Het jy geweet ‘n mens kan jou finansies gebruik om in die ewigheid te belê? Net soos ‘n mens jou geld hier op aarde in verskillende fondse kan belê, kan jy ook jou geld in verskillende hemelse fondse belê.
In 1 Timotheus 6:18-19 lees ons: “Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.”
Jy sien, dit wat ons in die hemelse fondse belê, is iets wat ons vir altyd in die hemel gaan geniet. Dis dus ‘n baie goeie belegging om te maak!
‘N GEBALANSEERDE PORTFOLIO.
As jy ‘n finasiële adviseur gaan sien, sal hy vir jou sê jy moenie al jou bates in dieselfde fonds belê nie.
Om ‘n gebalanseerde portfolio te hê, moet jy in verskillende fondse belê.
God het ook vir ons verskillende fondse gegee wat ons kan gebruik om in die ewigheid te belê.
NOMMER 1: DIE GROEIFONDS.
Enige tyd wat jy jou finansies gebruik om in iets te belê wat jou karakter bou, is jy besig om in hierdie groeifonds te belê.
Onthou, ons is nie veronderstel om maar jaar in en jaar uit dieselfde mense te bly nie. Nee, God wil hê dat ons groei en meer soos Jesus word.
Die Bybel sê dit is die werk van die Heilige Gees om ons van binne af meer soos Jesus te maak, maar ons speel ook ‘n rol.
Wanneer jy byvoorbeeld ‘n Bybelstudie koop en deur dit werk, is jy besig om saam met die Heilige Gees te werk om jou karakter te vorm.
Die geld wat jy uitgegee het op die Bybelstudie, is die geld wat jy belê het in die groeifonds in die hemel.
Jy belê ook in die hemel wanneer jy jou geld gebruik om jou vaardighede te verbeter, sodat jy dit wat God jou gegee het om te doen, al hoe beter kan doen.
NOMMER 2: DIE MEDEGELOWIGE-FONDS.
Wanneer jy jou finansies gebruik om jou boeties en sussies in Christus op te bou of op een of ander manier te help, dan is jy besig om in hierdie fonds te belê.
In Romeine 12:13 staan: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”
Hoekom wil God he ons moet die geld wat Hy vir ons gee, gebruik om in ander gelowiges te belê?
In die eerste plek wys dit dat ons deel is van God se familie.
In die tweede plek bring ons nader aan mekaar en skep eenheid.
Laastens is dit ‘n getuienis teenoor ongelowiges, wat vir hulle die liefde wat daar tussen gelowiges is, wys.
NOMMER 3: DIE LIEFDADIGHEIDSFONDS.
Daar is soveel mense in hierdie wereld wat een of ander nood het. Baie keer kan daardie nood verlig word, deur die nodige finansies.
Wanneer jy van so ‘n persoon weet en jy gebruik jou geld om hom of haar te help, dan belê jy in hierdie fonds.
In Spreuke 11:24 lees ons: “Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word.”
Jy sien, hoe meer jy jou finansies gebruik om ander te help, hoe meer gaan God jou seën. Hoekom? Want Hy is baie vrygewig en gee altyd wat ons nodig het. Hy wil dan ook hê ons moet soos Hy word.
As God dus sien Hy kan jou vertrou met die finansies wat Hy jou gee – dat jy dit nie alles net vir jouself hou nie, maar ‘n kanaal is waardeur Hy vir ander ook kan gee – sal Hy vir jou meer gee, sodat jy op jou beurt weer het om meer vir ander te gee.
NOMMER 4: DIE EVANGELIE-FONDS.
Die vierde fonds waarin jy vir die ewigheid kan belê, is die Evangelie-fonds.
‘n Mens belê in hierdie fonds wanneer jy jou finansies gebruik om ander na Jesus toe te lei of hulle meer van Hom te leer.
Jy kan byvoorbeeld iemand wat sendingwerk doen finansieel ondersteun. Of jy kan ‘n bediening soos Nader In Eenvoud met jou finansies ondersteun.
Enige bediening of organisasie wat op een of ander manier die Woord van God uitdra na die wêreld daar buite, is ‘n plek waar jy jou finansies in die Evangelie-fonds kan belê.
NOMMER 5: DIE SKATTEFONDS.
Die laaste fonds waarin jy vir die ewigheid kan belê is die skattefonds. ‘n Mens belê in hierdie fonds wanneer jy jou finansies gebruik om God te aanbid.
Spreuke 3:9 leer ons: “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes…”
Wanneer jy die eerste 10% – of watter persentasie jy ookal op besluit – van die geld wat jy elke maand verdien, vir God gee, dan is jy besig om Hom te vereer en in hierdie fonds te belê.
Onthou, Jesus het in Mattheus 6:21 gesê waar jou skat ookal is, daar is jou hart ook. So maak seker jou skatte is op die regte plek!
BELê IN JOU HEMELSE TOEKOMS.
Niks wat ons op aarde bymekaarmaak – geld, besittings, ensovoorts – gaan eendag saam met ons hemel toe nie.
Maar ons kan ons finansies gebruik om hier op aarde ‘n verskil te maak deur in hierdie verskillende fondse te belê.
En in die proses help ons nie net andere nie, maar ons belê ook in ons hemelse toekoms!