Dit is amper Kersfees.
Hoewel God nêrens in die Bybel vir ons sê dat ons Jesus se geboorte moet herdenk nie, het dit tog deel geword van die kerkkalender.
In die weke voor Kersfees is ons harte tydens eredienste voorberei vir die feestyd. In baie gemeentes is kerse aangesteek om ons te herinner aan die hoop, vrede, vreugde en liefde wat ons s’n is in Christus Jesus.
Ons het dan ook in die laaste paar artikels gekyk na Bybelverse oor elkeen van hierdie onderwerpe.
Die laaste kers wat gewoonlik aangesteek word, is die kers wat Jesus verteenwoordig. In aansluiting daarby, kyk ons vandag na ‘n klompie Bybelverse oor Jesus. Ons gaan elke keer kyk na ‘n spesifieke profesie wat oor Jesus gegee is. Dan gaan ons ook kyk na ‘n vers waar ons sien hoe dit in vervulling gegaan het.

‘N MAAGDELIKE GEBOORTE.
Deur die profeet Jesaja kom die profesie dat Jesus uit ‘n maagd gebore gaan word. Die engel, wat Josef in sy droom sien, bevestig die profesie.
Profesie: Jesaja 7:14: Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem. (1953-vertaling)
Mattheus 1:22b-23: Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’
Vervulling: Mattheus 1:24-25: Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en haar as sy vrou by hom geneem. Hy het nie met haar gemeenskap gehad totdat sy aan ‘n seun geboorte gegee het nie. En hy het Hom Jesus genoem.
BETLEHEM – JESUS SE GEBOORTEPLEK.
God gebruik die profeet Miga om te profeteer oor waar Jesus gebore sou word.
Profesie: Miga 5:1: Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.
Vervulling: Mattheus 2:5-6: Hulle het vir hom gesê: ‘In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.’
DIE HERDERS SAL HOM AANBID.
In die veld verskyn ‘n engel aan ‘n groepie skaapwagters om vir hulle die goeie nuus van die geboorte van die Verlosser te gee. Na hulle die nuus gehoor het, gaan hulle haastig na Betlehem om Jesus te vind.
Profesie: Psalm 72:9: Voor hom sal die woestynbewoners kniel, en sy vyande sal stof lek.
Vervulling: Lukas 2:15-17: Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.” Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.
‘N STER IN DIE OOSTE.
Uit die Ooste kom ‘n groep sterrekykers. Hulle het die ster gesien wat aankondig dat die Koning van die Jode gebore is, en hulle het Hom kom soek.
Profesie: Numeri 24:17: Ek sien hom, maar dit is nie nou nie, ek neem hom waar, maar hy is nie naby nie. ‘n Ster uit Jakob tree na vore, ‘n heerserstaf uit Israel verskyn; hy verbrysel die slape van Moab, en vernietig al die kinders van Set.
Vervulling: Mattheus 2:1-2: Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.”Herodes dit hoor,
Mattheus 2:9-10: Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar.
GESKENKE VIR ‘N KONING.
Die sterrekykers kom nie met leë hande by die Kind aan nie. Nee, hulle bring vir Hom geskenke om Hom te eer.
Profesie: Psalm 72:10-11: Die konings van Tarsis en die eilande sal belasting betaal; die konings van Skeba en Seba sal skatplig lewer. Al die konings sal diep voor hom buig, al die nasies sal hom dien…
Vervulling: Mattheus 2:11: Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre.
GROOT HARTSEER RONDOM SY GEBOORTE.
Herodes is nie gelukkig oor hierdie Koning wat gebore is nie. Om seker te maak dat Hy nie eendag sy plek op die troon inneem nie, laat hy al die seuntjies van twee jaar en jonger dood maak.
Profesie: Jeremia 31:15: So sê die Here: ”n Stem word gehoor in Rama, ‘n treurlied, ‘n bittere gehuil. Ragel huil oor haar kinders; sy weier om vertroos te word oor haar kinders, omdat hulle nie meer daar is nie.’
Vervulling: Mattheus 2:16-17: Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het. Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is: “‘n Stem is in Rama gehoor, ‘n droewige gehuil en ‘n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie.”

VLUG NA EGIPTE.
Maar Jesus is lankal nie meer in die omgewing nie. God waarsku vir Josef in ‘n droom wat Herodes beplan en gee hom opdrag om met Maria en die Kind na Egipte te vlug.
Profesie: Hosea 11:1: Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.
Vervulling: Mattheus 2:13;15: Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”… Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”
VERVUL MET DIE GEES, MAG EN VREDE.
Jesaja is weer die profeet wat profeteer dat Jesus van geboorte af met die Gees vervul sou wees. Hy profeteer ook dat Hy mag sal hê en vrede sal bring.
Profesie: Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Jesaja 61:1: Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is…
Vervulling: Lukas 4:18-21: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”
‘N DANKGEBED.
Ons sluit hierdie reeks Bybelverse vir Advent af met ‘n gebed waarin ons God dank vir Jesus en vir alles wat ons s’n is as gevolg van Hom.
Gebruik hierdie gebed in jou stiltetyd om God te dank.
Vader, ons dank U vir die wonderlike geskenk, ons Here Jesus Christus! Dankie dat U ons so liefhet dat U U enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Dankie vir die Nuwe Verbond van Genade. Dankie dat U vir ons U wette in die verstand gee, dit op ons harte skrywe. Dankie dat U genadig is oor ons ongeregtighede en dat U nooit meer aan ons sondes dink nie.
Dankie dat ons die geregtigheid van God in Christus is.
Dankie dat ons vrede het met U as gevolg van ons Here Jesus Christus.
Dankie dat ons versoen is met U as gevolg van Jesus Christus.
Dankie vir U genade teenoor ons.
Dankie, Here Jesus, dat U ons Herder is. Dankie dat U alles gedoen het wat nodig was toe U aan die kruis gesterf het, dat ons niks hoef te doen nie, maar alles wat ons nodig het deur geloof van U kan ontvang. Dankie dat U ons laat rus in groen weivelde, dat U ons bring by waters waar daar vrede is.
Dankie dat U die Weg, die Waarheid, en die Lewe is. Dankie dat ons kan lewe omdat U vir ons U lewe gegee het.
Dankie dat U die Brood van die Lewe, en die Lewende Water is, en dat ons nooit weer honger of dors sal wees wanneer ons na U toe kom en in U glo nie.
Here, dankie dat U die Heilige Gees vir ons gestuur het, en dat ons nou een gees is met U.
Heilige Gees, dankie dat U in elkeen van ons woon. Dankie dat U ons elke dag lei.
Dankie vir die waarheid wat U ons leer, en dat U ons al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Vader, ons harte is gevul met dankbaarheid, en ons wil U verheerlik en eer met ons lewens.
Dankie, dankie, dankie!