8 WENKE VIR BYBELSTUDIE

Tyd in die Woord is een van die belangrikste dinge wat jy mee kan besig wees. Hierdie wenke vir Bybelstudie sal jou help om meer te kry uit jou tyd in die Woord.

8 Wenke vir Bybelstudie

As jy al ‘n rukkie deel is van ons aanlyn-gemeenskap, sal jy weet dat ek baie skryf oor die Bybel en hoe om Bybelstudie te doen.

Vandag wil ek met jou 8 wenke vir Bybelstudie deel, wat ek vertrou jou gaan help met jou tyd in die Woord.

BEGIN MET GEBED.

Die Vader het in Sy groot liefde die Heilige Gees vir ons gegee om ons te leer.

Hy maak ons oë oop vir die waarheid in die Woord en Hy help ons om dit te verstaan.

Begin dus altyd met gebed.

Vra Hom om jou te leer en te lei terwyl jy besig is.

Jy sal sien dat Hy jou soms gaan leer uit die gedeelte wat jy bestudeer, sonder enige bykomende verse.

Ander kere gaan Hy jou lei na ander verse, wat jou gaan help om die gedeelte waarmee jy besig is, beter te verstaan.

NEEM NOTAS.

Baie jare gelede het ek hierdie wenk gekry en begin toepas. Dit was seker een van beste wenke vir Bybelstudie wat ek nog ooit gekry het!

Skaf vir jou ‘n notaboek aan en skryf neer wat die Here jou leer.

As die Heilige Gees jou na ander verse toe lei, skryf hulle ook neer.

Maak tyd om so nou en dan van jou ou notaboeke weer deur te gaan. So herinner jy jouself aan wat die Here jou al voorheen geleer het.

Jy sal ook verbaas wees om te sien hoeveel Hy jou intussen oor ‘n onderwerp geleer het!

LEES STADIG.

Omdat ek baie lees, lees ek ook baie vinnig. Dit kan nogal ‘n probleem skep wanneer ek met die Bybel besig is.

Dis maklik om so vinnig deur ‘n gedeelte te lees, veral as dit bekend is, dat ‘n mens skaars die woorde raaksien.

Leer die gewoonte aan om stadig te lees. As jy kan, lees die gedeelte een of twee keer hardop.

‘n Mens sien baie meer raak, en dinge staan ook makliker uit, wanneer jy stadig lees.

GEBRUIK MEER AS EEN VERTALING.

Om meer as een vertaling te gebruik, was ook ‘n goeie wenk wat ek gekry het.

Ek is in ‘n Engelse kerk, en lees dus uit die Engelse Bybel. Omdat daar baie Engelse vertalings is, is dit nie vir my ‘n probleem nie.

In Afrikaans het ons egter nie so baie vertalings nie. Maar, as jy nie ‘n probleem het met Engels nie, kry vir jou ‘n Engelse vertaling ook.

Ek het al agtergekom dat die Ou Afrikaans Vertaling en van die Engelse vertalings nogal ooreenstem.

Die verskillende vertalings stel dinge op verskillende maniere, wat ‘n mens nuwe insig kan gee.

VRA VRAE.

As jy al een van ons Bybelleesplanne afgelaai het, sal jy weet daar is drie vrae aan die einde van elke leesplan:

Woord, frases of verse wat vir my uitstaan…

Wat God vir my sê…

Hoe kan ek wat ek geleer het, in my lewe toepas?

Gebruik hierdie vrae in jou stiltetyd om jou te help om die teks te oordink.

As jy egter ‘n meer in diepte studie wil doen, vra dan die volgende vrae:

Wat is die hoofonderwerp van die gedeelte?

Wie is die persone van wie hier gepraat word? Wie is aan die woord? Van wie praat hy? Met wie praat hy?

Wat is die sleutelvers van die gedeelte?

Wat leer die gedeelte my oor Jesus?

Word daar sonde uitgebeeld in die gedeelte wat ek in my eie lewe raaksien, wat ek moet bely en versaak?

Is daar ‘n opdrag in die gedeelte wat ek moet gehoorsaam?

Is daar ‘n belofte van God wat ek vir myself kan toeëien?

Is daar ‘n instruksie wat ek moet volg?

Onthou dat jy tien teen een nie elke keer al die vrae uit ‘n gedeelte sal kan antwoord nie.

LEES OOK: BYBELLEESPLANNE VIR JOU STILTETYD

DOEN ‘N WOORDSTUDIE.

Het jy al agtergekom dat ‘n mens partykeer dink jy weet wat ‘n woord beteken, net om agter te kom jy is verkeerd?

Wanneer ‘n mens ‘n woord verkeerd verstaan, veral wanneer jy die Bybel lees, kan dit groot verwarring veroorsaak.

Kry vir jou ‘n goeie verklarende woordeboek en hou dit byderhand. As jy ‘n woord lees en jy wonder of jy regtig weet wat dit beteken, slaan dit na.

Daar is ook aanlyn allerhande hulpmiddele soos die Strong’s Concordance, waar jy kan leer oor ‘n woord in Hebreeus of Grieks. Kliek hier as jy dit sou wou gebruik.

LAAT DIE BYBEL DIE BYBEL INTERPRETEER.

Mense maak foute. Selfs die persoon met die meeste geleerdheid kan steeds ‘n fout maak.

Maar die Bybel maak nie foute nie.

‘n Goeie wenk om in gedagte te hou, is om die Bybel toe te laat om die Bybel te interpreteer.

Kom ek gee ‘n voorbeeld.

Iemand het nou die dag, na aanleiding van Mattheus 6:19-21, vir my gevra hoe ‘n mens vir jouself skatte in die hemel bymekaar maak.

Lukas se weergawe van hierdie gedeelte (Lukas 12) gee vir ons meer insig: “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.”

‘n Mens maak dus skatte bymekaar deur ander te help en te gee wanneer mense in nood is.

Ons het die Bybel toegelaat om die Bybel te interpreteer.

DEEL MET ANDER WAT JY GELEER HET.

Daar is verskeie maniere om dít wat die Here jou leer, in jou hart te bêre.

‘n Goeie manier is om met ander te deel wat jy geleer het.

Wanneer jy daaroor praat, dink jy weer daaroor. Hoe meer jy daaroor dink, hoe dieper gaan lê dit in jou hart.

Dit help jou ook om te sien of jy regtig verstaan wat jy geleer het.

As jy dit nog nie mooi verstaan nie, gaan jy sukkel om dit met iemand anders te deel.

As jy agterkom jy verstaan nog nie, spandeer nóg tyd met die gedeelte. Onthou ook om die Heilige Gees se hulp te vra!

WAARDE VAN DIE WOORD.

Die Here se Woord is gevul met waarhede wat ons in ons lewens nodig het.

Tyd in die Woord is nooit gemorste tyd nie.

Dit voed ons gees, leer ons waarheid, wys ons waar ons verkeerd is, bestry dwaling en kweek ‘n regte lewenswyse.

Mag hierdie 8 wenke vir Bybelstudie jou help met jou tyd in die Woord!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *