Geloof en gebed is die verantwoordelikheid van elke gelowige in ‘n tyd van krisis. Ons is die enigstes wat in geloof tot God kan nader en kan intree vir onsself, asook vir diegene rondom ons wat nog nie in God glo nie.

“Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.” (Romeine 4:19-21)
Die hele wêreld is tans in ‘n groot krisis gedompel, en dit is nie altyd maklik om positief te bly nie, veral nie as jy gereeld nuus kyk of luister nie. En vir baie lyk die situasie na ‘n probleem wat nie ‘n oplossing het nie.
ABRAHAM SE GELOOF.
Vandag wil ek egter jou aandag vestig op Abraham en wat hy gedoen het toe hy in ‘n situasie was wat heeltemal hopeloos gelyk het.
Abraham het ‘n belofte van God gehad, dat hy en sy vrou, Sara, ‘n seun sou hê. Sara was egter lankal verby die ouderdom waar dit menslik moontlik is om kinders te hê, en Abraham se kanse was ook maar bitter skraal.
En tog gee God hulle hierdie belofte, want Hy is groter as die omstandighede, groter as die hooplose situasie, groter as die skynbaar onoorkombare probleem.
Abraham het dit geweet.
Hy het gekies om verby die probleem – ‘n liggaam wat gedaan was en ‘n vrou wat te oud was om kinders te hê – te kyk, en ten volle op God te vertrou.
Die feit dat God vir hom ‘n belofte gegee het, was vir hom genoeg bewys dat Hy die mag het om te doen wat Hy beloof het.

GOD SE BELOFTES AAN SY KINDERS.
God het vir ons as Sy kinders belofte op belofte in Sy Woord gegee.
Maar, soos Abraham, moet ons ten volle oortuig wees dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het, ongeag die omstandighede.
Ons is Sy kinders, wat deur Jesus Christus ‘n verbond met Hom het. Hy het nog nooit teruggegaan op Sy woord of Sy verbond verbreek nie, en Hy gaan dit ook nie nou begin doen nie.
In Hebreërs 13:5 belowe Hy om ons nooit te verlaat of ons in die steek te laat nie.
Hy vra dat ons al ons bekommernisse vir Hom gee, want Hy wil, sal en kan vir ons sorg (1 Petrus 5:7; Mattheus 6:33).
Hy is getrou aan Sy woord (Psalm 33:4), en volgens Jesaja 55:11 sal geen woord wat uit Sy mond kom onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Hy gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Hy dit gestuur het.
Ons kan elke belofte wat Hy aan ons as Sy kinders gemaak het, glo. Ons kan ten volle oortuig wees dat Hy sal doen wat Hy beloof het, en so aan Hom die eer gee.
Lees Ook: Geloof In God Se Woord
GLO EN BID.
Dit is nóú die tyd waar gelowiges moet saamstaan in geloof.
Ons is die enigste mense op die planeet wat in ‘n verhouding met God staan, wat in geloof en met vrymoedigheid na die genadetroon kan gaan en kan intree vir onsself, asook vir die res van die wêreld wat Hom nog nie ken nie.
In Esegiël 22:30 lees ons dat God op ‘n stadium in die geskiedenis van Israel gesoek het na iemand wat voor Hom kon intree vir Jerusalem, dat dit nie vernietig word as gevolg van al die verkeerde dinge wat die leiers, profete en inwoners van die land gedoen het nie. Maar God het niemand gekry nie.
Ek probeer glad nie sê dat hierdie gesondheidsprobleem van God af kom nie, inteendeel, ek is ten volle oortuig dit kom van die een wat kom steel, slag en uitroei (Johannes 10:10).
GRYP DIE GELEENTHEID.
Hierdie is egter ons geleentheid as Liggaam van Christus om op te staan en ons plekke voor die genadetroon in te neem en saam in te tree vir ons land, en ook vir die wêreld.
Mag ons nie die geleentheid verspeel en later met spyt terugkyk omdat God nou ook niemand kon kry wat in geloof wou intree nie.
Mag ons elke dag van die inperking wat nog oor is, en ook daarna, tyd neem om te doen wat ons lees in 1 Timotheus 2:1-2 en met smeking, voorbidding en danksegging bid vir alle mense, vir die regering en almal wat gesag uitoefen, “sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid”.
Lees Ook: ‘n Plan Van Aksie Om Storms Te Oorwin
DIE ENIGSTE OPLOSSING.
God is groter as die probleme waarmee ons nou te kampe het.
Om die waarheid te sê, Hy is die enigste Een wat ‘n oplossing kan bied daarvoor.
Trek daarom, as soldaat van Christus, jou wapenrusting aan en neem posisie in.
Lig jou Swaard van die Gees en jou skild van geloof, en bid in geloof die beloftes van God oor jouself, jou gesin en familie, en ook oor alle ander mense.
God is getrou en sal ons nie in die steek laat nie.
Kom ons vertrou Hom ten volle en gee Hom al die eer wat Hom toekom vir wat Hy reeds gedoen het, wat Hy besig is om te doen, en ook wat Hy in die toekoms gaan doen!