5 REDES WAAROM TYD IN DIE WOORD BELANGRIK IS

Ons leef in ‘n wêreld waar een of ander lewensstorm gereeld ons lewens tref. Op hierdie stadium is daar ‘n storm wat sommer wêreldwyd woed en omtrent alle mense se lewens raak.

In Mattheus 7:24-27 lees ons die baie bekende woorde van Jesus, waar Hy praat oor die Woord en die storms van die lewe.

Hy sê: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”

Dan sê Hy egter ook: “En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Tyd in die Woord is nooit ‘n mors van tyd nie. Inteendeel, dit is iets wat ons elke dag nodiger het as die lug wat ons inasem en die kos wat ons eet.

Soos ons leer uit Jesus se woorde, is die Woord die rots waarop ons lewens gebou moet wees, sodat dit die lewensstorms kan weerstaan.

Kom ons kyk na nog vyf redes waarom ons elke dag, maar veral nou in ‘n tyd waar mense bang is en sommige besig is om hoop te verloor, tyd in die Woord moet spandeer.

GOD SE WOORD VUL ONS HARTE MET WAARHEID.

In Johannes 8:44 lees ons Jesus sê die duiwel is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.

Baie dinge wat ons hier op aarde sien, hoor en beleef kom van hom af, en daarom kan ons met sekerheid weet dit is nie die waarheid nie.

In Johannes 17:17, waar Jesus voor Sy kruisiging bid vir Sy volgelinge (ons ingesluit!), lees ons egter die volgende oor die Woord van God: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.”

Wanneer ons tyd in die Woord spandeer, is ons besig om ons harte met die waarheid te vul.

‘n Hart vol waarheid maak dit makliker om te onderskei tussen waarheid en leuen. Sodoende sal ons weet wanneer iets van die duiwel is, en ons dit moet verwerp en teenstaan, en wanneer iets van God is en ons dit moet glo en saam met Hom moet werk.

Maak dus elke dag tyd daarvoor om jou hart met die waarheid van God se Woord te vul.

DIE WOORD LEER ONS WAT IS GOD SE WIL.

As jy as ouer vir jou kind wil laat weet wat jy wil hê hy vanmiddag na skool moet doen – dinge soos sy huiswerk, of takies in en om die huis – dan laat jy dit nie maar aan toeval oor en hoop jou kind gaan jou gedagtes lees sodat hy kan weet wat hy moet doen nie.

Nee, jy maak jou mond oop en praat met hom. Jy gee hom sy opdragte en lê presies vir hom uit wat jy wil hê hy moet doen.

God het dit ook nie aan toeval oorgelaat en ons maar bietjie in die duister gelos oor Sy wil vir ons nie.

Hy het selfs sover gegaan as om Sy wil vir ons te laat neerskryf in Sy Woord.

Tyd in die Woord beteken dan ook dat jy jou hart volmaak met die wil van God.

Die Woord leer jou wat God se wil is vir alle mense – dinge soos dat almal gered moet word (1 Timotheus 2:4).

Dit leer jou hoe God dinge doen sodat jy jou lewe ook so kan leef, want dit is God se wil dat Sy kinders soos Hy moet wees en optree.

Dan leer dit jou ook wat God alles belowe het, want selfs Sy beloftes is Sy wil vir ons.

Neem daarom elke dag ‘n halfuur of langer om jou hart vol te maak met die Woord, sodat jy kan weet wat God se wil is.

Wil jy meer tyd in die Woord spandeer?
Laai jou gratis Bybelstudie hier af!

ONS GELOOF WORD VERSTERK DEUR TYD IN DIE WOORD.

Dit is hartseer dat baie mense steeds nie weet waar geloof vandaan kom nie.

Die Bybel leer ons in Romeine 10:17 geloof kom wanneer ons die Woord hoor, veral die Woord aangaande ons Verlosser, Jesus Christus.

Jy sien, net soos soveel ander dinge wat met ons geestelike lewe te doen het, is geloof ‘n geskenk van God. Dit is nie iets wat ons uit onsself kan genereer nie. Ons kry dit uit die Woord.

Ons kry nie net geloof uit die Woord nie, maar dit is ook die manier waarop ons ons geloof versterk.

Daarom is dit so belangrik dat ons elke dag tyd in die Woord spandeer.

Moenie wag tot die storm kom voor jy jou Bybel vat en tyd saam met God spandeer nie. Maak seker dat jy elke dag tyd opsy sit om met die Woord besig te wees. Dit sal jou geloof versterk vir die dag wanneer ‘n lewensstorm losbars.

En as jy, soos ons op die oomblik, in die middel van ‘n storm is, maak seker dat jy ekstra tyd in die Woord spandeer sodat jou geloof nie wankel of verswak nie. Wees soos Abraham, wat ten volle oortuig was dat God kon doen wat Hy beloof het!

DIE BYBEL GEE ONS DIE NODIGE BEMOEDIGING VIR ELKE SITUASIE.

In 2 Korinthiërs 1:3-4 lees ons: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.”

God se Woord is vol verse wat ons kan bemoedig in moeilike omstandighede.

Daar is die wonderlike verse wat ons leer van Jesus en alles wat Hy vir ons gedoen het.

Dan is daar verse wat vir ons vertel wie ons is en wat ons alles besit as kinders van God.

Verder is daar ook die beloftes van God.

Elkeen van hierdie dinge kan ons bemoedig wanneer ‘n storm om ons woed.

En, wanneer ons bemoediging ontvang uit die Woord, is dit weer ons verantwoordelikheid om ander te bemoedig: “Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig…” (2 Korinthiërs 1:4).

Spandeer daarom elke dag tyd in die Woord sodat God jou kan bemoedig en jou toerus om ook ander te bemoedig.

Bybelleesplanne vir elke maand.
Laai gratis af!

DAAR IS HOOP IN DIE WOORD.

Die Woord gee ook vir ons hoop.

Dit leer ons alles wat ons moet weet aangaande ons Verlosser Jesus, ons Vader God, en ons metgesel, die Heilige Gees.

Ook leer dit ons alles omtrent God se Koninkryk en die nuwe lewe wat ons het omdat ons kinders van God is.

Wanneer ons al hierdie dinge weet en verstaan, het ons hoop omdat ons weet God is vir ons en by ons.

Ons het hoop omdat ons oortuig is daarvan dat God nooit sal teruggaan op Sy Woord nie, maar dat Hy getrou elke belofte wat Hy gemaak het, sal nakom.

Hierdie hoop is ‘n veilige lewensanker waaraan ons elke dag kan vashou, veral wanneer die lewensstorms om ons woed.

Ek wil jou uitdaag om elke dag tyd in die Woord te spandeer.

As jy die uitdaging aanneem, gaan jy elke dag jou hart vul met die waarheid.

Jy gaan weet wat God se wil is en jy gaan jou geloof versterk totdat daar niks is wat jou geloof kan laat wankel nie.

God gaan jou gedurende jou tyd in die Woord bemoedig en toerus om ander te bemoedig, en jy gaan ‘n lewensanker kry waaraan jy elke dag kan vashou – hoop!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *