ADVENT: BYBELVERSE OOR LIEFDE

God het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy Seun gestuur het. Laat hierdie Bybelverse oor liefde jou herinner aan God se groot liefde vir jou.

Op die kerkkalender word die weke voor Kersfees Advent genoem. Dis ‘n tyd waarin gelowiges hulle harte voorberei om die koms van ons Verlosser te vier.

In sommige kerke word daar elke week ‘n kers aangesteek om ons daaraan te herinner dat ons hoop, vrede, vreugde en liefde in Christus het.

Laastens word daar ‘n kers aangesteek om ons te herinner aan die Een wat gekom het om Sy lewe vir ons af te lê.

Die afgelope paar weke het ons gekyk na verse oor hoop, vrede en vreugde. Vandag gaan ons kyk na Bybelverse oor liefde.

Lees deur die verse en laat God toe om jou te herinner aan Sy groot liefde vir jou.

Advent: Bybelverse oor liefde

WAT IS LIEFDE?

Baie mense wonder wat liefde nou eintlik is.

Wel, die Bybel sê vir ons wat liefde is.

God is liefde.

Dis wie Hy is. En daarom kan Hy nie anders as om lief te wees en liefde uit te leef nie.

1 Johannes 4:16b: God is liefde.

1 Johannes 4:7-8: Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.

GOD SE LIEFDE VIR ONS.

God het nie maar net vir ons kom sê dat Hy vir ons lief is nie. Nee, Hy het dit baie tasbaar en openlik kom wys. Hy stuur vir Jesus, Sy eniggebore Seun, om vir die sonde van die wêreld te sterf.

Hy gee daardie verlossing in Christus verniet vir ons as ‘n geskenk. Al wat ons moet doen, is om dit in geloof te aanvaar.

As jy vandag wonder of God vir jou lief is, kyk wat sê die Bybel oor Sy liefde vir jou:

Johannes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

1 Johannes 4:9-10: Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.

1 Johannes 4:16: Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.

Romeine 5:8: God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Efesiërs 2:4-5: Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!

ONS KAN LIEFDE UITLEEF.

Noudat ons aan God behoort, vra Hy van ons om ook ander lief te hê.

Ons is veronderstel om Sy karaktereienskappe uit te leef, sodat ander kan sien Wie Hy is en wat Hy doen.

En daarom gee Hy deur die Heilige Gees vir ons Sy liefde in ons harte. Nou hoef ons nie in eie krag te probeer om ander lief te hê nie. Nee, ons kan dit doen omdat ons God se liefde binne ons het.

Romeine 5:5: En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

1 Johannes 4:11: Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê.

1 Johannes 4:19-20: Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê, ‘Ek het God lief’, en sy broer haat, is hy ‘n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie.

1 Petrus 4:8: Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat ‘die liefde ‘n menigte sondes bedek’.

Johannes 15:12: Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.

NOG VERSE OOR LIEFDE.

Hier is nog ‘n paar verse oor die liefde en oor God se liefde vir ons.

1 Johannes 4:17-18: Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons in hierdie wêreld ook soos Jesus is. In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

Deuteronomium 7:9: Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond en troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom…

Psalm 86:15: Maar U, my Heer, U is ‘n barmhartige en genadige God. geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid.

Psalm 136:1-4: Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Loof die oppermagtige God. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Loof die magtigste van alle maghebbers. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen. Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Neem ‘n paar minute en lees weer al die Bybelverse oor liefde in die artikel.

Dink na oor elkeen.

Wat sê God vir jou, persoonlik, in elkeen van die verse?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *