2 Timotheus 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
Ek lees van ‘n man wat in die vroeë 90’s na Mongolië is om ‘n klein groepie gelowiges die beginsels van gebed geleer het. Nadat hy ‘n paar aande hieroor gepreek het, is hy gevra om na ‘n ander dorpie te gaan waar die mense nog nooit van Jesus gehoor het nie, en hulle van Hom te leer. Nadat hy vir hulle van Jesus vertel het en ook van wat Hy in mense se lewens kan doen, het ‘n ou man vir hom gevra: “Hoe lyk jou God?” Dit het die wind uit die man se seile geneem, want hy is nog nooit só ‘n vraag gevra nie en hy het ook nie lekker geweet hoe om dit te antwoord nie.
Na hy ‘n bietjie gedink het, het hy vir die man gesê: “As jy wil weet hoe God lyk, moet jy weet dat Hy vir ons ‘n Boek gegee het wat Sy natuur, karakter en eienskappe beskryf. Hierdie Boek is geskryf deur heilige manne, wat in verskillende periodes in die geskiedenis geleef het, en deur God geïnspireer is. Sommige van hulle was konings, ander gewone vissermanne, maar almal het ‘n ontmoeting met dié God wat die heelal geskep het, gehad. Hulle het geskryf van die dinge wat Hy gedoen het en hoe Hy hulle lewens verander het. Hulle het geskryf van Sy wette en beginsels vir die lewe.” Hierdie antwoord het die ou man tevrede gestel.
Ons teksvers sê die Bybel het waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek. God gee dus aandag aan die negatiewe sowel as die positiewe dinge in ons lewens. Eerstens leer die Bybel ons Wie God is en hoe ons Hom kan ken en saam met Hom ‘n pad kan stap. Tweedens wys die Bybel ons tereg wanneer daar iets in ons lewens is wat nie vir God aanvaarbaar is nie. God stel die grense vir ons lewens vas en laat ons dan weet wanneer ons daardie grense oortree het.
Maar God wys ons nie net tereg wanneer ons iets verkeerd gedoen het nie. Hy wys ons ook hoe ons die verkeerdhede kan regstel en hoe ons weer binne die veilige grense wat Hy daar gestel het, kan kom. Laastens leer God ons wat die regte lewenswyse is, hoe ons in ‘n goeie en vervullende verhouding met Hom kan leef.
Ek het al dikwels geskryf hoe belangrik dit is om die Bybel te lees en vandag wil ek dit weer herhaal. Maak elke dag tyd om die Bybel te lees. Daardeur leer God jou Wie Hy is en hoe Hy dinge doen, wat Hy wil hê jý moet doen en hoe Hy wil hê jy moet leef.
GEBED: Here, help my om tyd te maak om elke dag by U Woord uit te kom, sodat ek daardeur geleer kan word.
Maak ‘n draai in Bybel En Gebed (die ander deel van ons bediening) se aanlyn-winkel en loer na die oordenkingsboeke wat nou daar beskikbaar is.