Sluit by ons aan vir die Oktober In Die Woord-challenge en spandeer die hele Oktober elke dag tyd in God se Woord.
NET EEN DING NODIG.
In Lukas 10:38-42 lees ons die verhaal van Marta en Maria.
Hulle was twee susters wat Jesus as gas in hulle huis ontvang het.
Marta was die besige een. Sy het het op en af geskarrel om alles gereed te kry.
Maria het egter by Jesus se voete gesit en na Sy woorde geluister.
Dit het vir Marta ontstel en sy het vir Jesus gesê, “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” (vs.40).
Ek dink sy het klaar in haar gedagtes gesien hoe Jesus vir Maria gaan aanspreek en met haar raas omdat sy nie help nie.
Maar toe verras die Here haar, want dis glad nie wat Hy doen nie!
In plaas daarvan om vir Maria aan te spreek, spreek Hy vir Marta aan: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (vs.41-42).
Sien jy daardie laaste twee sinne?
Jesus sê daar is net een ding nodig en dat Maria die beste deel gekies het en dat dit nie van haar af weggeneem sal word nie.
LUISTER NA SY WOORDE.
Uit die teks sien ons baie duidelik waarvan Jesus gepraat het.
Hy verwys na Maria se keuse om by Hom te sit en na Hom te luister.
Om tyd met Hom te spandeer en Sy woorde te hoor is die een ding wat ek en jy, en al Sy ander kinders, elke dag nodig het.
Dit is die beste deel wat ons kan kies. Niks anders het groter waarde nie.
En wanneer ons kies om tyd met God in Sy Woord te spandeer, is Hy die laaste een wat iets gaan doen om dit van ons weg te neem.
DIE WAARDE VAN DIE WOORD.
Terwyl ek oor Maria en haar keuse nagedink het, het ek ook gedink aan die verskeie dinge wat die Woord in ons lewens doen.
Ek noem net ‘n paar:
Dit is God se primêre manier om met ons te praat. Alle ander dinge wat ons hoor moet gemeet word aan die Woord. Selfs wanneer jy dink die Heilige Gees sê iets vir jou, moet jy dit meet aan die Woord. Die Heilige Gees sal nooit iets sê wat teenstrydig is met die Woord nie. Meet ook wat jy hoor in preke, of wat jy op hierdie blad lees, aan die Woord. Dit sal verhoed dat jy dinge glo wat nie die waarheid is nie.
Die Woord is voedsel vir ons innerlike mens, ons gees. En, net soos ‘n mens se liggaam elke dag kos nodig het om van te leef, het ons gees ook daaglikse voedsel uit die Woord nodig.
God gebruik die Woord om ons die waarheid te leer en ons te heilig. Hy vernuwe ons denke met die Woord sodat ons dink soos Hy dink. Wanneer ons anders dink, gaan ons anders praat en anders optree (Romeine 12:2). Dit is ‘n lewenslange proses wat so nodig is in elke gelowige se lewe.
Die Woord is ook vir ons ‘n lig op ons pad. Dit wys ons wat die regte dinge is om te doen, die dinge wat vir God aanneemlik is.
En laaste, maar nie die minste nie, gebruik God die Woord om geloof in ons harte te werk. Sonder die Woord is daar nie geloof nie. ‘n Mens het nodig om die Woord, die verkondiging van Christus te hoor, voor jy kan glo.
LEES OOK: VYF REDES WAAROM TYD IN DIE WOORD BELANGRIK IS
OKTOBER IN DIE WOORD-CHALLENGE.
Wat ek hierbo met jou gedeel het, is maar net ‘n paar van die dinge wat die Woord in ons lewens doen.
Ongelukkig is daar baie mense wat nie veel tyd in die Woord spandeer nie.
Hulle is te besig, of te moeg, of het bloot net nog nooit die gewoonte aangekweek om elke dag hulle Bybels te lees nie.
Vandag wil ek jou uitnooi om in Oktober saam met ons tyd in God se Woord te spandeer.
Die slim mense sê ‘n mens hoef net vir 21 dae lank ‘n bepaalde aktiwiteit te doen om dit ‘n gewoonte te maak.
Nou-ja, vir 22 dae in Oktober (dis nou al die weeksdae) gaan ons saam die Woord lees. Dit gaan ons help om die gewoonte te kweek om elke dag tyd met God te spandeer.
Ons noem dit die Oktober In Die Woord-challenge.
As jy inteken, gaan jy elke weeksdag ‘n e-pos ontvang met die Skrifgedeelte vir die dag. Daar gaan ook ekstra hulpmiddele wees, soos video’s, mini-Bybelstudies, oordenkings, ensovoorts om jou te help met jou tyd in die Woord.
Vul net die vorm hieronder in, en word deel van ons Oktober In Die Woord-challenge.
Hi Risa
Ek en my vrou geniet jou webpage baie en vind dit baie leersaam.
Sy het nou begin om die vorige 2 mnde se Woord challenge afgelaai en dit daagliks voltooi. Maar nou vind ons nie die PDF uitdruk vir Oktober nie. Kyk ons verkeerd of wat is die rede.
Dankie
God se seen
Eugene
Hi Eugene. Julle moet inteken vir die challenge om daagliks die e-posse te ontvang. Kliek op hierdie skakel om in te teken – https://nie.co.za/oktober-in-die-woord-challenge/
Dit is gratis. As julle inteken, gaan julle elke weeksdag in Oktober ‘n epos ontvang met daardie dag se gedeelte om te lees, asook wat om te doen vir die dag. Soms is dit net iets wat julle moet lees, ander kere is dit ‘n video, of vrae om te antwoord, of ‘n Bybelstudie, ens. Hoop julle teken in! Risa