GOD SE WIL IS GENESING

Die pyn skiet deur my tone en been, en ek byt hard op my tande om nie hardop te gil nie.

Al hinkepink sukkel ek terug bed toe.

Terug in die bed is ek heeltyd bewus van die kloppende pyn in my tone. Hulle is óf gebreek óf sleg verstuit. En dit beteken ek sal vir ‘n paar weke nie kan oefen nie.

Die volgende oggend staan ek op vir my gewone roetine – koffie en stiltetyd saam met die Here. Dis maar ‘n gesukkel om te loop, want die tone pyn. Een is bloedrooi en baie geswel, en dit lyk asof hy stadig maar seker besig is om ‘n nare blou-pers te word.

Met my koffie in die hand, Bybel op my skoot, sit ek vir ‘n paar minute in stilte, en in daardie oomblikke van stilte begin die Here my herinner aan al die verse oor genesing wat ek al so baie gehoor en gelees het.

God se wil is genesing

Verse soos die een in Eksodus 15:26, waar die Here Homself openbaar as die Een wat ons gesond maak.

Of die een in Jesaja 53:5 en 1 Petrus 2:24, waar daar staan ons genesing het gekom deur die wonde van ons Here Jesus.

Vers na vers kom in my gedagtes op, en herinner my daaraan dat Jesus reeds al my siektes gedra het. Dit beteken ek het nie nodig om ‘n paar weke kruppel te loop met ‘n gebreekte of verstuite toon nie, want ek is reeds genees! Al wat ek moet doen is om dit te glo en te ontvang.

En net daar, in geloof, neem ek die genesing wat Jesus reeds aan die kruis vir my voorsien het.

In geloof verklaar ek dat my toon nie weke gaan vat om gesond te word nie, want dit is reeds gesond. God is die Een wat my genees, en deur die wonde van Jesus is ek reeds genees!

Die volgende oggend is ek terug op my mat en doen ek Pilates asof niks gebeur het nie. My toon was nog geswel en blou, later weer rooi, maar na ‘n paar dae was dit ook weg en lyk hy weer nes altyd.

GLO GOD SE BELOFTES.

Weereens het die Woord gedoen wat God belowe het. Ek het geglo wat Hy in Sy Woord sê, en ek het daarop gereageer deur dit hardop uit te spreek en aan te hou oefen. Hierdie handelinge het my geloof vrygestel en ek is genees.

Miskien sukkel jy ook vandag met een of ander siekte. Dit kan iets klein wees soos ‘n verkoue, of iets baie groter, soos kanker.

My vriend en vriendin, as dit jý is, luister dan vandag baie mooi na my – dit is God se wil dat jy gesond word.

Oor en oor lees ons in die vier Evangelies dat mense na Jesus toe gekom het vir genesing. Nie een keer het Hy geweier en iemand weggestuur nie. Hy het nooit vir iemand vertel dat hulle nog ‘n rukkie die siekte moet dra en wag vir genesing nie. Hy het ook nooit vir iemand gesê dat die Vader hulle iets uit die siekte wou leer, en dat hulle dit maar moet verdra tot hulle die les geleer het nie.

Telkens lees ons in die Bybel dat Hy hulle almal genees het – dit is, elkeen wat in geloof na Hom toe gekom het.

GOD SE WIL IS GENESING.

Jy sien, dit is God se wil vir jou dat jy gesond word, maar jy moet glo dat Hy jou wil genees, en dan moet jy in geloof daarop reageer deur te verklaar wat jy glo of deur iets te doen wat jy nie voorheen kon nie. Of doen sommer altwee!

Jou geloof word vrygestel wanneer jy verklaar wat jy glo en daarvolgens handel. Dit sit, om dit so te stel, die Woord aan die werk.

En die Woord kom nooit onverrigter sake terugkeer nie. Dit doen altyd wat Hy gedoen wil hê en dit bring tot stand waarvoor Hy dit gestuur het (Jesaja 55:11).

Dit maak nie saak watter siekte jy het nie, jy hoef nie een sekonde langer daarmee saam te leef nie. Dit kom nie van God nie. Dit is nie Sy wil vir enigiemand om siek te wees nie. Hy het nie die siekte vir jou gegee nie. Dit is die vyand, die duiwel, wat kom om te steel, slag en uitroei. Jesus het gekom sodat ons lewe in oorvloed kan hê.

Aan die kruis het Hy betaal vir jou genesing. Neem dit in geloof en maak dit joune.

Vul jou gedagtes met die genesingsverse uit die Woord tot jy só oortuig, is dat dit God se wil is vir jou om genees te word en dat jy reeds genees is deur die wonde van Jesus.

Verklaar dit hardop. Verklaar dat jy genees is, en doen dan iets wat jy nie voorheen kon doen nie.

Die Woord wat jy glo en verklaar sal jou lewe verander en jy sal genesing in jou liggaam ervaar.

Kom na God toe. Hy is die Een wat jou genees, en Sy wil vir jou is genesing en gesondheid!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *