HULP VIR JOU GEBEDSLEWE

‘n Mens se gebedslewe is een van die belangrikste aspekte van jou geestelike lewe. Hier is ‘n paar dinge wat jou kan help wanneer jy bid.

‘n Ryk man het besluit om vir sy seun ‘n jaarlikse toelaag te gee. Hy het die seun belowe dat hy elke jaar, op presies dieselfde dag, die volle bedrag vir hom sou gee.

Die seun was baie bly daaroor en het sy pa se aanbod aanvaar.

Aan die begin het die seun gereeld vir sy pa gaan kuier. Maar met verloop van tyd het die besoeke al hoe minder geword, totdat die pa hom net op dié dae gesien het, wat hy sy toelaag moes kom haal.

Toe besluit die pa dat hy dinge gaan verander. Hy het sy seun laat kom en vir hom gesê dat hy van daardie dag af nie ‘n jaarlikse toelaag sou kry nie, maar wel ‘n daaglikse een.

Jy kan dink wat gebeur het. In plaas daarvan dat die pa die seun toe net een keer ‘n jaar gesien het, het hy hom elke dag gesien!

Hulp vir jou gebedslewe

GEBED IN ONS LEWENS.

Die storietjie hierbo laat my dink aan hoe ons soms gebed hanteer.

In plaas daarvan om elke dag tyd met God in gebed te spandeer, maak ons soos die seun. Ons bid net wanneer ons iets nodig het. Maar wanneer dinge rooskleurig lyk en dit lyk asof ons nie vir God nodig het nie, dan bid ons nie regtig nie.

DIE GEWOONTE OM TE BID.

Ons is hierdie maand besig om te gesels oor 5 minute-gewoontes wat jy kan aanleer, wat jou lewe gaan verander. Een van dié gewoontes, is gebed.

Jy sien, dis moontlik om jouself te leer om gereeld te bid. Jy moet net begin om dit elke dag te doen, al is dit aan die begin net vir 5 minute ‘n dag.

Iemand skryf dat dit makliker word om biddend te leef as ‘n mens gereeld tyd met die Here spandeer deur Bybel te lees en te bid.

Wanneer jy jou Bybel lees, hoor jy wat God vir jou daardeur sê. En jy oefen om met Hom te praat wanneer jy in gebed reageer op wat jy gehoor het.

Hoe meer jy tyd saam met God op hierdie manier spandeer, hoe meer gaan jy agterkom dat jy sommer so, deur die dag, met Hom begin gesels.

Om jou te help om die gewoonte aan te leer om tyd met God in gebed te spandeer, het ek van die hulpmiddele wat jy op Nader In Eenvoud kan kry, in hierdie artikel bymekaar gesit. Elkeen van dié hulpmiddele gaan jou help met jou gebedslewe.

‘N GIDS OOR GEBED.

As jy vrae het oor gebed, dan gaan die ‘Gebedsgids: Wat Elke Gelowige Moet Weet’, jou beslis help.

In dié artikel kyk ons na waarom ons moet bid, tot wie ons moet bid, wanneer ons moet bid, ensovoorts.

Daar is ook ‘n gratis 50 Dae Van Gebed Hulpmiddel wat jy kan aflaai. Gebruik dit om jou te help om elke dag vir 5 minute te bid, sodat jy die gewoonte kan aanleer om te bid.

Wil jy meer leer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het? Dan is die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie net waarna jy soek. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

GEBRUIK DIE BYBEL WANNEER JY BID.

Soms gebeur dit dat ‘n mens nie woorde het wanneer jy wil bid nie. Dit kan wees omdat jou hart so seer is, dat jy nie weet hoe om jouself uit te druk nie. Of dalk lyk jou probleem vir jou so groot, dat jy net nie weet wat om te sê nie.

Gelukkig hoef dit nie ‘n probleem te wees nie.

Jy sien, die Bybel en gebed loop hand aan hand wanneer jy nie woorde het om te bid nie.

In hierdie artikel gesels ons ‘n bietjie oor hoe ‘n mens te werk gaan om die Bybel te gebruik wanneer jy bid.

HULPMIDDELE VIR JOU GEBEDE.

Nog ‘n manier wat jy kan gebruik om jou te help om te bid, is om iemand anders se gebede te gebruik.

Daar is heelwat gebede in die Bybel opgeteken, wat jy kan gebruik. Daar is ook boeke met gebede beskikbaar, wat jy ook kan gebruik.

In die Bybel Biblioteek, dis die plek hier by Nader In Eenvoud waar jy gratis hulpmiddele vir jou stiltetyd kan kry, is daar byvoorbeeld ‘n ‘Vyf Dae Van Gebed Vir Finansies’-hulpmiddel beskikbaar. Daar is ook een wat jou help om vir jou kinders te bid. En daar is een vir wanneer jy gebed vir jou huwelik nodig het.

Vul net jou inligting hieronder in, en jy sal toegang tot die Bybel Biblioteek kry.

OM GOD SE WIL TE BID.

In 1 Johannes 5:14 staan daar: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.”

Ek weet nie van jou nie, maar dis vir my wonderlik om te weet dat God ons gebede verhoor wanneer ons iets volgens Sy wil vra.

Die vraag is nou net, hoe weet ‘n mens hoe om God se wil te bid?

In hierdie video kyk ons daarna.

MAKLIKER AS WAT JY DINK.

Dis eintlik baie makliker as wat ‘n mens dink om die gewoonte aan te leer om elke dag te bid. Jy moet net die besluit neem dat jy graag elke dag wil bid. Dan moet jy elke dag tyd opsy sit om te bid. En, as jy hulp nodig het, moet jy bereid wees om hulp te vra of om ‘n hulpmiddel te gebruik.

Onthou, hoe meer jy tyd saam met God in gebed spandeer, hoe meer gaan jy agterkom dat jy in die gewoonte kom om deur die dag ook met Hom te gesels.

En dít gaan verseker jou gebedslewe en ook jou lewe verander!

One thought on “HULP VIR JOU GEBEDSLEWE

  1. Dolf Joubert

    Risa,
    Baie dankie vir hierdie nuusbrief in die besonder! Ek geniet elke nuusbrief, maar hierdie nuusbrief in die besonder het ek bitter nodig omdat my gebed elke dag amper dieselfde is. Ek is dankbaar vir die raad, die video en die biblioteek artikels wat jy voorstel.
    Dankie en groete.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *