GEESTELIKE DISSIPLINESREEKS: DOEN DIT IN DIE GEHEIM

Baie mense is verslaaf aan goedkeuring. Om dinge in die geheim te doen is ‘n dissipline wat jou help om hierdie verslawing te oorwin en in vryheid te leef.

Het jy al agtergekom dat alle mense aanvaar wil word?

Ons wil hê ander moet van ons hou – dat hulle wie ons is en dit wat ons doen, goedkeur.

Ongelukkig kan hierdie soeke na goedkeuring in ‘n verslawing ontaard. As dít gebeur kan ons dinge begin doen, of ophou doen, net sodat ons ander se goedkeuring kan kry.

Dit is egter nie hoe die Here wil hê ons moet leef nie.

Hy wil hê ons moet vry wees van die kommer oor wat ander van ons sê en dink.

Jy sien, wanneer ‘n ander mens se goedkeuring té belangrik word, kan ons ons waarde as mens begin meet aan die dinge wat ons doen.

Die eindresultaat is dat ons goedkeuring van mense soek, maar dit bevredig ons nie wanneer ons dit kry nie.

Die enigste goedkeuring wat regtig bevredig, is goedkeuring en aanvaarding wat van God af kom.

Doen dit in die geheim

IS JY VERSLAAF AAN GOEDKEURING?

Meeste van ons is verslaaf aan die goedkeuring van ander.

Maar hoe weet ‘n mens dat jy verslaaf is daaraan?

Kyk ‘n bietjie na hierdie drie dinge. As jy enige een van hulle doen, dan is jy verslaaf aan ander se goedkeuring.

Vergelyk jy jou prestasies met dié van andere? Dan is jy tien teen een verslaaf aan goedkeuring.

Steek jy die waarheid so ‘n bietjie weg omdat jy gesteld is op wat ander van jou dink? Dan is jy dalk verslaaf aan goedkeuring.

Neem jy die persoon, wie se goedkeuring jy soek, kwalik wanneer jy dit nie kry nie? Dit is ook ‘n teken dat jy verslaaf is aan goedkeuring.

DOEN DIT IN DIE GEHEIM.

Om dinge in die geheim te doen is ‘n goeie dissipline om te beoefen wanneer ‘n mens daarna streef om jou verslawing aan goedkeuring te oorwin en ‘n lewe van vryheid te leef.

In kort beteken hierdie dissipline eenvoudig dat ‘n mens elke nou en dan iets goeds aan iemand anders doen en baie seker maak niemand vind uit jy het dit gedoen nie.

Dit beteken jy gebruik nie woorde of frases wat daarop gemik is om ander te beïndruk nie.

En jy praat nie oor al jou prestasies met elkeen wat jy teëkom nie.

Dan is daar ook die dissipline om dit wat tussen jou en die Here gebeur het, soms geheim te hou.

Kom ek gee jou ‘n voorbeeld. Verbeel jou jy het ‘n wonderlike ervaring met die Here. Jy ervaar Sy teenwoordigheid op ‘n tasbare manier. Of Hy seën jou met ‘n baie diep insig in Sy Woord. Of jy voel dat Hy met jou oor ‘n spesifieke onderwerp gepraat het. Moenie dit met ander deel nie. Hou dit tussen jou en die Here. Moet dit nie gebruik om ander te probeer beïndruk nie.

As ‘n mens regtig eerlik is, sal jy moet erken dat baie dinge wat ons sê of doen gemik is daarop om ander se opinie oor ons te verbeter.

Ons is so bekommerd oor wat ander van ons dink… net om uit te vind meeste mense dink nie eers oor ons nie!

Mag die Here elkeen van ons help om net Sy goedkeuring en aanvaarding te soek.

Mag ons altyd onthou dat Hy ons reeds aanvaar het en dat ons reeds Sy goedkeuring het as Sy kinders deur ons geloof in Jesus Christus.

GEESTELIKE DISSIPLINESREEKS:

Eenheid Met Christus

Om Met Vreugde Te Leef

Raak Van Gejaagdheid Ontslae

Om Te Bid Tot God

Om Ander Te Dien

Sondebelydenis – Ses stappe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *