‘N VASTE OORTUIGING

Om te glo, is… om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1)

Het jy al daaroor gedink dat elkeen van die geloofshelde in Hebreërs 11 oortuig was van iets wat hulle nie kon sien nie?

Dink maar aan Noag.

In Genesis 6 lees ons hy was ‘n regverdige man en dat hy naby God geleef het. Sy lewe was dus heel anders as dié van die mense om hom.

Op ‘n dag sê God vir hom dat Hy besluit het om die aarde te verdelg, maar dat Hy met Noag en sy gesin ‘n verbond wil sluit. Hy gee vir Noag volle instruksies oor hoe om die ark, waarin hy en sy gesin en ‘n klomp diere moet ingaan voor die groot oorstromings kom, te bou.

Noag het geglo wat God vir hom sê, en die ark begin bou. Hy het geen fisiese bewyse gehad dat dit regtig so baie gaan reën dat hy ‘n boot nodig gaan hê om te oorleef nie. Hy het net God se woord gehad.

Maar vir hom was dit genoeg.

En dit het letterlik sy lewe, en ook die lewens van sy gesin, gered.

Dink ook aan Abraham.

God het vir hom gesê om sy land en mense te verlaat, en te gaan na ‘n land wat Hy hom sou wys. Abraham het God geglo, en gemaak soos Hy gesê het.

God het ook belowe om hom ‘n groot nasie te maak. As jy Abraham en Sara se storie ken, sal jy weet dat hulle nie kinders gehad het nie, en dat hulle tyd vir kinders lank reeds verby was. Maar Abraham het weereens vir God geglo. In Romeine 4:19-21 lees ons dat hy goed geweet het hy en sara was te oud om kinders te hê, maar dit het nie veroorsaak dat sy geloof verswak het nie. Hy het nie sy geloof gegrond op wat hy kon sien nie, maar op God en Sy beloftes. Vers 21 sê hy was ten volle oortuig dat God kon doen wat Hy belowe het om te doen.

Hy was dus oortuig van dinge wat hy nie kon sien nie, en Isak is vir hom en Sara as belofte-seun gebore.

Later vra God vir hom om Isak te offer, en weer sien ons Abraham se vaste geloof in God.

Hierdie keer lees ons hy was oortuig daarvan dat God Isak uit die dood kon opwek (Hebreërs 11:19). Ek twyfel baie sterk dat hy al ooit iemand uit die dood sien opstaan het, so hy het geen fisiese bewyse gehad dat God wél iemand uit die dood kon opwek nie. Maar hy het God se beloftes gehad. God het hom ‘n seun belowe, en Hy het ook belowe dat sy nageslag so baie soos die sterre aan die hemel sou wees (Genesis 15:4-5). Sonder ‘n seun is daar nie ‘n nageslag nie, dus was Abraham oortuig dat God sy seun vir hom uit die dood sou teruggee, nadat hy hom geoffer het.

Volgende kom ons by die Istaeliete, wat droogvoets deur die Rooisee getrek het.

Hulle het skaars uit Egipte getrek toe die Farao spyt kry oor sy besluit om hulle te laat gaan en hulle met sy manskappe agterna sit. By die Rooisee was hulle vasgekeer. Aan die een kant was die see, en aan die ander die Egiptiese leër. Maar die Here kom tot hulle redding. Hy laat ‘n sterk oostewind waai, wat die water wegdryf sodat dit oopgekloof is en die see op daar die plek drooggelê is. En die Israeliete trek die nag deur die see terwyl die water weerskante van hulle soos ‘n muur staan.

Kan jy jou indink wat se vertroue hulle moes gehad het in God se vermoë om die water in posisie te hou? Hulle het nog nooit voorheen so iets gesien of beleef nie, so hulle het geen bewyse gehad dat die water sou bly waar dit was nie. Hebreërs 11:29 sê egter vir ons hulle het geglo, en daarom het hulle droogvoets deur die Rooisee getrek, terwyl die Egiptiese leër verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

Elkeen van hierdie geloofshelde het God geglo. Hulle was seker van die dinge wat hulle gehoop het, en oortuig van die dinge wat hulle nie kon sien nie. (Net so terloops, Bybelse hoop is nie soos wanneer ons sê, “Ek hoop dit gaan môre ‘n mooi dag wees” nie. Bybelse hoop is om met volle vertroue te verwag dat iets goeds gaan gebeur.)

Ons moet soos hierdie geloofshelde wees.

Ons moet God glo wanneer Hy vir ons iets sê.

Ons moet Hom vertrou om Sy beloftes na te kom.

Selfs al het ons nie enige fisiese bewyse dat iets wel gaan gebeur nie, moet die feit dat God dit gesê het, vir ons genoeg wees.

Ons moet ons oë op Hom rig, en ten volle oortuig wees van die dinge wat ons nie kan sien nie, en met volle vertroue verwag dat elkeen van die goeie woorde wat Hy oor ons gespreek het, waar gaan word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *