Sukkel jy om jou leesplan sinvol te gebruik? Hier is ‘n paar wenke vir jou stiltetyd om jou te help om jou tyd in die Woord meer betekenisvol te maak.
Dit is sowaar al amper weer die einde van die maand. En dít beteken dis ook weer tyd vir ‘n nuwe Bybelleesplan.
Hierdie maand gaan ons deur twee boeke van die Nuwe Testament lees.
Die eerste deel van Oktober gaan ons deur Efesiërs lees, en die laaste paar dae gaan ons Paulus se brief aan Titus lees.
As jy reeds Nader In Eenvoud se nuusbrief ontvang, dan gaan jy binnekort jou leesplan kry. As jy egter nog nie vir die nuusbrief ingeteken het nie, en jy wil graag die leesplan ontvang, vul jou gegewens hieronder in. Jy sal dan ook toegang kry tot al die ander leesplanne wat ons al in die verlede gebruik het.
LEES OOK: GRATIS HULPMIDDELE VIR JOU STILTETYD
WENKE VIR JOU TYD IN DIE WOORD.
Vandag wil ek ‘n paar wenke met jou deel om die gebruik van jou leesplan meer sinvol en jou tyd in die Woord meer betekenisvol te maak.
KIES ‘N LEESPLAN.
Die heel eerste ding wat jy moet doen, is om ‘n leesplan te kies.
Daar is verskeie leesplanne op die Internet beskikbaar. Sommige planne handel oor ‘n spesifieke onderwerp. Ander help jou om ‘n spesifieke boek van die Bybel deur te lees. Dan is daar ook planne wat jou help om die Bybel in ‘n jaar of in drie jaar deur te lees.
Soos ek gesê het, hierdie maand gaan ons deur twee van Paulus se briewe lees.
GEBRUIK VERSKILLENDE VERTALINGS.
Skaf vir jou ‘n paar Bybelvertalings aan. Jy kan die ou vertaling, die nuwe vertaling en ‘n Parafrase gebruik.
Jy kan selfs vir jou ‘n Engelse vertaling of twee kry.
Die verskillende vertalings gee ‘n ander perspektief en soms ook ‘n dieper betekenis aan die gedeelte wat jy lees.
EKSTRA BENODIGDHEDE.
Dit is ook ‘n goeie idee om vir jou ‘n notaboek te kry, waarin jy kan skryf wat jy alles leer.
En ‘n verklarende woordeboek kan ook baie help, veral wanneer jy woordstudies doen.
SKRYF DIE TEKS.
Noudat jy jou leesplan en al jou ander benodigdhede het, is jy reg om te begin.
Vra die Here om jou te help om in die teks te sien wat Hy wil hê jy moet sien. Vra Hom ook om jou te help om te verstaan presies wat Hy vir jou wil sê.
Na jy gebid het, lees jy die skrifgedeelte vir daardie dag.
As daar ‘n woord of frase is wat vir jou uitstaan, skryf die hele teksvers waarin dit staan, in jou notaboek neer.
Soek dit op in die ander vertalings en skryf ook neer wat daar staan.
Vir ons doeleindes vandag, gaan ek Psalm 23:1b gebruik.
DOEN ‘N WOORDSTUDIE.
Nadat jy jou teksverse geskryf het, is dit tyd om ‘n mini-woordstudie te doen.
Watter woord in die teksvers het vir jou uitgestaan?
Vir my staan die woord Herder in Psalm 23:1 uit.
Soek die woord in die verklarende woordeboek op en skryf neer wat jy leer.
SINONIEME EN ANTONIEME.
‘n Mens kan nogal baie leer deur die sinonieme en antonieme van ‘n woord ook na te slaan.
Soek eers die sinonieme van jou woord en skryf neer wat jy leer.
Jy kan ook ander woorde, wat te doen het met die woord wat jy naslaan, bekyk. In hierdie geval het ek ook die woorde beskerm, bewaak en oppas nageslaan.
Slaan volgende die antonieme van die woord na en skryf neer wat jy leer.
Soms, soos in die geval van herder, is dit makliker om die antonieme van die woorde wat in die definisie gegee word, na te slaan.
TEKSVERS IN EIE WOORDE.
Onthou jy toe ons op skool was, moes ons soms ‘n gedeelte lees en dit dan in ons eie woorde oorskryf?
Dit is presies wat ons volgende gaan doen.
Neem alles wat jy geleer het en skryf die teks in jou eie woorde neer.
BID DIE TEKS.
Die laaste wenk wat ek jou wil gee, is om die teks terug te bid tot God.
Jy kan dit só doen:
Ek hoop dat hierdie wenke vir jou stiltetyd jou gaan help om jou leesplan beter te gebruik.
Ek vertrou ook dat dit jou gaan help om duidelik te hoor wat God vir jou wil sê.
Sterkte vir jou tyd in die Woord!
LEES OOK: OKTOBER IN DIE WOORD-CHALLENGE