BOU OP DIE ROTS VAN DIE WOORD

God het vir ons Sy Woord gegee sodat ons dit as fondament kan gebruik om ons lewens op te bou. As jy bou op die rots, sal jou lewenshuis nie in duie stort wanneer die lewensstorms kom nie!

Bou op die rots van die Woord

In Mattheus 7:24-27 lees ons ‘n gelykenis van Jesus oor die regte fondament waarop ons moet bou.

Daarom sal elkeen wat na My woorde luister en daarvolgens handel, soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het.
Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit nie ineengestort nie, omdat dit stewig op rots gevestig was.
Maar elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie uitvoer nie, sal soos ‘n onverstandige man wees wat sy huis op sand gebou het.
Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit ineengestort, en die ineenstorting was geweldig.

DIE HUISE IN JOU LEWE.

Wat, dink jy, word deur die huis in hierdie gelykenis van Jesus verteenwoordig? ‘n Mens is geneig om te dink dat die huis jou lewe verteenwoordig, en dis waar. Maar daar is tog meer daaraan verbonde.

Jy sien, die huis in die gelykenis verteenwoordig verskillende areas in ons lewens.

Ons het ‘n finansiële huis en ‘n huwelikshuis. Ons het ‘n verhouding-met-die-Here-huis en ‘n vriendskapshuis. Dan is daar die maak-kinders-groot-huis en die loopbaanhuis. Ons het ook ‘n gesondheidshuis en ‘n vermaakhuis, en nog meer.

In Sy groot liefde en genade het God in Sy Woord vir ons instruksies gegee rondom elkeen van hierdie huise. Sy Woord leer ons hoe om ons finansies en ons huwelik te hanteer. Hy leer ons ook hoe om ‘n verhouding met Hom en met ander mense te hê. In die Woord leer ons hoe om ons kinders groot te maak. Ons leer ook hoe om onsself by die werk te gedra. God leer ons selfs wat ons moet doen sodat ons optimale gesondheid kan hê!

As ons soos die verstandige man is, sal ons Sy instruksies en opdragte ter harte neem en doen wat Hy sê. Ons sal die waarhede wat Hy ons leer, in ons lewens toepas.

En, wanneer die storms van die lewe die verskillende areas van ons lewens tref, sal dit nie in duie stort nie. Daardie area sal sterk genoeg wees om die storm te weerstaan. Ons sal selfs sterker aan die anderkant uitkom.

As ons egter God se woorde verontagsaam, sal ons huise nie staande bly in die storms nie. Hulle sal inmekaar tuimel.

ONDERSOEK JOU LEWE.

Ek is seker elke kind van God verstaan die idee van bou op die rots van die Woord. Ongelukkig is dit so maklik om sommige van ons huise op iets anders as die Woord te bou.

Mense bou op hulle eie insig en wat hulle dink is reg. Daar is diegene wat bou op die opinie van ander. En sommige bou selfs op die nuutste gier wat die rondte doen op sosiale media.

Omdat dit so maklik is om op die verkeerde fondament te bou, moet ‘n mens gereeld jou lewe ondersoek.

Kyk na elke area van jou lewe. Waarop bou jy daardie deel van jou lewe? Is jy besig om te bou op die rots, of bou jy op sand? Vra die Heilige Gees om jou te wys waarop jy bou.

As jy sien dat daar dele van jou lewe is wat jy nie op die rots bou nie, doen iets daaraan!

Kyk wat God in Sy Woord daaroor sê. Vind uit wat jy moet doen om te bou op die rots. Pas dan wat jy leer in jou lewe toe.

Om jou so ‘n bietjie hiermee te help, gaan ons vandag kyk na van die dinge wat God sê ons moet doen. Wanneer ons weet wat om te doen, kan ons bou op die rots van die Woord.

BOU JOU VERHOUDING MET GOD OP DIE ROTS.

Die eerste huis waarna ons gaan kyk, is ons verhouding met God. Hier is ‘n paar instruksies wat Hy gee om jou te help om op die rots te bou.

LIEFDE VIR GOD.

Mattheus 22:37-38: “Hy het vir hom gesê: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod.”

ONTSAG VIR DIE HERE.

Deuteronomium 10:12: “Daarom dan, Israel, wat anders vra die Here jou God van jou as om vir die Here jou God ontsag te hê, om al Sy paaie te volg, om Hom lief te hê en die Here jou God te dien met hart en siel…”

GLO GOD.

Hebreërs 11:6: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.”

GEHOORSAAM GOD.

1 Johannes 2:3–6: “En dit is hoe ons weet dat ons Hom ken: As ons sy gebooie onderhou. Iemand wat sê, ‘Ek ken Hom,’ maar sy gebooie nie onderhou nie, is ‘n leuenaar. en die waarheid is nie in hom nie; maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is. Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het.”

ONDERWERP JOU AAN GOD.

Jakobus 4:7: “Onderwerp julle dus aan God…”

Hierdie is net ‘n paar instruksies wat die Here vir ons gee oor hoe ons ons verhouding met Hom moet bou. As jy dit gehoorsaam, is jy besig om te bou op die rots. En jou huis sal staande bly wanneer die storms kom.

BOU JOU ‘EK’-HUIS OP DIE ROTS.

Die volgende area van jou lewe waarna ons gaan kyk, is jou ‘ek’-huis. Wat is jou ‘ek’-huis? Dis hoe jy jouself sien.

Die Bybel sê dat jy in Christus geplaas is toe jy weergebore is. Jy het nou ‘n nuwe identiteit wat gebaseer is op wie jy in Christus is. As jy jou ‘ek’-huis op die rots wil bou, dan moet jy weet wat die Bybel sê oor jou identiteit in Christus.

GOD HET JOU LIEF.

Johannes 17:23: “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.”

Johannes 15:9: “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in My liefde.”

JY IS ‘N NUWE SKEPPING.

2 Korinthiërs 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.”

JY IS DOOD VIR SONDE EN LEWEND VIR GOD.

Romeine 6:11: “Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.”

JY IS GEREGVERDIG VOOR GOD.

2 Korinthiërs 5:21: “Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.”

JY IS MET DIE VOLHEID VAN GOD VERVUL.

Kolossense 2:9-10: “Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul.”

JY IS GOD SE MAAKSEL.

Efesiërs 2:10: “Ons is immers Sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”

JY IS VERGEWE.

Kolossense 2:13-14: “Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het.”

GOD HET JOU AANGENEEM.

Efesiërs 1:4-6: “So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het.”

Hierdie is net ‘n paar verse wat jy kan gebruik om jou ‘ek’-huis op te bou, maar daar is nog baie meer. Die Nuwe Testament, veral die briewe, het nog baie sulke verse. Wees op die uitkyk vir frases soos ‘in Hom’, ‘deur Hom’, ‘in Christus’, ensovoorts, en jy sal nog verse kry waarop jy jou ‘ek’-huis kan bou.

Moenie toelaat dat die duiwel of die wêreld jou vertel wie jy is nie. Neem jou identiteit in Christus en bou op die rots van die Woord.

BOU JOU HUWELIK OP DIE ROTS.

Ook jou huwelik moet op die rots gebou word. Gebruik hierdie verse om jou huwelik te bou op die rots van die Woord.

Kolossense 3:18-19: “Vroue, julle moet onderdanig wees aan julle mans, soos dit gepas is vir mense in die Here. Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie.”

1 Petrus 3:1-2: “Net so, vroue, moet julle aan julle eie mans onderdanig wees, sodat, selfs indien sommige aan die woord ongehoorsaam is, ook hulle, sonder ‘n woord, gewen kan word deur die manier waarop julle leef omdat hulle julle rein, eerbiedige leefwyse raaksien.”

1 Petrus 3:7: “Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie.”

Hebreërs 13:4: “Die huwelik moet in alle opsigte eerbaar gehou word, en die huweliksbed moet onbesoedeld wees, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”

Markus 10:6-9: “…’maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet ‘n mens nie skei nie.”

1 Korinthiërs 7:1-3: “Verder, met verwysing na waaroor julle geskryf het: “Dit is goed vir ‘n man om nie met ‘n vrou omgang te hê nie.” Maar om onsedelikheid te voorkom, laat elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man. Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man.”

NOG WOORDE OM OP TE BOU.

Dit gaan ‘n baie lang artikel word as ons ook nog gaan kyk na wat God sê oor hoe ons kinders moet grootmaak, ons werk moet doen, ander moet behandel en ons finansies moet hanteer.

Vir vandag volstaan ons dus by hierdie woorde wat ons kan gebruik om te bou op die rots van die Woord.

As jy wil weet wat God nog sê, maak dan volgende week weer ‘n draai op die blad.

Kom leer wat God sê en begin elke area van jou lewe bou op die rots van die Woord!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *