Die Bybel sê dat ons verander deur ons denke te vernuwe. Volg hierdie vyf stappe om jou daarmee te help.
Romeine 12:1-2 is van my gunsteling verse in die Bybel.
Daar staan: “Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”
Daar is wonderlike waarhede in albei verse opgesluit, maar vandag gaan ons net gesels oor vers 2.
JY DINK VOOR JY DOEN.
God het vir elkeen van ons die vermoë gegee om te dink. Wanneer ‘n mens nog ‘n ongelowige is, gebruik jy glad nie jou denke om God te verheerlik nie.
Om die waarheid te sê, dis juis die dinge wat jy dink wat jou in die moeilikheid laat beland. Jy sien, ‘n mens doen nie ‘n ding voor jy nie eers daaroor gedink het nie.
Kom ek gee jou ‘n voorbeeld.
Jy loop by die yskas verby en dink, “Mmmm, ‘n klein happie van vanmiddag se nagereg sal darem nou lekker smaak.” En voor jy weet sit jy met die bak nagereg voor jou en eet alles op.
Sien jy wat ek bedoel? Jy het eers oor die nagereg gedink voor jy tot aksie oorgegaan en dit uit die yskas gehaal en begin eet het.
Dit werk so met elke ding wat ons doen. Dit kom eers in ons gedagtes op voor ons oorgaan tot aksie en doen waaroor ons gedink het.
VERNUWE JOU DENKE.
As gelowiges het God vir ons ‘n nuwe vermoë gegee. Hy het ons die vermoë gegee om ons denke te vernuwe.
Ons hoef nou nie meer te dink soos die wêreld dink en dan optree soos hulle optree nie.
Nee, ons kan begin om te dink hoe God dink en dan optree soos Hy optree.
Want dis wanneer ons ons denke vernuwe – wanneer ons anders begin dink – dat ons verander en God se wil in ons lewens begin doen.
Maar hoe doen ‘n mens dit nou eintlik? Hoe gemaak om jou gedagtes te vernuwe?
Kom ons kyk na 5 dinge wat jy kan doen om jou hiermee te help.
STAP 1. VRA GOD OM JOU TE HELP.
Dit is nou maar eenmaal so dat ons niks kan doen sonder God se hulp nie. Jy kan ook nie anders begin dink sonder dat Hy jou help nie.
Stap 1 is dus om God te vra om jou te help.
Vra Hom om jou te wys waar jy dinge dink wat nie goed en opbouend is nie.
Vra Hom ook om jou te help om daardie dinge met waarheid te vervang.
STAP 2. MAAK JOU GEDAGTES VOL MET DIE WOORD.
Die dinge waarna ‘n mens kyk en waarna jy luister, is die dinge waarmee jy jou gedagtes vol maak.
Dit is dan ook die dinge wat jou denke gaan oorheers en waaroor jy die hele tyd gaan dink.
As jy jou gedagtes vol maak met dinge van die wêreld, dan gaan jy dink soos die wêreld. Maar as jy jou gedagtes vol maak met God se Woord, dan gaan jy soos Hy begin dink.
Stap 2 is om elke dag tyd in die Woord te spandeer sodat jy jou gedagtes daarmee kan vol maak. Jy hoef nie ure lank Bybel te lees of Bybelstudie te doen nie. Maar sorg dat jy elke dag ‘n tydjie opsy sit waar jy stil word saam met God in Sy Woord.
As jy sukkel met ‘n daaglikse stiltetyd, dan kan HIERDIE en HIERDIE artikels jou daarmee help.
STAP 3. DINK WAAROOR JY DINK.
In 2 Korinthiërs 10:5 leer ons dat ons elke gedagte gevange moet neem. Dit beteken eenvoudig dat jy dink waaroor jy dink.
As jy gereeld tyd in die Woord spandeer, sal jy gou agterkom wanneer jy besig is om iets te dink wat nie opbouend en goed is nie.
Wanneer jy agterkom jy dink dinge wat nie goed is nie en wat nie strook met God se Woord nie, moet jy dit gevange neem en gehoorsaam maak aan Christus.
Maar hoe doen jy dit?
HOE OM JOU GEDAGTES GEVANGE TE NEEM.
Kom ons veronderstel jy het ‘n finansiële behoefte. Jy het God gevra om te voorsien, maar nou vang jy jouself dat jy dink: “Die tyd is besig om min te word en God het nog nie voorsien nie. Ek is seker Hy het van my vergeet. Hy is so besig met ander mense se probleme, dat Hy myne nie raaksien nie. Dalk het Hy nie eers gehoor toe ek gevra het Hy moet my help nie.”
Die oomblik wat jy agterkom wat jy besig is om te dink, moet jy dadelik ophou om dit te dink en dit vervang met die waarheid.
Die beste manier om op te hou om oor iets te dink, is om hardop oor iets anders te praat. Dit klink eenvoudig, maar probeer dit. Tel in jou gedagtes tot tien, maar voor jy by tien kom, sê jou naam hardop. Sien jy? Jy het opgehou tel want jy het gefokus op jou naam wat jy sê.
Dis dan ook wat jy moet doen wanneer jy agterkom jy dink iets wat nie strook met die Woord nie. Onderbreek jou gedagtes deur hardop vir jouself te sê wat God oor die situasie te sê het.
In ons voorbeeld oor finansies, kan jy byvoorbeeld hardop sê, “Nee, God het belowe om ruimskoots in al my behoeftes te voorsien in ooreenstemming met Sy heerlike rykdom in Christus. Hy het voorheen in my behoeftes voorsien, en Hy sal dit weer doen. En Hy het belowe om my nooit te verlaat of in die steek te laat nie. Hy het dit nog nooit voorheen gedoen nie, en Hy sal dit ook nie nou doen nie.”
STAP 4. HOU ‘N WAARHEIDSJOERNAAL (TRUTH JOURNALING).
Stap 4 kan jou sommer baie help as jy ‘n bietjie sukkel met stap 3.
‘n Waarheidsjoernaal is sommer net ‘n mooi manier om te sê dat jy neerskryf wat jy oor ‘n situasie dink of hoe jy daaroor voel en dan skryf jy ook neer wat die waarheid daaromtrent is.
Begin deur alles neer te skryf wat jy oor ‘n spesifieke situasie, of selfs oor ‘n spesifieke persoon, dink of voel.
Gee nou vir elke sin wat jy geskryf het, ‘n nommer. Dit gaan jou forseer om na elke individuele gedagte te kyk.
Vervolgens gaan jy elke gedagte van nader bekyk. Is daardie gedagte die waarheid of is dit ‘n leuen? Dit gaan dalk nie ooglopend wees of dit waar is of ‘n leuen nie, so jy gaan dalk ‘n rukkie moet dink oor elkeen voor jy kan sê of dit waar is of ‘n leuen.
Skryf nou die waarheid oor elke gedagte neer.
Hierdie is net in kort wat jy moet doen om jou denke te vernuwe deur ‘n waarheidsjoernaal te hou. As jy meer oor wil weet oor hoe om ‘n waarheidsjoernaal te hou, kan jy HIER daaroor lees
STAP 5. HERHAAL STAP 1-4 ELKE DAG.
Hierdie vier stappe gaan jou help om te begin om jou denke te vernuwe.
Gebruik dit elke dag wanneer jy agterkom jy is besig om dinge te dink wat nie strook met God se Woord nie.
Fillippens 4:8 sê ons moet ons gedagtes rig op wat waar, eerbaar, reg, rein, lieflik en prysenswaardig is. Gebruik dan ook die vier stappe wanneer jy agterkom jy is nie besig om oor hierdie tipe dinge te dink nie.
Onthou, hierdie stappe gaan jou help om jou denke te vernuwe, maar dit gaan nie in ‘n oogwink gebeur nie. Jy sal dalk die eerste 4 stappe elke dag moet herhaal voor jy agterkom ‘n spesifieke gedagtepatroon het verander.
Maar moenie moed opgee nie. God is by jou om jou te help. Werk jy maar net saam met Hom om elke dag jou denke te vernuwe. Dís die manier om te verander sodat jy nie soos die wêreld leef nie, maar doen wat God van jou vra.
Hallo Risa,om jou denke te vernuwe is die beste pad na vrede en blydskap.
Ek dink baie van ons in my gemeente het nie geloofsekerheid nie,maar woon die dienste by en lees en bid verseker.
Het jy dalk al `n gespreksmodel/geloofsopsomming ontwikkel wat sulke mense kan help om sekerheid te kry??Maw vernuwe hulle denke omdat hulle die hart vd Evangelie nou verstaan.
Baie dankie,hoor graag.
Shalom
Frans
Hallo Frans. Ek het ongelukkig nog nie so iets nie, maar sal dit op my lysie sit om een of ander tyd ‘n artikel oor te skryf of ‘n gratis hulpmiddel vir die Bybel Biblioteek saam te stel. Dankie vir die idee!