GOD WEET ALLES VAN JOU AF

God weet alles van jou en my. Dit maak nie saak wat in ons lewens aangaan nie, God weet daarvan. Hy sien ons en staan gereed om hulp te gee wanneer ons daarvoor vra.

God weet alles van jou af

Ons het ‘n program op twee van ons rekenaars met die naam Team Viewer.

Hierdie program maak dit moontlik om van die een rekenaar in te ‘log’ na die ander rekenaar, en dan te sien wat op daardie rekenaar aangaan.

Terwyl my ouers op ‘n stadium met vakansie was, wou my pa gehad het ek moet iets vir hom op die een rekenaar doen.

Terwyl ek daarmee besig was, het hy van sy kant of met Team Viewer op die rekenaar gegaan, en gekyk wat ek doen.

Agterna het hy die opmerking gemaak, dat die tegnologie darem wonderlik is. Hy kan vir die see se golwe sit en kyk terwyl hy ook kan sien wat ek tuis op die rekenaar doen.

Ek het geantwoord dat hy eintlik besig was om op my te spioeneer!

Die tegnologie stel my pa in staat om te sien wat ek op die rekenaar doen.

Maar dit is al wat dit vir hom kan doen.

Wanneer hy nie by my is nie, sien hy nie waarmee ek besig is nie.

Hy weet nie wat ek dink nie.

En hy kan ook nie sien wat in my hart aangaan nie.

GOD WEET ALLES.

Met God werk dit egter anders.

In die Persoon van die Heilige Gees is Hy altyd by my.

Hy weet wat in my hart en gedagtes aangaan.

Hy sien alles wat ek doen.

En Hy is steeds lief vir my!

God sien my.

Hy sien jou ook.

As ons ‘n probleem het, of ‘n hartseer beleef, dan weet Hy daarvan.

Hy weet wanneer ons sukkel of iets vir ons moeilik is.

En Hy weet ook waneer ons sonde doen.

Hy is bewus van elke goeie ding wat ons doen en ook van die slegte een.

Hy weet wanneer ons Hom gehoorsaam en ook wanneer ons ongehoorsaam is.

God weet alles en sien alles.

Ons kan maar eerlik wees met Hom, want Hy weet in elk geval.

Dit was nog altyd vir my baie bemoedigend om te dink dat God alles weet. Niks wat ek sê, dink of doen is vir Hom ‘n verrassing nie. Hy het daarvan geweet nog voor ek dit gesê, gedink of gedoen het.

God is die Een wat vir jou en vir my sien.

Ons is altyd voor Hom, Hy weet van ons.

GOD IS DAAR VIR JOU.

Sukkel jy met iets in jou lewe? God weet daarvan en Hy wil jou help.

Is jy in pyn of is jy hartseer? God weet daarvan. Hy wil jou aanraak en jou vertroos.

Het jy hulp nodig? God weet daarvan. Hy staan gereed om te help as jy vra.

Verlang jy vandag na bemoediging en hoop? God weet daarvan. By Hom is daar al die bemoediging en hoop wat jy ook nodig mag kry.

Voel jy asof niemand jou liefhet nie? God weet daarvan en Hy wil jou verseker van Sy liefde vir jou.

Dit maak nie saak wat jou omstandighede op dié oomblik is, of wat jy moet hanteer nie, God sien jou. Hy weet daarvan.

Roep na Hom om hulp. Hy wil jou help, jou genees, jou bemoedig, jou beskerm en vir jou voorsien.

Hy is baie lief vir jou en sal altyd by jou wees.

In Hom vind jy alles wat jy ooit mag nodig kry.

Hy sien jou!

LEES OOK: LAAT GOD JOU BEHOFTES BEVREDIG

Leave a Reply

Your email address will not be published.