Mense het verskeie reaksies op Jesus. Vir sommige is Hy hulle Here en Koning. Vir ander is Hy van minder belang. En jy? Wat is Jesus in jou lewe?
In Mattheus 2:1-12 lees ons die verhaal van die sterrekykers uit die ooste, wat ‘n ster sien opkom het en na Jerusalem gereis het om die Koning van die Jode te kom soek en aan Hom hulde te bewys.
In Jerusalem aangekom, doen hulle navraag oor die Koning. Toe koning Herodes daarvan te hore kom, is hy baie ontsteld. Hy doen dadelik by die skrifgeleerdes en priesterhoofde navraag oor hierdie Koning.
Hulle vertel vir hom dat die Koning in Betlehem gebore sou word. Herodes het hierdie inligting in die geheim met die sterrekykers gedeel, en hulle gevra om hom te kom sê waar die Kindjie is, sodat hy ook aan Hom hulde kan bewys.
God waarsku egter die sterrekykers om nie terug te gaan na Herodus toe nie, en hulle gaan met ‘n ompad huistoe. Toe Herodus agterkom die sterrykykers gaan nie terugkom nie, was hy baie kwaad. Hy stuur toe soldate na Betlehem en omgewing om al die seuntjies van twee jaar en jonger, dood te maak.
In hierdie verhaal lees ons verskillende mense se reaksies op die geboorte van Jesus.
DIE GODSDIENSTIGE LEIERS.
Die priesterhoofde en skrifgeleerdes het die profisieë oor die Messias geken. En tog is daar geen aanduiding dat hulle hoegenaamd belanggestel het om meer te weet oor die Koning waarvan die sterrekykers praat nie.
Dit lyk nie eens of hulle nuuskierigheid geprikkel word deur Herodes se navraag oor waar die Christus gebore sou word nie. Hulle ken die profesieë en hulle hoor die gerugte, maar dit is al. Niks verder word omtrent die saak gedoen nie.
Vandag tree baie mense steeds so op. Hulle weet van Jesus. Sommige het baie inligting oor Hom. Maar dit wat hulle weet beweeg hulle nie om Hom beter te wil leer ken nie. Dit raak nie hulle harte nie. Hulle weet daar is iemand met die naam Jesus, en dat die Christene in Hom glo, maar verder stel hulle nie juis belang nie.
Ook Christene kan hierdie reaksie hê. Diegene wat Jesus aanneem as Verlosser, en so nou en dan by die kerk uitkom, maar hulle nie verder veel aan Hom steur nie is deel van hierdie groep.
HERODES.
Herodes het weer ‘n ander reaksie. Hy raak paniekbevange, want ‘n nuwe Koning kan beteken dat hy op een of ander stadium sy heerskappy kwyt gaan wees. Hy doen dus wat enige magsbehepte in sy posisie sou doen – hy raak ontslae van die kompetisie.
Wel, hy probeer. Hy is egter nie daarvan bewus dat Josef en Maria lankal met die Kindjie Egipte toe gevlug het nie. Sy poging is dus vrugteloos. Al wat hy regkry is om ‘n klomp onskuldige kindertjies te vermoor.
Sommige mense tree soos Herodes op wanneer hulle met Jesus gekonfronteer word. Hulle wil so graag self koning kraai in hulle eie lewens dat dit hulle koud laat om te dink dat Iemand anders dalk die Koningskap moet oorneem. Hulle probeer alles in hulle vermoë om van die kompetisie ontslae te raak.
Ongelukkig tree selfs gelowiges soms so op. Ons gee Jesus toegang tot sekere dele van ons lewens, maar ander is verbode. Daar wil ons self op die troon sit. Daar is ons eie wil nog heeltemal te belangrik.
DIE STERREKYKERS.
En dan is daar die sterrekykers. In hulle eie land sien hulle skielik ‘n ster, wat nie voorheen daar was nie, in die hemelruim. Hoe hulle bepaal het dat die ster dui op die geboorte van ‘n koning weet ek nie, maar hulle reis na Jerusalem om die Koning te vind en aan Hom hulde te bewys.
Hulle doen navraag oor Hom, en volg dan die ster tot by die plek waar die Kindjie was. Hulle kniel voor Hom, gee vir Hom geskenke en bewys aan Hom hulde.
Gelukkig is daar steeds mense wat soos die sterrekykers optree. Hulle hoor van Jesus en word onmiddellik geraak. Dan wil hulle meer oor Hom weet. Hulle wil Hom leer ken. Hulle kniel voor Hom as Here en gee hulle lewens oor in Sy hande. En hulle plaas al hulle geloof in Hom, en word gered.
Wedergeboorte vind plaas, en nou is Jesus Koning ook in hulle lewens. Hulle aanbid Hom en dien Hom. Hulle volg Hom elke dag van hulle lewens, en die dag wat hulle sterf, maak hulle hulle oë oop in die hemel waar hulle vir altyd saam met Hom gaan woon.
LEES OOK: JESUS LEI JOU NA GOD SE PLAN VIR JOU LEWE
WAT DOEN JY MET JESUS?
Watter een van hierdie drie groepe beskryf jou?
Wat doen jy met Jesus in jou lewe?
Is Hy maar iewers in die agtergrond, maar jy steur jou net aan Hom wanneer jy Sy hulp nodig het?
Het jy nog die koningskap van jou lewe in jou eie hande? Is daar deure in jou hart wat jy stewig toegegrendel het, en waar Hy nie welkom is nie?
Of is Hy jou Here en jou Koning, die Een vir wie jy jou lewe sal gee as dit van jou gevra word? Is Hy die Een wat jy elke dag ‘n bietjie beter leer ken, die Een wat jy volg, wat jy aanbid en dien?
Wat is Jesus in jou lewe?
God is my koning vir wie ek my lewe sal gee om die waarheid te se ek sal sterf vir my Here. Ek wil God dien omdat ek God liefhet.