‘N GIDS VIR LYDENSTYD

Volgens die kerkkalender is ons tans besig met Lydenstyd.

Wat is Lydenstyd? Dis ‘n seisoen van 46 dae waarin gelowiges onthou wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het ter voorbereiding van Paasfees.

WAAR KOM LYDENSTYD VANDAAN?

In lande in die noordelike halfrond het Christene vir jare die gebruik gehad om in die laaste gedeelte van die winter vir 40 dae lank te vas en te bid. Dit is ‘Lent’ genoem. Dit was, net soos nou, om hulleself voor te berei vir Paasfees, wat in die lente plaasvind.

Die woord ‘Lent’ is van Duitse afkoms en verwys na die dae wat langer word (lengthening of days) of na die lente.

Later het gelowiges in die Suidelike halfrond ook begin om hulleself vir Paastyd voor te berei deur ‘n vastydperk van 40 dae. Die getal 40 is gekies omdat 40 ‘n belangrike rol in die Bybel speel.

Jesus het vir 40 dae in die woestyn gevas voor Hy deur die duiwel versoek is. Moses was vir 40 dae en nagte op die berg Sinai toe God die Wet vir hom gegee het. Elia het vir 40 dae en nagte geloop om by Horeb, die berg van God, te kom. En die Israeliete het vir 40 jaar in die wildernis rondgeswerf.

As ‘n mens die dae van Lydenstyd tel, is daar eintlik 46, maar op Sondae word daar gewoonlik nie gevas nie, dus is die vastydperk net 40 dae.

'n Gids vir lydenstyd

BELANGRIKE DAE IN LYDENSTYD.

Daar is ‘n paar dae wat uitstaan wanneer ‘n mens aan Lydenstyd dink.

Aswoensdag is die eerste dag van Lydenstyd. Aswoensdag herinner ons aan die sterflikheid van die mens. Dit herinner ons daaraan dat elke mens die behoefte het om met God versoen te word en dat Jesus gekom het om daardie behoefte te vervul.

Tydens ‘n Aswoendag-diens word daar op elkeen teenwoordig se voorkop ‘n kruisie met as geteken. Dié as word gemaak deur die palmtakke wat die vorige jaar op Palmsondag gebruik is, te brand.

Palmsondag is die Sondag net voor Paasfees. Op hierdie dag onthou ons Jesus se intog in Jerusalem op die rug van ‘n donkie. Dit is ook in baie denominasies die eerste dag van Heilige Week.

‘Maundy’ Thursday – ek kon nie ‘n Afrikaanse woord vir hierdie dag kry nie, omdat meeste Afrikaanse kerke dit nie gedenk nie. Maar dit is die dag net voor Goeie Vrydag. Op dié dag onthou gelowiges die aand toe Jesus die laaste maaltyd saam met Sy dissipels geëet het.

Goeie Vrydag – Hierdie is die dag waarop gelowiges Jesus se kruisdood herdenk. Die woord ‘goeie’ herinner ons daaraan dat ons, as gevolg van Jesus se kruisdood, vergifnis vir ons sondes kan ontvang.

Paassondag – Op Paassondag, soms ook genoem Opstandingsondag, vier ons die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood. Deur geloof in Hom het die mens die geleentheid om met God versoen te word en weer in ‘n verhouding met Hom te wees. Ons het ook die vooruitsig om die hele ewigheid saam met Hom in die hemel deur te bring.

LYDENSTYD-TRADISIES.

Daar is ‘n hele paar tradisies wat gepaard gaan met Lydenstyd.

Gebed – Tydens Lydenstyd fokus ons ons gebede op die feit dat ons God se vergifnis, genade en voorsiening nodig het. Dis ‘n tyd waartydens gelowiges hulle sondes bely en daarvan wegdraai en God se genade en liefde opnuut in hulle lewens ontvang.

Vas – Daar is baie maniere waarop mense tydens Lydenstyd vas. Sommige mense gebruik die Daniëlsvas. Ander eet een maaltyd ‘n dag met twee klein peuselhappies die ander twee maaltye. Dan is daar ook mense wat glad nie kos vas nie, maar wat iets, wat vir hulle belangrik is, opgee. Dit kan iets wees soos om nie televisie te kyk nie of nie tyd op sosiale media te spandeer nie.

Dis ‘n opoffering om kos, of enige iets anders, te vas en die idee is dan ook dat dit die gelowige herinner aan Jesus se offer aan die kruis. Gewoonlik gaan so ‘n vastyd dan ook gepaard met gebed om die gelowige nader aan God te bring.

Om te gee – Die derde tradisie is om geld vir behoeftiges te gee of om iets vir iemand te doen en is ‘n reaksie op God se genade, liefde en vrygewigheid.

IDEES VIR LYDENSTYD.

Ons is nou wel al bietjie meer as twee weke lank al besig met Lydenstyd, maar dis nog nie te laat om iets te doen om jou hart voor te berei vir Paastyd nie.

Hier is ‘n paar idees wat jy kan gebruik.

Lydenstyd-Bybelleesplan – Kry vir jou ‘n leesplan wat jy tydens Lydenstyd kan gebruik. Jy kan die leesplan wat ons op ons Facebook-groep gebruik HIER aflaai. Die leesplan is so opgestel dat jy net op weeksdae lees. As jy dus agterraak, kan jy oor die naweek opvang.

Lofprysingsmusiek – Gebruik lofprysingsmusiek (worship music) om jou hart voor te berei vir Paastyd. Daar is ‘playlists’ wat spesiaal vir Paastyd saamgestel is. Soek dus vir jou so ‘n ‘playlist’ op die platform waar jy musiek luister.

Bid vir ander – Kies elke dag ‘n ander persoon om voor te bid vir die 40 dae van Lydenstyd. Skryf neer vir wie jy bid. Skryf ook neer wat jy vir hulle bid.

Vas – Vas een maaltyd ‘n dag of vas vir een hele dag in die week. Jy kan ook iets soos koffie, sjokolade of nagereg opgee vir die Lydenstydperiode.

Gee iets op – As jy nie kos wil of kan vas nie, kan jy die volgende doen: Gee sosiale media op vir die 40 dae van Lydenstyd. Gebruik die tyd om te bid, God te loof en prys of ander te dien. Jy kan ook kies om net gedurende die naweke Netflix of jou gunsteling televisieprogramme te kyk. Gebruik die ekstra tyd om jou Bybel te lees en te bid.

Gee – Gebruik die 40 dae van Lydenstyd en gee van jou geld, tyd of hulpbronne. Seën ander met jou woorde, ‘n geskenk of doen iets vir iemand wat hom gaan help.

PAASTYD Lê VOOR.

Ek hoop dat hierdie artikel oor Lydenstyd jou gehelp het om beter te verstaan waaroor hierdie 46 of 40 dae gaan. Ek glo ook dat jy ‘n paar nuwe idees het wat jy kan gebruik.

Baie seën vir jou en mag dít wat jy kies om hierdie Lydenstyd te doen, jou help om jou hart voor te berei vir Paastyd. Mag dit jou help om op Jesus en wat Hy vir ons gedoen het, te fokus!

2 thoughts on “‘N GIDS VIR LYDENSTYD

  1. Leroux

    Goeie dag

    Watter dag hou Lent op? Op Goeie Vrydag of op Paas Maamdag, m.a.w. wanneer hou ek op met vas?

    • Risa Cronje

      Die laaste dag van Lent is hierdie jaar op die 28ste Maart, met ander woorde, die dag voor Goeie Vrydag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *