VYF GEESTELIKE DISSIPLINES VIR ELKE DAG

Het jy al agtergekom dat dit nie regtig moeilik is om vir jou liggaam te sorg nie? Jou maag vertel jou vinnig wanneer jy honger is, so jy weet wanneer jy nodig het om te eet. As jy moeg is, wil jou oë net toe, dus weet jy ook wanneer jy liewer nou moet gaan slaap. ‘n Mens kan sien (en soms voel!) as jy vuil is en ‘n bad nodig het. Die skaal, en jou klere wat te klein word, vertel jou jy moet oefen en beter eet. Omdat ‘n mens jou liggaam kan sien en voel, is dit sommer baie malklik om daarvoor te sorg.

‘n Mens se gees is egter ‘n ander storie. Jy kan nie jou gees sien en voel nie, en weet dus nie wanneer jy besig is om geestelik te verhonger en agteruit te gaan nie.

Vandag wil ek met jou vyf dissiplines deel, wat jy elke dag deel van jou program kan maak om te sorg dat jou gees altyd versorg is, die nodige geestelike voedsel kry, en van dag tot dag groei.

SPANDEER TYD SAAM MET GOD.

Om tyd saam met God te spandeer is die belangrikste en voordeligste ding wat jy met jou tyd kan doen. As jy kan, doen dit eerste ding in die oggend. Lees die Woord en spandeer tyd in gebed. Dit sal jou geestelik versterk en jou help om te fokus op wat belangrik is. Neem die besluit om dit elke dag te doen, maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie. Soms sal jy dalk bietjie vroeër moet opstaan of gaan slaap, maar dit is oor en oor die moeite werd. Tyd saam met die Here vul jou met vertroue in Hom en die geestelike krag om die probleme wat jy miskien deur die dag gaan teëkom, te oorkom.

Ek begin elke dag presies soos ek voorstel jy moet doen. Ek staan op, maak ‘n koppie koffie, en gaan na my studeerkamer, waar ek dan met die Here gesels, Sy Woord lees en na Hom luister. Ek moet erken dat dit al gebeur het dat ek, weens omstandighede, ‘n dag nie in die oggend tyd met die Here kon spandeer nie, en dan het ek gevind dat my dag sommer heeltemal deurmekaar was, en ek het die hele dag nie lekker gevoel in my hart nie. Vir my persoonlik, is dit die beste om eerste ding in die oggend tyd met die Here te spandeer.

vyf geestelike dissiplines vir elke dag

VOED JOU GEES.

In 2 Timotheus 4:13 lees ons dat Paulus vir Timotheus vra om sy boeke saam te bring wanneer hy kom. Hoewel hy die Here baie goed geken het en die geestelike beter verstaan het as meeste van ons, was dit steeds vir hom belangrik om sy gees te voed en te groei. Hy het dit gedoen deur die lees van sy boeke. Mense wat lees, is mense wat groei. Kies vir jou goeie boeke, veral boeke wat deur Christene geskryf is. Onthou, hulle verstaan dalk iets van God en Sy Woord wat jy nog nie so mooi begryp nie. En, deur die lees van hulle boeke, kan daar vir jou lig opgaan, en jy kan dit ook verstaan. Geestelike boeke voed ook jou gees en jou siel. En moenie bekommerd wees nie, jy hoef nie ure aaneen te lees nie. Net ‘n hoofstuk ‘n dag kan jou al klaar help om dieper te dink en een of ander geestelike konsep beter te verstaan.

As jy nie lief is vir lees nie, is daar ook ‘n oplossing! Kry vir jou geestelike oudio-boeke. Jy kan selfs luister na preke of CD’s wat jou ‘n geestelike les of waarheid leer. Ons het deesdae nie meer ‘n verskoning om nie tyd te spandeer om ons gees en siel te voed nie, want daar is soveel hulpmiddele wat ‘n mens gratis kan aflaai of aankoop om jou hiermee te help.

SPANDEER TYD IN STILTE.

Ons is elke dag so besig met verskeie dinge dat min mense regtig die tyd neem om, net vir ‘n rukkie, stil te wees met hulle eie gedagtes en om te luister na wat hulle hart vir hulle wil sê. ‘n Mens raak skoon uit voeling met jouself en weet naderhand nie meer wat jy glo, wat jy voel of wat jy nodig het nie.

‘n Mens het dus elke dag tyd nodig om na te dink en weer jouself te vind. Baie mense vind baat daarby om elke dag in ‘n joernaal te skryf. Dit hoef nie gekompliseerd of stram te wees nie. Dit kan so eenvoudig wees as om neer te skryf wat ookal in jou hart en gedagtes aangaan. Jy kan jou dag saam met God oordink en neerskryf waar jy Sy hand daardie dag in jou lewe gesien en ervaar het. Jy kan die dinge neerskryf waarvoor jy dankbaar is. Of jy kan jou gebede en die begeertes van jou hart neerskryf.

En as jy nie lief is vir skryf nie, is dit ook nie ‘n probleem nie. Jy kan iets doen soos om alleen te gaan stap en die stilte om jou indrink. Of jy kan voor die res van jou huismense opstaan, en ‘n paar minute in stilte spandeer en jou siel met God se vrede vul. Begin met so min as vyf minute, en voeg elke week ‘n minuut of twee by tot jy soveel tyd in stilte spandeer as wat jy nodig het.

SPANDEER TYD SAAM MET MENSE WAT JOU VERSTERK.

Almal van ons het mense nodig wat ons aanmoedig, ons aanspreeklik hou en sommer net daar is om ‘n klankbord te wees wanneer ons nodig het om ons harte teenoor iemand leeg te maak. Ons het mense nodig wat ons met Goddelike wysheid en raad kan bystaan, en ons kan aanspreek wanneer hulle sien ons is besig om die pad byster te raak. Vra die Here om jou te wys watter mense Hy in jou lewe geplaas het om hierdie rol te vervul, en spandeer dan elke dag op een of ander manier tyd met hulle. As dit nie moontlik is om mekaar vir ‘n rukkie te sien nie, stuur ‘n Whatsapp of ‘n e-pos of Skype met mekaar. Laat hierdie mense toe om in jou lewe in te spreek en jou te bemoedig en aan te moedig. En, as God jóú op hierdie manier in iemand se lewe wil gebruik, sorg dat jy tyd maak vir daardie persoon om in sy of haar lewe in te spreek en aanmoediging en bemoediging te gee waar nodig.

MAAK TYD OM DEUR DIE DAG GOD SE TEENWOORDIGHEID BY JOU TE ERKEN.

In Psalm 119:164 staan: “Ek loof U sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge” (O.V.). Sommige mense is goed geoefen daarin om heeltyd van die Here se teenwoordigheid in hulle dag bewus te wees, maar meeste van ons sukkel daarmee en vergeet maklik van Hom. Dit is dus ‘n goeie idee is om elke dag, deur die dag, tyd te maak om die Here se teenwoordigheid by jou te erken. Stel die alarm op jou selfoon om elke uur af te gaan. As jy die alarm hoor, word net ‘n rukkie stil en onthou dat die Here by jou is. Dank Hom dat Hy by jou is en jou help, en vra Sy hulp vir wat jy ookal die volgende uur moet doen. Dit sal jou heeltyd in verbinding hou met die Een wat jou liefhet.

geestelike dissiplines

Daar is niks in hierdie lewe wat belangriker is as jou verhouding met die Here nie. Neem sommer vandag nog die besluit om hierdie vyf geestelike dissiplines ‘n daaglikse deel van jou roetine te maak. Jy sal baie gou die verskil agterkom!

2 thoughts on “VYF GEESTELIKE DISSIPLINES VIR ELKE DAG

  1. Baie dankie vir hierdie 5 punte ons is reeds besig met ” Ons groeie saam. mag ek gebruik maak van van geskrewe stuk.

    • Risa Cronje

      Groot plesier!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *