DIE VRUG VAN DIE GEES – ‘N OORDENKING

Hierdie Vrug Van Die Gees Oordenking sal jou help om te fokus op die karaktertrekke wat vir God belangrik is. Bly in pas met die Heilige Gees sodat die vrug in jou lewe sigbaar kan wees.

Het jy al ooit na ‘n vrugteboom gekyk wat vol vrugte is? Elkeen van die vruggies het ontwikkel uit ‘n klein bloeiseltjie. Eers was die vruggie so klein dat ‘n mens amper gesukkel het om dit raak te sien. Maar, soos die tyd verby gegaan het, het die vruggie al groter geword totdat dit uiteindelik ‘n mooi en volgroeide vrug geword het.

Joyce Meyer vertel graag dat só ‘n vrugteboom nooit nodig het om hard te probeer om vrug te dra nie. God het die boom gemaak om vrug te dra. Hy het ook alles voorsien wat nodig is dat die boom eintlik sonder enige inspanning en pogings van sy eie, vrug dra.

Net so het God ook alles voorsien wat óns nodig het om vrug te dra.

Vrug van die Gees - 'n oordenking

DIE VRUG VAN DIE GEES.

In Galasiërs 5:22-23 lees ons van die vrug wat God graag in ons lewens wil sien. Hierdie vrug sluit in: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.

En die beste van alles, ons hoef ons nie self in te span en ons eie pogings te gebruik om die vrug te dra nie! Juis daarom word hiérdie vrug die vrug van die Gees genoem.

Die voorafgaande verse sê dat ons deur die Gees moet leef en ons deur Hom moet laat lei. Ons moet ook met Hom in pas bly. As ons dít doen, sal ons die vrug van die Gees dra.

Ons sal, sonder enige inspanning van ons kant af, vir ander lief wees. Ons sal vol vreugde en vrede wees. Verder sal ons altyd geduldig, vriendelik en goed vir ander wees. En ons sal getrou by en betroubaar wees ongeag die omstandighede. Dan sal ons ook sagmoedig wees en altyd selfbeheersing toepas. Maar elkeen van hierdie dinge gaan nét gebeur as ons die Heilige Gees volg.

Hierdie maand se gratis Bybelleesplan handel dan ook oor die vrug van die Gees. As jy graag die leesplan wil ontvang, vul dan net jou inligting hieronder in. Jy sal sommer ook toegang kry tot al die vorige leesplanne.

VERSE OOR DIE VRUG VAN DIE GEES.

Die Here wil graag die vrug van die Gees in elkeen van Sy kinders se lewens sien. Elkeen van die nege karaktertrekke – want dit is wat die vrug is – is ‘n karaktertrek van God self. Dít is die dinge waarna ons moet streef. Daarom praat God nie net met ons oor die vrug van die Gees in Galasiërs nie, maar op verskeie plekke in die Bybel.

LIEFDE.

Johannes 15:12: “Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.”

1 Korinthiërs 13:1: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ‘n kletterende simbaal geword.”

1 Petrus 4:8: “Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat ‘die liefde ‘n menigte sondes bedek’.”

BLYDSKAP.

1 Petrus 1:8-9: “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.”

Johannes 16:22: “Daarom ervaar julle nou ook pyn; maar Ek sal julle weer sien, en dan sal julle harte bly wees, en niemand sal julle blydskap wegneem nie.”

Filippense 4:4: “Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle!”

VREDE.

Johannes 14:27: “Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.”

Romeine 15:13: “Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.

Kolossense 3:15: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.”

GEDULD.

Romeine 12:12: “Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.”

Efesiërs 4:1-2: “Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra…

Galasiërs 6:9: “Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes.”

VRIENDELIKHEID.

Filippense 4:5: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.”

Lukas 6:31: “Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle.”

Handelinge 20:35: “In alles het ek vir julle gewys dat ‘n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak ‘n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.'”

GOEDHEID.

Galasiërs 6:10: “Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.”

Lukas 6:35: “Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle ‘n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel.”

Miga 6:8: “Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?”

GETROUHEID.

Mattheus 25:23: “Sy eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!'”

Lukas 16:10: “Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan.”

1 Korinthiërs 4:1-2: “Só moet mense ons beskou: as diensknegte van Christus en as bedienaars van die verborgenhede van God. Boonop word van sulke bedienaars verwag dat elkeen van hulle getrou bevind sal word.”

SAGMOEDIGHEID.

Kolossense 3:12: “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.”

Titus 3:1-3: “Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en bereid tot elke goeie werk, niemand te belaster nie, om nie bakleierig te wees nie, maar vriendelik, en om ware sagmoedigheid te betoon aan alle mense.”

1 Timotheus 6:11: “Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid.”

SELFBEHEERSING.

1 Petrus 4:7: “Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed.”

1 Petrus 1:5-7: “Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding,
by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.”

Jakobus 1:19: “Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word.”

OM OOR NA TE DINK.

  • Jesus het gesê ‘n goeie mens “bring die goeie te voorskyn uit die goeie skatkamer van sy hart” (Lukas 6:45). Watter van hierdie nege karaktertrekke sien jy in jou lewe?
  • Is daar enige van die vrug van die Gees wat jy nie regtig in jou lewe sien nie?
  • Hoe kan jy beter in pas bly met die Heilige Gees, sodat die vrug van die Gees nog méér in jou lewe sigbaar word?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *