Ons het verlede week met ‘n reeks oor gebed begin. Ons het gesels oor dinge soos tot wie ons bid, wat ons moet bid en waar en wanneer. Dan het ons ook so ‘n bietjie oor die Onse Vader gebed gesels.
Vandag gaan ons in meer detail na hierdie gebed kyk.

HERE, LEER ONS BID.
In Lukas 11:2-4 en in Mattheus 6:9-13 lees ons die Onse Vader gebed.
Die dissipels het Jesus gevra om hulle te leer bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.
Die Onse Vader gebed is dan die gebed wat Hy hulle in antwoord op hulle versoek, geleer het.
Baie mense bid die gebed direk uit die Bybel. Dis nie verkeerd nie, want ons moet juis die Woord bid, omdat dit die wil van God is.
Maar hierdie gebed is soveel meer as net ‘n gebed wat ons woord vir woord kan bid.
Dit is ‘n model wat ons wys aan watter dinge ons in gebed moet aandag gee.
Onder elkeen van die afdelings val daar dan ook ‘n klomp dinge wat daarby aansluit.
ONS VADER.
Die eerste twee woorde van die gebed wys vir ons tot wie ons bid. Ons bid tot ons Vader.
Deur geloof in Jesus is God die Vader ook ons Vader. Ons kan daarom met vrymoedigheid na Hom toe kom en ons harte, soos klein kindertjies, voor Hom oopmaak en uitstort.
WAT IN DIE HEMELE IS.
Die volgende paar woorde herinner ons daaraan dat ons met Iemand praat wat hoër en groter is as ons.
Ja, Hy is ons Vader, maar Hy is nie sommer enige hierjy nie. Hy is die Skepper van hemel en aarde en ons moet met respek en eerbied tot Hom nader.
Ons begin dus ons gebed deur op God te fokus.
Loof Hom vir wie Hy is. Dink aan al Sy karaktertrekke, wat jy al leer ken het, en loof Hom daarvoor.
Prys en dank Hom ook vir wat Hy alles vir jou doen. Onthou, daar is baie dinge wat Hy vir jou gedoen het voor jy nog gebore is. Dit sluit dinge in soos Jesus se kruisiging en opstanding. Jy is God se kind omdat jy glo in Jesus en wat Hy vir jou gedoen het. Prys en dank God dus vir die dinge wat Hy in die verlede gedoen het.
Prys en dank Hom ook vir die dinge wat Hy nóú vir jou doen. Jy weet watter versoeke jy voor Hom gebring het en hoe Hy hulle geantwoord het. Dank Hom daarvoor.
En dan weet jy ook dat daar gebede is wat nog nie beantwoord is nie. Prys en dank God byvoorbaat vir wat Hy nog gaan doen!
LAAT U KONINKRYK KOM.
Die volgende drie dinge – God se Naam, Koninkryk en wil – is nou verbind met mekaar.
God wil hê dat alle mense in Jesus glo en gered word (1 Timotheus 2:4) – God se wil.
Wanneer mense glo, word hulle uit die mag van die duisternis gered en na die Koninkryk van Jesus verplaas (Kolossense 1:13) – God se Koninkryk.
Diegene wat glo, eer God en verheerlik altyd Sy Naam – God se Naam.
Ons moet dus bid dat hierdie dinge ‘n werklikheid word in mense se lewens.
Ons moet bid vir die ongelowiges om Jesus te leer ken en tot geloof te kom.
Dan moet ons ook bid vir almal wat God reeds ken om hulle lewens tot Sy eer te leef.
En dan is daar natuurlik ook baie ander dinge, wat deel is van God se wil, waarvan ons in die Bybel lees.
Ons sien byvoorbeeld dat dit God se wil is dat ons dankbaar is in alle omstandighede (1 Thessalonisense 5:18).
Verder lees ons in 1 Thessalonisense 4:3 dat dit God se wil is dat ons heilig lewe.
Elkeen van hierdie dinge, en ook die ander waarvan ons lees, is dinge waarvoor ons kan, en moet, bid.

GEE ONS VANDAG.
Ons het nou op God en Sy plan vir die wêreld gefokus en daarvoor gebid.
Nou kom ons by enige ander gebedsversoeke wat ons het.
Jesus het gesê dat ons moet vra, en daar sal vir ons gegee word. Maar as ons nie vra nie, hoe kan God gee?
Ja, Hy weet wat ons nodig het, maar Hy wil steeds hê ons moet Hom daarvoor vra.
In Filippense 4:6 staan ons moet in alles ons versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend maak.
Wat se behoeftes het jy? Sukkel jy met een of ander probleem? Bring dit alles na God.
Vra Hom vir die dinge wat jy nodig het. Bid vir Sy wysheid en hulp wanneer jy ‘n probleem het. Bring elke stukkie van jou lewe na Hom toe en bid daaroor.
Bid ook vir ander mense. ‘n Mens weet nie altyd wat in ander se lewens aangaan nie, so dis soms moeilik om spesifiek te bid. As jy egter weet, bid spesifiek. As jy nie weet nie, bid in die algemeen en vertrou dat God weet.
Dit is ook wanneer ons vir ander bid, dat ons moet bid vir die regering, vir die gemeenskap, ensovoort.
VERGEEF ONS ONS SKULDE.
Elkeen van ons sukkel steeds met dinge wat ons verkeerd doen.
Elke keer wanneer ons bid, moet ons seker maak ons bring dié dinge wat ons verkeerd gedoen het, voor God.
Erken dat jy ongehoorsaam was en ontvang dan God se vergifnis daarvoor.
En, as jy iets teen iemand anders het, en jy sukkel om te vergewe, bring dit ook voor God. Bid dat Hy jou help om te vergewe soos Hy jou vergewe het.
VERLOS ONS VAN DIE BOSE.
Die volgende item waaraan ons daagliks in gebed moet aandag gee, is om God te vra om ons te help om staande te bly wanneer die duiwel ons aanval.
Hy (die duiwel) kan ons op verskeie manier aanval. Die grootste slagveld is egter in ons gedagtes.
Ons moet elke dag vir God vra om ons te help om die gedagtes, wat nie ooreenstem met Sy Woord nie, te kan identifiseer. Dan moet ons Hom vra om ons te help om daardie gedagtes te vervang met die waarheid van Sy Woord.
Ons moet ook vir God vra om ons te versterk sodat ons nie toegee wanneer die duiwel met allerhande versoekinge na ons toe kom nie. In 1 Korinthiërs 10:13 belowe God ons dat Hy met elke versoeking ook uitkoms sal gee. Ons moet Hom aan Sy belofte herinner en Hom vertrou om ons te help.
AAN U BEHOORT DIE KONINKRYK, KRAG EN HEERLIKHEID.
Laastens wys Jesus ons in die Onse Vader gebed daarop dat ons ons gebede moet eindig deur weer op God te fokus.
Wanneer ons dít doen, herinner ons onsself daaraan dat God groter as as enige iets of iemand in hierdie wêreld. Ons herinner onsself daaraan dat niks vir Hom ontmoontlik is nie. Hy is getrou en sal ons gebede, wat ons in geloof gebid het, altyd beantwoord.
50 DAE VAN GEBED.
Soms gebeur dit dat ‘n mens by God stil word, en dan weet jy nie regtig waarvoor om te bid nie. Dis of jy bietjie vashaak en jou gedagtes nie wil saamwerk om met ‘n gebedsversoek vorendag te kom nie.
Die 50 Dae Van Gebed Hulpmiddel is net die ding om jou te help as jy partykeer hiermee sukkel.
Elke dag, vir 50 dae, gee ek vir jou ‘n idee (in Engels praat hulle van ‘n ‘prompt’) van iets waarvoor jy God kan dank. Daar is ook elke dag ‘n idee van iets waarvoor jy kan bid.
Vul net jou inligting hieronder in en ek stuur dadelik die 50 Dae Van Gebed Hulpmiddel vir jou!
Volgende week gaan ons gesels oor dinge wat ons gereeld in gebed voor God moet bring.
Danki vir die deel van die gebed