Kersfees is ‘n tyd vol vreugde en opgewondenheid. Die liggies, musiek, eetgoed, en die uitsien na geskenke maak dit vir ‘n kind moeilik om nié opgewonde oor Kersfees te wees nie. Ongelukkig kan ‘n mens só besig raak met al dié dinge, dat jy die ware betekenis van Kersfees heeltemal uit die oog verloor. Dis dus ‘n goeie idee om vroegtydig te besluit om op een of ander manier jou kinders – en dalk ook jou eie! – aandag weer om Jesus, die ware rede vir Kersfees, te fokus. Hier is ‘n paar idees wat jy kan gebruik om dit te doen.
VRA VRAE.
Die beste manier om uit te vind of jou kind regtig verstaan hoekom ons Kersfees vier, is om te vra.
Maak ‘n punt daarvan om in die weke voor Kersfees vir elke kind te vra waarom hy dink dat ons elke jaar Kersfees vier.
Baie kinders, veral die kleintjies, mag dalk sê hulle dink dis oor die geskenke of oor kersvader.
Spandeer ‘n uur of twee met jou kind as sy antwoord vir jou wys dat hy nog nie regtig weet wat die regte rede vir Kersfees is nie, en verduidelik vir hom van Jesus en waarom Hy gekom het.
Terwyl jy verduidelik, vra weer vrae, sodat jy seker maak jou kind verstaan.
LEES DIE KERSVERHAAL.
‘n Goeie manier om seker te maak kinders verstaan waarom ons Kersfees vier, is om elke jaar tydens Kerstyd die kersverhaal te lees.
Kry ‘n goeie kinderbybel om te gebruik, as jou kinders nog klein is.
Lees die verhaal met gevoel en onthou om tussenin te verduidelik waarom sekere dinge op ‘n sekere manier gebeur het.
Verduidelik byvoorbeeld waarom dit belangrik was dat Jesus uit ‘n maagd gebore is. Of waarom Jesus uit die nageslag van Dawid was.
Verduidelik ook van die wyse manne en waarom hulle geskenke vir Jesus gegee het. Maak seker jou kinders weet ons gee geskenke omdat Jesus ons grootste geskenk was.
ADVENTSKALENDER OOR JESUS.
Adventskalenders is groot pret – veral dié wat ‘n sjokoladeverrassing agter elke ‘deurtjie’ van die kalendar het!
Maar dis ook so dat meeste van hierdie kalendars nie veel met Jesus te doen het nie. So, maak jou eie!
Teken ‘n kersboom op ‘n groot stuk karton, sny dit uit en verf dit.
Maak 31 kaartjies, wat aan die kersboom vasgeplak kan word. Teken ‘n prentjie wat jou aan kersfees herinner op een kant van die kaartjie. Skryf Bybelverse oor Jesus se geboorte op die anderkant van sommige van dié kaartjies. Skryf dinge soos die volgende op van die ander kaartjies:
- Maak ‘n lys van vyf dinge wat jy kan doen om in die huis te help. Kies ‘n dag dié week en doen al vyf dinge.
- Skryf vir iemand ‘n briefie en vertel hom/haar waarom jy hom/haar waardeer.
- Skryf wat jy oor Jesus as Verlosser glo in jou dagboek of op ‘n ander veilige plek.
- Wat is jou gunsteling Bybelstorie? Vertel dit vir jou familie.
- Dink aan ‘n geskenk wat jy vir Jesus wil gee. Dit kan iets wees soos om jou boetie of sussie met meer liefde te behandel, meer in die huis te help, ensovoorts. Onthou dan om dit te doen, want dis jou geskenk aan Jesus!
Gooi al die kaartjies in ‘n houer en sit dit langs die kersboom. Gee elke dag tydens Desember vir iemand anders in die gesin ‘n beurt om ‘n kaartjie te trek. Lees wat daarop staan en praat oor die vers of doen die aktiwiteit. Onthou ook om die kaartjie op die kersboom vas te plak.
LEWENDE GESKENKE.
Jesus was ons grootste geskenk en het Homself vir ons gegee toe Hy aan die kruis gesterf het.
Begin ‘n nuwe familie tradisie, waar elke lid van die gesin aan iets dink wat hy tydens kerstyd vir iemand anders in die gesin kan doen.
Moedig jou kinders aan om hulle gawes en talente hiervoor te gebruik.
Onthou om te verduidelik dat ‘n geskenk nie altyd in papier toegedraai word nie. As jy iets vir iemand anders doen, dan gee jy van jouself, soos Jesus gemaak het. En om van jouself te gee, is ‘n baie groot geskenk.
MAAK JULLE EIE STAL-TONEEL.
Daar is mooi stal-tonele (nativity scenes) wat ‘n mens kan koop en in jou huis uitstal.
Maar waarom ‘n gekoopte een gebruik as jy jou eie kan maak?
Kry die kinders bymekaar en maak hierdie oulike figuurtjies van Josef, Maria en Baba Jesus. Julle kan selfs ander figuurtjies soos die herders, skape en wyse manne ook maak.
Terwyl julle die figuurtjies maak, verduidelik vir die kinders wie die figuurtjies is en wat hulle rol in die Kersverhaal is.
KLEUR KERSPRENTE IN.
As jou kinders nog klein is, is hulle beslis lief daarvoor om in te kleur.
Druk ‘n paar kersprente en hou dit in die kas vir dié dae wanneer die kinders iets soek om te doen.
Laat hulle kies watter prente hulle wil inkleur. Terwyl hulle inkleur, gesels met hulle oor die prenjie en wat hulle daaruit kan leer.
Gebruik die prente dan om die huis mee te versier of vir iemand as geskenk te gee.
GAAN SAAM KERK TOE.
Een van die beste maniere om jou kind te herinner aan die ware betekenis van Kersfees, is om op Kersdag saam as gesin kerk toe te gaan.
As daar familie kuier, neem sommer almal saam.
Na die tyd kan jy dan ook weer vrae vra om seker te maak die kinders, veral die kleineres, verstaan die ware betekenis van Kersfees. En as jy agterkom iemand verstaan nie, sit ‘n tydjie opsy en verduidelik, sodat hulle verstaan.
ANDER IDEES.
Hierdie is maar ‘n paar idees wat jy kan gebruik om jou kinders te help om te verstaan waaroor Kersfees regtig gaan.
As jy aan nog idees kan dink, deel dit in die kommentaar hieronder. ‘n Mens weet nooit wie anders dalk ook daardie idee kan gebruik nie!