God wil hê dat ons as Sy kinders met vreugde gevul moet wees. Die dissipline van viering is van groot hulp in ons strewe om vreugdevolle mense te word.
Ons is almal besig. Ons het mense om te sien, dinge om te doen en goed wat in stand gehou moet word.
Maar so baie keer spandeer ons ons tyd deur te wag. Ons staan in ‘n ry in die bank of by die kasregister. Ons bestuur werk toe en weer huis toe. Of ons wag vir ‘n vergadering om te begin of klaar te maak.
Om te wag kan nogal ‘n irritasie wees, veral as jy iets anders het wat jy liewer sou wou doen.
Meeste van ons is so half afwesig en salig onbewus van wat om ons aangaan wanneer ons besig is om te wag. En, wanneer ons nie ten volle teenwoordig is in die oomblik nie, mis ons baie keer uit op God se Teenwoordheid of op Sy stem.
Ons mis ook uit op die vreugde wat ons op ‘n spesifieke oomblik kon ervaar.

OM MET VREUGDE GEVUL TE WEES.
Dit is God se begeerte dat elkeen van ons met vreugde gevul sal wees.
Hy is gevul met vreugde en Hy wil hê Sy kinders moet spieëlbeelde van Sy vreugde wees.
Paulus skryf aan die gelowiges in Filippi dat hulle altyd bly moet wees in die Here.
Jesus het weer gesê dat Sy blydskap in ons moet wees: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees” (Johannes 15:11).
En as ons in Galasiërs 5:22-23 lees van die vrug van die Gees, dan is vreugde of blydskap sommer tweede op die lys.
Ons lees selfs in die Ou Testament dat die mense met vreugde gevul moes wees: “Esra het vir hulle gesê: ‘Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug'” (Nehemia 8:11).
Ons sien dus dat vreugde of blydskap baie belangrik is vir die Here. Hy wil hê ons moet gevul wees met vreugde en altyd bly wees, want Sy vreugde is ons toevlug.
DIE GEVOLG VAN VREUGDELOOSHEID.
In die Engelse vertalings staan daar in Nehemia 8:10: “This is a sacred day before our Lord. Don’t be dejected and sad, for the joy of the LORD is your strength!”
Uit hierdie vertaling sien ons vreugde gee krag, maar wanneer ons sonder vreugde is, lei dit tot swakheid.
Dallas Willard het geskryf dat wanneer ‘n mens versuim om ‘n werklik bevredigende lewe te lei sal dit die effek hê dat sonde altyd baie aanloklik lyk.
Dit beteken ons sal probeer om die leemte wat gelaat word omdat ons geen vreugde het nie, te vul met enige iets wat lyk of dit vreugde kan verskaf.
Ongelukkig is baie van hierdie dinge nie so goed soos hulle lyk nie. En dan sit ons opgeskeep met ‘n hoop probleme en nog meer vreugdeloosheid.
Voel jy vandag dat jy geen of min vreugde in jou lewe het?
Dan het ek vir jou goeie nuus: met die hulp van die Here kan jy ‘n vreugdevolle persoon word!
DIE DISSIPLINE VAN VIERING.
Die dissipline van viering is van groot hulp in ons strewe om vreugdevolle mense te word.
Wanneer ons hierdie dissipline beoefen, gebruik ons ons vermoë om die goeie in die eenvoudigste gawes uit God se hand te sien en te voel.
Kom ons kyk vervolgens na ‘n paar praktiese stappe wat ons kan neem om hierdie dissipline in ons lewens te beoefen.
BEGIN VANDAG.
Moenie wag tot môre voor jy ‘n vreugdevolle persoon word nie.
Jou omstandighede hoef nie te verander voor jy vreugde in jou lewe kan ervaar nie.
Jy het nie meer goed nodig om meer vreugde te hê nie.
Vreugde is nie iets wat eers kom wanneer ‘n doel bereik word, skuld afbetaal is, of die kinders klaar is met skool nie.
Om vol vreugde te wees is nie ‘n ‘eendag’ ding nie.
Die Psalmis het geskryf: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”
Nou wonder jy dalk hoe ‘n mens vol vreugde kan wees as daar soveel slegte ding rondom ons, en selfs met ons, gebeur?
Ons doen dit deur ons lewe te wy aan iets wat groter is as ons persoonlike geluk.
Waaraan jy jou lewe wy gaan verskil van waaraan ek myne wy. Daarom moet ons die Here vertrou om ons te lei na Sy plan vir ons lewens. As ons binne Sy plan vir ons leef, sal ons ons lewens wy aan iets groter as die najaag van persoonlike geluk.
KRY ‘N ‘VREUGDE-MENTOR’.
Daar is mense wat reeds die vermoë ontwikkel het om te alle tye vol vreugde te wees.
Soek iemand wat hierdie vermoë het en bevriend hom of haar.
Spandeer dan ook baie tyd saam met die persoon.
Gesels oor die stappe wat die persoon geneem het om hierdie vermoë te ontwikkel. Bid ook saam dat die Heilige Gees die vrug van vreugde in ‘n groter mate in jou lewe sal voortbring.

KIES ‘N ‘VREUGDE-DAG’.
As jy baie sukkel om vol vreugde te wees, kies dan vir jou een dag ‘n week waar jy net lekker dinge doen.
Eet kos wat jy geniet.
Dra klere wat jou laat lekker voel oor jouself.
Luister na goeie musiek, doen sport waarvan jy hou of lees ‘n boek.
Maak dan ‘n punt daarvan om die Here te dank vir elkeen van hierdie dinge. Dank Hom dat Hy dit vir jou gegee het om te geniet.
Herinner jouself aan Sy goedheid en dat Hy die Gewer van alle goeie gawes is.
‘UNPLUG’.
‘n Mens lees gereeld in die Bybel dat die mense kos gevas het.
Net soos hulle van kos gevas het, kan ons dié dinge vas wat ons aandag van die Here of ons familie aftrek.
Dalk is dit die televisie. Of dalk jou foon of tablet. Dit kan ook jou rekenaar wees.
Kies ‘n week waartydens jy ‘unplug’. Skakel soveel van hierdie toestelle af as wat jy kan.
Gebruik daardie vrye tyd om Bybelstudie te doen of in gebed.
Lees ‘n boek of haal verlore slaap in.
Spandeer ook van die tyd saam met jou familie.
LET OP JOU GEDAGTES.
Ons vreugde word grootliks beïnvloed deur die gedagtes wat ons dink.
As ‘n mens aan negatiewe dinge dink, verdwyn jou vreugde vinnig.
As jy egter aan positiewe dinge dink, word jou vreugde meer.
Geen wonder die Here sê dat ons ons gedagtes moet rig op alles wat waar, eerbaar, reg, rein en lieflik is. Verder sê Hy ons moet ons gedagtes rig op alles wat lof verdien en op elke deug en prysenswaardige saak wat daar ook mag wees (Filippense 4:8).
Wanneer ons ons gedagtes rig op die Here en al die wonderlike dinge wat Hy vir ons gedoen en gegee het, kan ons nie anders as om met vreugde gevul te wees nie. En wanneer ons onsself daaraan herinner dat Hy steeds elke dag goed is vir ons, sal ons met nog meer vreugde gevul wees.
‘n Mens wat met vreugde gevul is, is ‘n mens wat Jesus en Sy vreugde in ons weerspieël.
Gebruik die praktiese wenke hierbo om jouself te oefen om ‘n vreugdevolle mens te wees.
En vertrou bo alles die Heilige Gees om jou met die vreugde van Jesus te vul sodat jy te alle tye vol vreugde kan wees.