As ons ‘n verskil wil maak in die wêreld moet ons leer om ander te dien. Hier is ‘n paar praktiese idees hoe jy dit kan doen.
Elke mens wil graag ‘iemand’ wees.
Iemand wat belangrik is.
Iemand wat ander na opkyk en wat ‘n verskil in die wêreld maak.
‘n ‘Superhero’.
Ons dink gewoonlik so iemand is baie beroemd. Of dis iemand wat die wêreld oorwin en wat dinge doen wat ander se monde laat oophang.
Ons idee van iemand wat ‘n verskil maak is beslis nie dat so ‘n persoon ‘n dienaar is nie.
Dink maar net daaroor. Koninklikes, presidente, sportsterre of filmsterre – dít is die mense wat kinders droom om te wees.
Ons dink gewoonlik hulle is die mense wat regtig dinge doen om die wêreld ‘n beter plek te maak.
Maar dis nie wat Jesus gesê het nie.
Hy het gesê as ons ‘n verskil wil maak, dan moet ons nederig wees. Ons moet ander dien in plaas daarvan om te verwag dat hulle ons dien. Om die waarheid te sê, Hy het gesê dit is presies wat Hy kom doen het: “Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.”
Nou hoe doen ‘n mens dit op ‘n praktiese manier?
DIE ALLEDAAGSE-BEDIENING.
Kom ons begin by ons gesinne.
Daar is ‘n klomp dinge wat ons vir mekaar kan doen om mekaar te dien.
Selfs iets soos om die vuilgoed uit te sit kan ‘n manier wees om te dien.
Pa kan vir ‘n uur lank na die kinders kyk sodat ma ‘n koffie saam met haar vriendin kan gaan drink.
‘n Mens het net nodig om bietjie oor dinge te dink en met aandag te luister om iets te kry wat jy vir een van jou gesinslede kan doen om hulle op een of ander manier te dien.
DIE ONDERBREKING-BEDIENING.
Hierdie beteken eenvoudig ‘n mens is beskikbaar vir ander, ongeag waarmee jy besig is.
Dit is nie altyd moontlik nie, want soms is ‘n mens besig met iets wat regtig nie onderbreek kan word nie.
Maar, as dit enigsins moontlik is, moet ons onsself beskikbaar stel om ander te dien wanneer en hoe hulle dit nodig het.
DIE STILBLY-BEDIENING.
Hierdie een is seker die een waarmee ons die meeste sukkel.
Ons hou daarvan om te praat en ons opinie oor dinge te lug teenoor almal wat ore het.
Maar om stil te bly kan egter ‘n manier wees om ander te dien!
Dit gebeur wanneer ons kies om stil te bly eerder as om oor onsself te praat om ander te beïndruk.
Of wanneer ons stilbly oor die geestelike (of enige ander!) vordering wat ons maak of dink ons maak.
Ons kan ook ander dien deur goeie dinge oor hulle te sê in plaas daarvan om heeltyd ons eie beuel te blaas.
DIE LASTE DRA-BEDIENING.
In Galasiërs 6:2 lees ons: “Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.”
Dit gaan soms beteken dat ons vir iemand anders bid, of hulle troos met bemoedigende woorde.
Dit kan ook beteken dat ons hulle op ‘n meer tasbare manier help, soos die Here ons deur Sy Gees lei om te doen.
VOLG JESUS SE VOORBEELD.
Jesus het gesê Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien.
Ons is Sy volgelinge en moet Sy voorbeeld volg in alles wat ons doen.
Dit beteken ons moet ook nie verwag om gedien te word nie, maar moet ander dien.
Mag jy vandag, en elke dag, ‘n verskil maak in die wêreld deur diegene rondom jou, met vreugde te dien!