JESUS: DIE EGTE DRUIWESTOK

Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.

Ek is nie ‘n tuinier nie. Behalwe vir ‘n lugplant het ek nie eens plante in my huis nie omdat ek vergeet om hulle water te gee en dan vrek hulle.

Sommige mense hou daarvan om hulle hande in die grond te druk en bossies uit te trek of plante te plant. Ek hou nie van grond aan my vingers nie.

Maar gelukkig is ek nie die enigste mens wat moet erken dat ek nie van tuinmaak hou nie!

Daar is baie van ons wat nie die talent het om tuin te maak nie.

En dan is dit bemoedigend om te besef ons hoef ook nie self na ons ‘tuin’ om te sien wanneer dit by ons geestelike lewe kom nie.

Jesus: die egte druiwestok

DIE EGTE DRUIWESTOK.

In Johannes 15:1 lees ons: “Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer.”

Is dit nie wonderlik nie?

Dit beteken ons hoef nie self te probeer groei en vrug dra nie.

Ons hoef ook nie self die versorgingswerk te doen nie.

Alles is in die hande van die Vader en van Jesus.

Ek het ‘n bietjie navorsing gedoen en interessante wenke gekry oor hoe ‘n mens ‘n druiwestok, of wingerd, versorg.

DRUIWESTOKKE MOET GENOEG SONLIG KRY.

‘n Duiwestok het sonlig nodig om goeie druiwe te produseer. Sommer baie sonlig.

Op dieselfde manier het gelowiges die lig wat van die Seun af kom, nodig.

Jesus is die Lig vir die wêreld.

Ons moet tyd saam met Hom spandeer sodat Hy Sy lig in ons lewens kan skyn.

Hy gebruik die Woord om ons pad te verlig.

As ons met die hulp van die Heilige Gees gehoorsaam is aan die Woord, begin ons vrug dra wat God verheerlik.

DRUIWESTOKKE MOET GEREELD GESNOEI WORD.

Snoei. Dis nie ‘n woord waarvan ons hou nie.

Ons weet dat dit kan seermaak om gesnoei te word.

Maar, as ons goeie vrug wil dra, is dit noodsaaklik dat ons gesnoei word.

God gebruik die Woord om ons te wys watter dinge verhinder dat ons groei en vrug dra.

Dan verwag Hy van ons om saam met Hom te werk om hierdie dinge uit ons lewens te sny.

Dít is wat dit beteken om gesnoei te word.

Onthou, die Vader snoei ons nie deur slegte dinge wat met ons gebeur nie.

Hy snoei ons deur die Woord (Johannes 15:2-3).

HOU VOëLS EN DIERE UIT DIE WINGERD.

Voëls en diere kan groot skade aan ‘n wingerd aanrig.

Soms kan dit so ver gaan dat die winderd heeltemal vernietig word.

‘n Landbouer wat sorg dat voëls en diere nie in die wingerd kom nie, herinner my aan Jesus as ons Herder.

Wanneer die wolf kom hardloop Hy nie weg soos die huurarbeider nie (Johannes 10:11-13).

Die goeie Herder gee om vir Sy skape. Hy versorg hulle en beskerm hulle (Psalm 23).

LEES OOK: JESUS IS DIE GOEIE HERDER

WINGERDE MOET HEEL JAAR VERSORG WORD.

Ek moet erken, ek het nie geweet ‘n wingerd vereis jaarlange sorg nie.

Dieselfde is waar van ons lewens.

God is die hele tyd besig om in ons lewens te werk.

Hy maak seker ons het alles wat ons nodig het om te groei.

Hy gebruik die Woord om ons te voed, ons dors te les en om ons te snoei.

DRUIWESTOKKE HET STUTTE NODIG.

Jy het seker al gesien dat daar stutte, met drade tussenin, in groot wingerde is. Die landbouers lei dan die druiwestokke om teen die drade laat rank. As hulle dit nie doen nie, gaan die druiwestok grondlangs groei.

Net soos ‘n druiwestok stutte, of ondersteuning, nodig het sodat dit lugwaarts kan groei, het gelowiges ook ondersteuning nodig.

Ons ondersteuningssisteem is die Heilige Gees en ander gelowiges.

Dit is een van die redes waarom dit so belangrik is om tyd met God te spandeer in Sy Woord en in gebed. Dis ook waarom dit belangrik is kerk toe te gaan en deel te wees van ‘n selgroep of Bybelstudiegroep.

‘N VERHOUDING MET GOD.

Hierdie is maar net ‘n paar wenke oor hoe ‘n druiwestok versorg moet word. Maar dit wys ons hoe nou die Here betrokke is in alles wat in ons lewens aangaan.

Hy help ons en ondersteun ons.

Hy wys ons wat verhinder ons groei en werk saam met ons om dit uit ons lewens te sny.

Elke dag is Hy besig om ons op te bou met Sy liefde.

Hy wil vrug dra deur ons, want sonder Hom kan ons dit in elk geval nie doen nie.

Dit is belangrik vir ‘n gelowige om vrug te dra.

Maar hierdie hoofstuk gaan oor veel meer. Dit gaan oor ‘n verhouding met God.

Die Here wil ‘n verhouding met ons hê. Dit is die punt van lewe – om God te ken en die lewensreis saam met Hom aan te pak.

Ons het die geleentheid om deel te wees van die egte druiwestok.

Wanneer ons deel is van die ware druiwestok, vloei Sy lewe deur ons en Hy dra vrug deur ons.

Die Vader is die landbouer, wat elke dag op intieme wyse na ons omsien.

Ons kan Hom vertrou om ons te voed met die brood en water van die lewe, ons te snoei en te sorg vir die lig wat ons nodig het.

My gebed is dat jy ook deel mag wees van hierdie pragtige wingerd wat die Here oor die hele wêreld geplant het.

Mag jy in Hom bly sodat Hy deur jou vrug kan dra.

En mag jy elke dag op die Landbouer vertrou om na jou om te sien en jou te snoei, sodat jy nog meer vrug kan dra!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *