In Efesiërs 6 lees ons van die wapenrusting van God. Die gedeelte begin deur vir ons te sê ons moet ons sterkte in die Here en Sy krag kry. Dan moedig dit ons aan om God se volle wapenrusting aan te trek.
Hierdie is ‘n geestelike wapenrusting, want ons stryd is nie teen mense, teen vlees en bloed nie. Nee, ons stryd is teen die bose, teen die duiwel en sy trawante. Daarom het ons ‘n geestelike wapenrusting nodig.
Maar ons het ook geestelike wapens nodig. In 2 Korinthiërs 10:4 lees ons dat die geestelike wapens wat God ons gee kragtig is. Dit breek sterk vestings af en dit vernietig redenasies en skanse wat teen die kennis van God opgerig word.
Nou wonder jy dalk wat ís hierdie wapens wat God vir ons gee.
Daar is sommer ‘n hele paar. Die Woord van God is een van dié wapens. Gebed is nog een. Dan is daar ook die Naam en die bloed van Jesus.
Ons gesels hier op Nader In Eenvoud gereeld oor die Woord van God en oor gebed, so ons sal op ‘n ander keer weer meer daarna kyk. Maar vandag gaan ons kyk na die derde wapen op die lysie hierbo – die Naam van Jesus.
Kom ons kyk wat ons uit verskillende teksverse uit die Bybel oor hierdie wonderlike Naam kan leer.

FILIPPENSE 2:9-10.
Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde…
DIE NAAM BO ELKE NAAM.
In die verse hierbo sien ons dat Jesus se Naam bo elke ander naam is. Sy Naam is so vol mag en krag dat, wanneer ons dit met geloof in ons harte sê, elke knie daarvoor moet buig.
En kyk mooi, dis nie net elke knie hier op aarde nie. Dis elke knie in die hemel, op die aarde, en ook onder die aarde!
EFESIëRS 1:18-23.
…en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien… wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.
DIE HOOGSTE EN MAGTIGSTE NAAM.
Ons het net nou die dag Kersfees gevier, toe ons onthou het dat Jesus as baba op aarde gebore is.
En net ‘n week gelede het ons Paasfees 2023 gevier. Toe het ons gedink aan Jesus wat vir ons aan die kruis gesterf het.
Nadat Hy gesterf het, het Hy neergedaal na die onderste dele van die aarde (Efesiërs 4:9, OAV). Bybelkenners meen dit beteken die hel. Op die derde dag het Jesus weer opgestaan uit die dood en later opgevaar na die hemel, waar Hy nou sit aan die regterhand van die Vader.
As jy mooi daaroor dink dan het Jesus oral alles met Homself gevul.
Die verse hierbo sê Jesus is bo elke owerheid, gesag, mag en heerser. En weer sien ons dat Sy Naam bo elke ander naam is wat genoem kan word.
Sy Naam is dus die hoogste, die kragtigste en magtigste Naam wat daar is.
HANDELINGE 4:7-12.
Hulle het Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, as ons vandag verhoor word oor ‘n goeie daad aan ‘n siek man waardeur hy gesond geword het, moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. Hy is ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, en die hoeksteen geword het.’ Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”
VERLOSSING DEUR DIE NAAM VAN JESUS.
In die gedeelte hierbo leer ons nog iets oor die Naam van Jesus.
Sy Naam is die enigste naam wat aan ons as mense gegee is, waardeur ons verlos kan word.
Dit maak nie saak wat dit is wat ons gevange hou nie, daar is verlossing in die Naam van Jesus.
As iemand verlos moet word van sonde, die dood en die invloed en mag wat die bose oor hom het, dan is Jesus die oplossing. Hy is die enigste Verlosser wat ons daarvan kan verlos.
Iemand wat vasgevang word deur een of ander emosionele probleem, moet ook na Jesus toe gaan. In Sy Naam is daar verlossing ook vir hierdie dinge.
En wat van diegene wat ‘n fisies probleem het? Ook hulle kan verlossing vind in Jesus en Sy Naam.
Jy sien, Jesus bring verlossing op elke gebied van die lewe – in jou gees, in jou siel en ook in die fisiese gebiede van die lewe.
HANDELINGE 3:1-6.
Op die negende uur, die uur van gebed, was Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad. ‘n Man, verlam van sy geboorte af, is daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort bekend as Mooipoort, om by die mense wat die tempelterrein binnegaan, om ‘n aalmoes te vra. Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempelterrein binne te gaan, het hy gevra om ‘n aalmoes te ontvang. Petrus, vergesel van Johannes, het stip na hom gekyk en gesê: “Kyk na ons!” Hy het toe na hulle gekyk in die verwagting om iets van hulle te ontvang. Maar Petrus het gesê: “Silwer en goud het ek nie, maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”
KRAG IN DIE NAAM.
Ons het nou in meer as een vers gesien dat daar krag in die Naam van Jesus is.
In die gedeelte hierbo in Handelinge, sien ons daardie krag in werking.
Petrus en Johannes sien ‘n verlamde man wat by die tempel sit en bedel. Maar in plaas daarvan om vir hom ‘n geldjie te gee, soos hy sekerlik verwag het, doen hulle iets wat hy beslis nie verwag het nie.
Petrus gebruik die Naam van Jesus en die krag en mag wat daarin is maak die man gesond en hy kan loop.
Dít, en nog baie meer, is wat die Naam van Jesus kan doen wanneer ons dit in geloof gebruik.
DIE NAAM – JOU GEESTELIKE WAPEN.
Hierdie is maar ‘n paar dinge wat ons uit die Bybel leer oor die Naam van Jesus.
Sy Naam is een van die kragtigste en magtigste wapens wat God die Vader vir ons gegee het.
Daarmee kan ons onsself verdedig en die koninkryk van die duisternis aanval.
Onthou, ons hoop is nie in onsself nie. Ons hoop is in Jesus – in Sy Woord, Sy Naam en Sy bloed!
Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.
