Die Bybel het heelwat te sê gebed. Gebruik hierdie Bybelverse oor gebed in jou stiltetyd en laat die Heilige Gees jou meer leer oor gebed.

BYBELVERSE OOR GEBED.
Wat leer die Bybel ons alles omtrent gebed?
Vandag in Vrydag Verse gaan ons kyk na ‘n paar Bybelverse oor gebed en sien wat ons daaruit kan leer.
MOTIEF VIR GEBED.
In Mattheus 6 gesels Jesus met Sy dissipels oor gebed. Hy leer hulle dat die motief vir gebed belangrik is. ‘n Mens kan gebed gebruik om ander te probeer beïndruk óf jy kan dit gebruik om met God te kommunikeer en jou verhouding met Hom te bou.
Mattheus 6:5-6:
Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.
Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.
NIE BAIE WOORDE NODIG.
‘n Mens het nie regtig nodig om jou hele probleem vir God uit te lê voordat Hy hou gebed hoor nie. Hy weet wat jy nodig het voor jy vra. Jy kan dus maar die minimum woorde gebruik. Joyce Meyer vertel dat die Here haar op ‘n stadium uitgedaag het om in so min as moontlik woorde te vra vir wat sy nodig het.
Mattheus 6:7-8:
Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.
Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

Leer meer oor ons gebedsbediening en skryf sommer in vir die gebedsbrief sodat jy ook saam kan bid!
DIE MODEL-GEBED.
Na Jesus met die dissipels gepraat het oor die motief vir gebed, en hulle verseker het God weet wat hulle nodig het, gee Hy vir hulle ‘n model vir gebed.
Mattheus 6:9-13:
So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
DIE KRAG VAN GEBED.
Daar is krag in gebed wat uit ‘n gelowige hart gebid word.
Jakobus 5:13-18:
As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.
As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here.
En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.
Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.
Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.
Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.
HOU AAN BID.
God antwoord nie elke gebed onmiddellik nie. Soms is daar omstandighede wat in plek moet val voor ‘n gebed beantwoord kan word. Ander kere is daar iemand in wie se hart gewerk moet woord voor die antwoord op gebed kan realiseer. In die volgende Bybelverse oor gebed leer ons dat ons nooit moet ophou bid nie.
Lukas 18:1-8:
Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.
Hy het gesê: “In ‘n sekere stad was daar ‘n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ‘n mens gehad het nie.
En in dieselfde stad het ‘n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’
‘n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ‘n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.”
Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter.
Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?
Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”
1 Thessalonisense 5:16-18:
Wees altyd bly.
Bid gedurig.
Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
Kolossense 4:2-4:
Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar
en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ‘n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit.
Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is.

VRYMOEDIGHEID OM TE BID.
As kinders van God het ons die vrymoedigheid om na Sy genadetroon te kom en te vra wat ons nodig het.
Hebreërs 4:16:
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
1 Johannes 5:13-15:
Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.
En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.
En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.
GEBED EN GELOOF.
Hier is ‘n paar Bybelverse oor gebed wat ons leer dat gebed en geloof hand aan hand gaan.
Markus 11:22-25:
Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê!
Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.
Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.
En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”
Mattheus 7:7-11:
Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra?
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
Jakobus 1:5-8:
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.
So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
LEES OOK: ONTWIKKEL JOU GELOOF – SES STAPPE
GOD HOOR GEBED.
Die Bybel verseker ons dat God hoor wanneer ons tot Hom bid.
Psalm 18:7:
In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my.
2 Kronieke 7:13-14:
As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Filippense 4:6-7
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

DIE HEILIGE GEES HELP ONS BID.
Ons weet nie altyd wat ons moet bid nie, maar God het vir ons die Heilige Gees gegee om ons te help.
Romeine 8:26-28:
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.
En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
VIR WIE MOET EK BID?
In die volgende Bybelverse oor gebed leer ons vir wié daar gebid moet word. Dit is maar net ‘n paar gedeeltes wat vir ons wys vir wie ons elke dag moet bid.
1 Timotheus 2:1-4:
Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,
vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.
So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser,
wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Lukas 10:2:
Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.
Efesiërs 6:18-19:
Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.
Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.
VOORBEELDE VAN GEBED.
Die Bybel gee ook vir ons voorbeelde van mense wat gebid het, en in sommige gevalle ook waarvoor hulle gebid het.
Johannes 11:41-44:
Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.
Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”
Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!”
Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ‘n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”
Handelinge 16:25-26:
Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.
Skielik kom daar ‘n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.
PAULUS SE GEBEDE.
Die laaste Bybelverse oor gebed waarna ons kyk, is gebede wat Paulus vir die gelowiges gebid het. Dit is ‘n goeie idee om hierdie gebede vir jouself en ander gelowiges te bid.
Efesiërs 3:16-19:
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
2 Thessalonisense 2:16-17:
En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee.
Efesiërs 1:18-23:
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het:
hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.
Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.
Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
GROEI JOU GEBEDSLEWE.
Hierdie is maar ‘n paar Bybelverse oor gebed. Ek vertrou dat die Here jou gehelp het om iets hieruit te leer. As jy toepas wat jy geleer het, gaan jou gebedslewe groei en jy gaan sommer baie vreugde put uit jou tye in gebed.
Dit het my gees so vervul ek lees dit oor en oor.