MEER VAN DIE BYBEL IN JOU LEWE

Het jy geweet daar is verskeie maniere wat jy kan gebruik om meer van die Bybel in jou lewe te hê?

As dit jou doelwit is om hierdie jaar meer tyd in God se Woord te spandeer, dan gaan die idees in hierdie artikel jou beslis help.

Sommige gaan jy alleen kan doen. Ander dalk saam met iemand anders. Party gaan ‘n langer tyd neem terwyl ander dalk net ‘n paar minute gaan vat. Maar hoe dit ookal sy, daar is ‘n hele klomp verskillende dinge wat jy kan doen om in 2023 meer van die Bybel in jou lewe te hê.

Hoe om meer van die Bybel in jou lewe te hê

HOOR DIT.

In antieke tye het die Bybel bestaan uit verskillende boekrolle wat met die hand oorgeskryf is. Jy kan jou indink dat dit ‘n tydsame werk was om so ‘n boekrol oor te skryf. Daar was dus nie honderde van hulle in omloop nie.

Die gevolg was dat die gewone mens nie ‘n Bybel besit het, wat hy self in die gemak van sy eie huis kon lees nie.

As hy wou weet wat in die Bybel staan, dan moes hy na die sinagoge gaan waar dit voorgelees is en oor gepreek is.

Mense in antieke tye het dus na die Bybel geluister, eerder as om dit te lees.

Vandag is ons in die bevoorregte posisie dat daar verskeie maniere is waarop ons na die Bybel kan luister. Hier is ‘n paar idees.

WOON EREDIENSTE BY.

Maak dit ‘n prioriteit om Sondae kerk toe te gaan. Tydens ‘n erediens het jy die geleentheid om te hoor wanneer iemand uit die Bybel lees. Jy het ook die geleentheid om na ‘n preek te luister, wat jou meer gaan leer oor die gedeelte wat gelees is.

LUISTER NA ‘N OUDIO-BYBEL.

Daar is sommer heelwat ‘apps’ wat jy kan gebruik om na die Bybel te luister. Hoewel daar nie so baie in Afrikaans beskikbaar is nie, kan ‘n Engelse een ook werk.

Luister daarna wanneer jy werk toe ry, oefen, of in die aand voor jy gaan slaap.

HOU HUISGODSDIENS.

Vroeër jare het gesinne gewoonlik na aandete eers saam die Bybel gelees en gebid. Ongelukkig doen min mense dit deesdae.

Maar dis een manier wat jy kan gebruik om na die Bybel te luister.

Maak dus weer ‘n punt daarvan om saam as gesin die Bybel te lees. Julle kan dit in die oggend doen, voor almal hulle dag begin. Of julle kan dit in die aand doen, voor die gesin gaan slaap.

LEES DIT.

Vandat mense self Bybels kon besit, het gelowiges in die gewoonte gekom om gereeld hulle Bybels te lees sodat hulle geestelik kan groei.

Gebruik hierdie idees om jou te help om meer tyd daaraan te spandeer om God se Woord te lees.

GEBRUIK ‘N BYBELLEESPLAN.

Sommige gelowiges is skrikkerig om die Bybel te lees omdat hulle nie weet waar hulle moet lees nie.

In sulke gevalle is ‘n Bybelleesplan ideaal.

‘n Bybelleesplan sê eenvoudig vir jou wat jy op ‘n bepaalde dag moet lees. Jy hoef dus nie rond te blaai en te soek na ‘n plek om te lees nie.

Daar is sommer baie Bybelleesplanne beskikbaar. Hier by Nader In Eenvoud het ons 21-dae leesplanne oor verskillende onderwerpe. Daar is ook ‘n leesplan wat jy kan gebruik as jy die Bybel in ‘n jaar of in drie jaar wil deurlees. En daar is een wat jy kan gebruik om die Bybel kronologies deur te lees.

Kry dus vir jou ‘n Bybelleesplan en begin dit gebruik om gereeld jou Bybel te lees.

LEES LANGER GEDEELTES UIT DIE BYBEL.

Mense is besig en dit veroorsaak dat ons soms net kort gedeeltes uit die Bybel lees. Maar dan mis ons partykeer heeltemal waaroor die gedeelte nou eintlik gaan.

Dis dus ‘n goeie idee om tyd opsy te sit waar jy langer gedeeltes kan lees.

Kies een van die boeke uit die Ou Testament en lees ‘n hoofstuk of twee op ‘n slag.

Of kies een van die briewe in die Nuwe Testament en lees die hele brief op een slag.

Jy kan ook só ‘n brief vir ‘n hele week, of sommer ‘n hele maand, weer en weer lees. Dit sal jou help om presies te sien wat God in die gedeelte vir ons wil sê.

STUDEER DIT.

Iemand het gesê om die Bybel te lees gee die gelowige ‘n breë oorsig van wat God sê, maar om die Bybel te studeer, gee diepte.

Jy sien, wanneer ‘n mens Bybelstudie doen, delf jy dieper om jou te help om die skrifgedeelte te verstaan. Jy kyk na dinge soos agtergrond, kultuur, geskiedenis, ensovoorts. Al hierdie dinge beïnvloed hoe ‘n gedeelte uit die Bybel geïnterpreteer moet word.

Hier is ‘n paar dinge wat jy kan doen om jou te help met Bybelstudie.

KRY ‘N GOEIE STUDIEBYBEL.

‘n Studiebybel is ideaal wanneer jy ernstig is oor Bybelstudie. ‘n Goeie een het gewoonlik allerhande ingeboude hulpmiddele, wat jou gaan help om die Bybel te studeer.

Ek het ‘n Engelse een, wat ‘n argeologiese Studiebybel is en wat meer agtergrond daaroor gee. Ek het ook Die Bybel In Praktyk, wat meer ‘n verklarende Studiebybel is.

Studiebybels is ongelukkig gewoonlik nogal duur. Maar gelukkig is daar ook sulke hulpmiddele gratis op die internet beskikbaar – Blue Letter Bible ; Bible Study Tools; Bible Hub.

SLUIT AAN BY ‘N BYBELSTUDIE-GROEP.

As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, is ‘n Bybelstudie-groep dalk net die ding vir jou.

In so ‘n groep gaan jy leer hoe om self Bybelstudie te doen. Jy gaan ook die geleentheid hê om by ander gelowiges, wat dalk meer oor die Bybel weet as jy, te leer.

En as daar nie ‘n Bybelstudie-groep by jou gemeente is nie, sluit dan by ‘n ander gemeente s’n aan. Ons is tog almal boeties en sussies in Christus, maak nie saak aan watter gemeente ons behoort nie!

Is jy op soek na ‘n Bybelstudie om hierdie jaar te doen? Kyk dan gerus na die Bybelstudie oor Jesus se gelykenisse. Dit gaan jou nie net meer oor Sy gelykenisse leer nie, maar ook hoe om self Bybelstudie te doen.

MEMORISEER DIT.

Almal van ons het seker, toe ons kinders was, verse by die Sondagskool of Kinderkrans gememoriseer. Dit was maar iets wat jy gedoen het omdat jy aangesê is om dit te doen. Maar wat meeste van ons nie geweet het nie, is dat daar, soos die Engelse sê, ‘method in the madness’ was!

Jy sien, die Heilige Gees kan verse wat ons gememoriseer het gebruik om ons te herinner aan iets wat God vir ons daardeur sê wanneer ons dit die nodigste het. Dink maar aan die keer toe die duiwel vir Jesus versoek het. Keer op keer lees ons dat Jesus hom antwoord: “Daar staan geskryf…” Jesus het geweet wat staan die Woord. En die Heilige Gees het vir Hom die regte woorde uit die Woord gegee om die duiwel se aanvalle mee af te weer.

Dis dus ‘n goeie idee om steeds Bybelverse, of sommer dalk hele gedeeltes uit die Bybel, te memoriseer. Jy kan ‘n vers wat jy wil leer oor en oor herhaal, tot jy dit ken.

Of jy kan vir jou ‘n notaboek kry en elke dag die vers skryf. Dit help ook om ‘n vers te leer.

Onthou om gereeld die verse wat jy gememoriseer het vir jouself op te sê, sodat jy dit nie vergeet nie.

OORDINK DIT.

Om die Bybel te lees is soos om ‘n teesakkie vinnig in die kookwater te doop en dit dan weer uit te haal. Om te dink oor wat jy in die Bybel gelees het, is soos om die teesakkie te laat trek.

Jy sien, ons laat toe dat die waarheid uit die Woord ons hele wese deurweek wanneer ons dit wat ons gelees het, oordink.

Terwyl jy jou Bybel lees, kyk vir ‘n woord, frase of vers wat uitstaan. Gebruik dit dan as jou fokus deur daaroor te dink.

Jy kan sommer net in jou gedagtes daaroor dink, maar ek het agtergekom dit werk vir my beter wanneer ek dit wat in my gedagtes opkom, neerskryf. Ek kan dit dan agterna weer lees en weer sien wat God my oor ‘n vers of gedeelte geleer het.

PAS DIT TOE.

In Jakobus 1 sien ons dat ons nie net veronderstel is om die Woord te hoor nie, maar om dit te doen.

Hier is ‘n paar vrae wat jy kan vra wanneer jy met die Bybel besig is. Dit gaan jou help om te sien hoe jy die gedeelte in jou lewe kan toepas.

Leer die gedeelte my iets oor God se karakter?

Leer die gedeelte my iets wat ek oor God moet glo?

Is daar iets in die gedeelte waarvoor ek God moet loof of waarvoor ek kan dankie sê?

Is daar iets in die gedeelte waaroor ek moet bid?

Het die gedeelte my iets geleer waaroor ek ‘n besluit moet neem?

Het die gedeelte my iets geleer wat ek, ter wille van Jesus, andere of myself, moet doen?

Daar is nog ander vrae wat jy ook kan vra, maar begin vir eers net met hierdie.

EEN OP ‘N SLAG.

As jy soos ek is, dan het jy nou ‘n klomp idees van dinge wat jy wil doen om meer van die Bybel in jou lewe te hê. Maar ongelukkig kan ‘n mens nie alles op een slag doen nie.

Kies dus vir jou net een van die dinge waaroor ons hierbo gesels het, en begin om dit deel van jou lewe te maak. Doen dit so gereeld as wat jy kan tot dit so deel is van jou lewe, dat jy nie eers daaroor dink om op te hou om dit te doen nie.

Kies dan iets anders uit die lys hierbo en begin dit doen. Hou ook daarmee aan tot dit deel geword het van jou daaglikse of weeklikse roetine.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *