jouself te diagnoseer.
DOEN ALLES VINNIGER.
As jy aan gejaagdheid-siekte ly, dan is jy altyd bang daar gaan nie genoeg ure in die dag wees om alles wat jy moet doen, klaar te kry nie.
Jy gaan begin om alles wat jy moet doen, vinniger te probeer doen.
Jy gaan vinniger praat en vinniger ry.
En wanneer jy gaan inkopies doen, gaan jy die kortste ry by die betaalpunte kies.
DOEN MEER AS EEN DING OP ‘N SLAG (MULTI-TASKING).
Meeste mense is skuldig aan hierdie een.
Ons probeer om meer as een ding op ‘n slag te doen.
Ons bestuur terwyl ons ook op die foon praat of ‘n Whatsapp stuur.
Of ons eet terwyl ons radio luister of televisie kyk.
Soms probeer ons ‘n boek lees terwyl ons ook met iemand praat of op sosiale media rondkyk.
Klink enige van hierdie dinge vir jou bekend?
CHAOS IN JOU LEWE.
‘n Mens se lewe het ‘n gebrek aan eenvoud wanneer jy aan gejaagdheid-siekte ly.
Chaos kan menige vorme aanneem.
Dit kan materiële chaos wees of dit kan chaos in jou gedagtewêreld wees.
‘n Mens kan selfs chaos in jou emosies ervaar.
‘N ONVERMOë OM LIEF TE Hê.
Die ernstigste simptoom van gejaagdheid-siekte is die onvermoë om ander lief te hê.
Jy sien, ‘n mens kan nie iemand liefhê en gejaagd wees op dieselfde tyd nie.
Om lief te hê vra tyd. En, wanneer jy gejaagd is, het jy nie, of neem jy nie, die tyd om iemand lief te hê nie.
DIE KUUR VIR DIE SIEKTE.
Hierdie is maar net ‘n paar van die simptome van gejaagdheid-siekte.
Noudat ons onsself gediagnoseer het, en uitgevind het ons almal ly in ‘n mindere of meerdere mate daaraan, hoe genees ons dit?
Die dissipline van vertraging of minder haas gaan ons baie help in ons soeke na ‘n minder gejaagde lewe.
VERTRAGING OF MINDER HAAS.
Hierdie dissipline is vir meeste mense ‘n moeilike een.
Dit vra van jou om te kies om jouself in posisies te plaas waar jy geforseer word om iets stadig te doen of te wag.
Jy kan byvoorbeeld kies om in die stadige baan te ry wanneer jy op die hoofweg is.
Of jy kan die langste ry by die betaalpunt kies en geduldig wag tot dit jou beurt is.
Kies om jou kos stadig te eet (hierdie een is beslis vir my ‘n uitdaging!).
Hou op om ‘n horlosie te dra. En, as jy klaar nie een dra nie, kyk minder na die tyd op jou selfoon of rekenaar.
OM ALLEEN TE WEES.
‘n Persoon wat alleen is, is vry van die druk van die samelewing wat ons gewoonlik in ‘n rigting druk of vorm.
Jesus het baie tyd op Sy eie gespandeer.
Wanneer ons kies om alleen te wees, onttrek ons van mense, van gesprekke en van allerhande dinge wat geraas maak in ons lewens.
Dit vra deursettingsvermoë om tyd alleen te spandeer. ‘n Mens moet selfs soms tyd daarvoor inruim in jou dagboek of dit gaan nie gebeur nie.
Tyd alleen kan in twee kategorieë gedeel word. Kort tydjies waar jy elke dag tyd alleen spandeer en langer tye elke maand. Jy kan ‘n halwe dag, ‘n hele dag of selfs ‘n paar dae tyd alleen spandeer.
Kort tydjies op jou eie: Begin jou dag met God. Lees Sy Woord en dra jou dag in gebed op. Eindig die dag ook met God. Neem jou dag in oënskou saam met Hom en dank Hom vir die dag.
As jy langer tyd op jou eie spandeer, kan jy dit ook saam met die Here doen. Moenie probeer om te veel te doen nie. Moenie die hele Bybel probeer lees of vir ure aanneem bid nie. Fokus liewer daarop om te luister. Skryf neer wat jy hoor.
SKAKEL GEJAAGDHEID UIT JOU LEWE.
Ons is almal besig, haastig en gejaagd.
Meeste van die tyd besef ons nie eers ons is gejaagd nie.
Maar ons kan oefen om minder gejaagd te wees deur die voorstelle hierbo te gebruik om gejaagdheid, sonder genade, uit ons lewens uit te skakel.
dit is sowaar