JESUS SE HEMELVAART

Ons lees in die Bybel dat Jesus 40 dae na Hy uit die dood opgestaan het, na die hemel toe opgevaar het. Daar sit Hy aan die regterhand van God die Vader vanwaar Hy dan ook vir ons as God se kinders, intree.

Later hierdie week, as jy dié artikel lees wanneer dit geplaas word, vier ons hierdie wonderlike gebeurtenis. Om ons harte daarvoor voor te berei, het ek ‘n klompie verse bymekaar gesit oor Jesus se hemelvaart.

In sommige van dié verse praat Jesus self, en voorspel Hy dat dit gaan gebeur.

Ander verse vertel vir ons wat gebeur het toe Hy na die hemel opgevaar het.

En dan is daar verse uit die briewe wat deur Paulus en Petrus aan die vroeë kerk geskryf is, waar ons ook lees van Jesus se hemelvaart en dat Hy aan die regterhand van die Vader sit.

Jesus se hemelvaart

JESUS VOORSPEL SY HEMELVAART.

In die volgende verse uit die Evangelie volgens Johannes, lees ons hoe Jesus voorspel dat Hy teruggaan na die Vader toe, met ander woorde, na die hemel gaan opvaar.

JOHANNES 6:62.

Wat dan as julle die Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was?

JOHANNES 7:33.

Daarop het Jesus gesê: “Nog net ‘n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het.”

JOHANNES 14:2.

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei.

JOHANNES 14:12.

Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan.

JOHANNES 16:28.

Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.

JOHANNES 20:17.

Jesus sê vir haar: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.'”

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

JESUS VAAR OP NA DIE HEMEL.

Ons lees van Jesus se hemelvaart in twee van die Evangelies. Dis interessant dat Johannes, wat aanhoudend geskryf het hoe Jesus Sy hemelvaart voorspel, nie die gebeurtenis in sy weergawe van die evangelie beskryf nie.

Lukas, daarenteen, skryf daaroor in sy weergawe van die evangelie asook in Handelinge, die ander boek wat hy geskryf het.

MARKUS 16:19.

Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit.

LUKAS 24:50-51.

Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem.

HANDELINGE 1:9-11.

Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het.”

NOG VERSE OOR JESUS SE HEMELVAART.

Ons lees ook van Jesus se hemelvaart in van die ander boeke van die Nuwe Testament.

HANDELINGE 2:33.

Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor.

ROMEINE 8:34.

Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.

EFESIëRS 1:20-21.

…wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige.

EFESIëRS 4:7-8.

Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.”

1 TIMOTHEUS 3:16.

En die geheimenis van die ware godvresendheid is sonder twyfel groot: Hy is geopenbaar in ‘n menslike liggaam, regverdig bewys deur die Gees, gesien deur die engele,verkondig onder die nasies, geglo in die wêreld, opgeneem in heerlikheid.

HEBREëRS 10:11-12.

Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit.

1 PETRUS 3:22.

Hy wat aan die regterhand van God is, nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is.

JESUS GAAN WEER TERUGKOM.

In hierdie artikel het ons nou net gefokus op verse wat vir ons vertel dat Jesus opgevaar het na die hemel en aan die regterhand van God die Vader sit.

Maar daar is menigte verse in die Bybel wat vir ons sê dat Hy ook weer gaan terugkom.

Op die tyd wat deur die Vader bepaal is, gaan Hy weer terugkom, soos daar in Openbaring 1:7 staan: “7Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!”

Ons kan dus met verwagting uitsien na Jesus se tweede koms, wanneer alles finaal gaan verander en ons vir ewig saam met Hom in die huis van die Vader gaan woon!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *