WORD STIL EN LUISTER

God wil met jou praat, maar jy moet stil word en luister, anders gaan jy nie hoor wat Hy vir jou wil sê nie.

Word stil en luister

“Dit was nie maklik nie, en ons was al moeg, maar ons het…”

In die middel van my sin hou ek op praat, want ek kan sien sy luister nie.

Ek sien dit aan haar gesig en ook aan haar oë. Haar aandag is nie by ons gesprek nie; sy is besig met haar eie gedagtes.

LUISTER JY?

Ek het lankal geleer dat baie min mense regtig luister wanneer jy met hulle praat.

Baie keer is dit heel duidelik dat hulle nie luister nie, want die aandag is meer by die selfoon as by die persoon wat reg voor hulle is.

Ander kere is dit minder opsigtelik, maar jy kom dit tog agter wanneer die persoon met wie jy gesels ‘n antwoord gee wat nie by die onderwerp waaroor julle praat pas nie, of wanneer hulle net iets sê soos, “Mmm…” en dan aangaan met hulle eie storie.

En die ergste is, ons doen dit eintlik almal!

Hoewel dit my baie irriteer wanneer ek agterkom die persoon met wie ek praat, luister nie, is ek self skuldig daaraan dat ek nie altyd luister nie.

LUISTER ONS VIR GOD?

Nou die dag het dit weer gebeur dat iemand nie geluister het toe ek praat nie, en net toe ek daaroor begin vies word, dink ek aan God en hoe baie keer ons nie luister wanneer Hy praat nie.

Baie keer verkeer ons salig onder die indruk dat Hy nie regtig baie met ons praat nie – sommige dink selfs Hy praat glad nie met hulle nie – maar dit is ‘n leuen.

God is elke dag besig om op verskeie maniere met ons te praat. Hy praat met ons deur Sy Woord, en ook deur Sy Gees.

Die probleem is dat ons nie luister nie.

DIE BRANDENDE BOS.

Dit laat my dink aan die storie van Moses, in Eksodus 3.

Hy is besig om sy skoonpa se kleinvee op te pas. Hulle is diep in die woestyn, oppad na Horeb, die berg van God.

Dit is maar ‘n stadige proses, want elke nou en dan ontdek ‘n skaap ‘n klein stukkie groen wat deur die woestynsand groei, en gaan staan eers stil om dit op te vreet.

Moses moet gedurig agter hom kyk om seker te maak dat al die skape steeds besig is om hom te volg.

En dan gewaar hy daar in die verte ‘n lig. Hy het al baie keer hierdie selfde pad met die skape gestap, en daar was nog nooit ‘n lig op daardie plek nie. Hy wonder wat dit kan wees.

Hoe nader hy kom, hoe meer lyk dit vir hom of dit dalk ‘n bos kan wees wat aan die brand is.

Ja, sowaar, dit is presies wat dit is!

Maar dit is vreemd, want hy sien nou al hierdie brandende bos vir baie ver, en dit het nog nie uitgebrand nie.

GOD PRAAT MET MOSES.

Nou is Moses se nuuskierigheid eers geprikkel. “Wat ‘n wonderlike verskynsel! Die doringbos brand nie uit nie. Ek wonder hoekom? Ek gaan ‘n bietjie nader gaan om dit beter te bekyk.”

Toe die Here sien dat Moses naderkom, begin Hy met hom praat en gee hom die opdrag om die Israeliete uit Egipte te gaan bevry. (Jy kan hulle gesprek gaan lees in Eksodus 3:1-22.)

Wat dink jy sou gebeur het as Moses die brandende bos gesien het, gedink het dit is vreemd dat dit nie uitbrand nie, en verby geloop het?

Jy is reg, hy en God sou nie daardie gesprek gehad het nie.

Dalk sou God op ‘n ander stadium weer aan hom verskyn het, en weer sy aandag probeer kry het.

Maar die feit is, hy en God sou nie dáárdie dag hulle gesprek gehad het as hy nie gaan stilstaan het by die brandende bos nie.

GOD PRAAT ELKE DAG.

God is elke dag besig om met ons te praat deur Sy Woord en Gees. Hy is elke oomblik by ons om ons te lei en vir ons raad en wysheid te gee.

Maar ons moet luister voor ons gaan weet wat Hy vir ons sê.

Moses het opgehou waarmee hy besig was, en gaan stilstaan by die brandende bos.

Dit is wat ons ook moet doen.

Ons moet ophou waarmee ons besig is, en by God stil word sodat ons aandag net by Hom is, en ons kan luister wat Hy vir ons wil sê.

GOD PRAAT DEUR DIE WOORD.

Kom ek gee gou vir jou ‘n voorbeeld. Het jy al jou Bybel gelees, en skielik staan daar ‘n vers vir jou uit?

Jy het die stuk al menige kere gelees, maar dié keer is dit anders.

Dit is asof daardie vers van die bladsy af spring, of in ‘n donderder ink gedruk is, lig om het, of wat ookal.

Die punt is, die vers staan uit.

Jy lees dit weer, en dan gaan jou gedagtes na ‘n ander vers, wat daarby aansluit.

Jy gaan lees daardie vers.

En weer onthou jy nog ‘n vers wat ook daarby aansluit.

Elke vers wat jy lees gee jou ‘n duideliker blik op wat God vir jou wil sê.

Dit is asof die lig stadig deurbreek tot jy skielik die volle prentjie sien.

God het met jou deur Sy Woord en Gees gepraat.

Die Heilige Gees het die vers wat jy moes raaksien laat uitstaan, en toe het Hy jou gelei na al die ander verse en vir jou duidelik gemaak wat God vir jou wou sê.

LEES OOK: BYBELLEESPLANNE VIR JOU STILTETYD

AS ONS NIE LUISTER NIE.

Maar gestel nou dat jy anders opgetree het.

Toe die vers skielik uitstaan, het jy gedink, “Mmm, dit is interessant!” en verder gelees.

Jy het nooit by die spreekwoordelike brandende bos gaan stilstaan, sodat jy kon luister wat God vir jou sê nie.

In jou haas het jy die bos raakgesien, maar dit eintlik maar geïgnoreer.

WORD STIL EN LUISTER.

God het soveel dinge wat Hy graag vir ons wil sê en wil leer.

Hy wil dinge wat ons nie verstaan nie, vir ons duidelik maak.

Hy wil vir ons wysheid en insig gee.

Hy wil ons lei en ons raad gee.

Hy wil ons oortuig van Sy troue liefde vir ons.

Maar ons gaan niks hiervan weet as ons nie doen wat Moses gedoen het nie.

Hy het gaan stilstaan by die brandende bos, sy volle aandag daarby bepaal, en God het met hom gepraat.

Ons moet ook ophou waarmee ons besig is, gaan stilstaan, ons volle aandag by God bepaal, en luister wat Hy vir ons wil sê.

Mag jy vandag die brandende bosse op jou pad raaksien.

En as jy hulle sien, los alles waarmee jy besig is, sodat jy jou volle aandag aan God kan gee en luister wat Hy vir jou wil sê.

Hy sal jou nie teleur stel nie.

One thought on “WORD STIL EN LUISTER

  1. Lesego

    So clear thanks.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *