LEESPLAN OOR DIE GELYKENISSE VAN JESUS

As jy al ‘n rukkie deel is van Nader In Eenvoud, dan sal jy weet dat ons elke maand ‘n nuwe leesplan het om tydens ons stiltetyd te gebruik.

September is dan ook nie ‘n uitsondering nie – jou gratis Bybelleesplan is hier!

Leesplan oor die gelykenisse van Jesus

SEPTEMBER SE LEESPLAN.

In September gaan ons ‘n bietjie tyd in die Nuwe Testament spandeer.

Ons gaan ‘n hele paar van die gelykenisse, wat Jesus vertel het, lees en die Heilige Gees toelaat om ons daardeur te leer.

Teken in om die Bybelleesplan gratis af te laai, en kry toegang tot al die vorige planne.

HOEKOM ‘N BYBELLEESPLAN?

As jy nuut is, wonder jy dalk nou waarom dit ‘n goeie idee is om ‘n Bybelleesplan te gebruik?

‘n Leesplan help jou om nie tyd te mors wanneer jy besig is met jou stiltetyd nie.

Ek is seker jy het ook al jou Bybel gevat om te lees, en dan het jy nie ‘n idee waar jy nou eintlik moet lees nie.

‘n Leesplan gee vir jou ‘n duidelike riglyn van waar jy elke dag moet lees.

LEES OOK: BYBELLEESPLANNE VIR JOU STILTETYD

DIE HEILIGE GEES SE LEIDING.

Ek gebruik nou al vir lank self meeste dae ‘n Bybelleesplan.

Wat vir my baie interessant is, is hoe die Heilige Gees die leesplanne in my lewe gebruik.

Daar gaan omtrent nie ‘n dag verby wat ek nie iets kosbaar uit die gedeelte wat ek lees, kry nie.

Soms lees ek die gedeelte, en dan lei die Heilige Gees my uit daardie skrifdeel na ‘n ander deel in die Bybel. Die twee hou gewoonlik met mekaar verband. Partykeer kry ek my goudstukkie vir die dag uit die tweede deel wat ek lees. Ander kere help die tweede deel my om die eerste een beter te verstaan.

Dit het ook al gebeur dat ek om ‘n rede vir ‘n dag of twee nie my leesplan gebruik het nie.

En, as ek dit dan weer gebruik, hou die deel wat ek daardie dag lees verband met iets wat nóú in my lewe gebeur. Die Heilige Gees gebruik dit dan ook om my te help met die situasie.

Wanneer dít gebeur, dink ek altyd daaraan dat die Here darem só wonderlik is! Dat iemand ‘n leesplan kon opstel, dalk maande gelede, wat ek nou gebruik, en dan bevat dit presies wat die Here nodig het om my te leer en te help. Sien jy hoe wonderlik werk die Here?

HOE OM DIE LEESPLAN TE GEBRUIK.

Nader In Eenvoud se Bybelleesplanne bestaan net uit 21 dae.

Dit gee jou kans om in te haal as jy sou agterraak.

Jy kan ook die ander dae gebruik om byvoorbeeld ‘n meer in diepte studie oor iets wat jy gelees het, te doen.

Elke leesplan het ‘n klompie vrae om jou te help om die teks te oordink. Soms is daar net drie vrae, ander kere heelwat meer.

Wanneer jy inteken om die leesplanne af te laai, kry jy ook toegang tot die Bybel Biblioteek. Daar is ‘n Bybelleesplan Joernaal, wat jy gratis kan aflaai, om saam met jou leesplan te gebruik.

Maar jy kan sommer ook net ‘n notaboek gebruik om die vrae in te antwoord.

NOG MANIERE OM JOU LEESPLAN TE GEBRUIK.

Daar is egter ook ander interessante maniere om jou leesplan te gebruik en jou Bybel beter te leer ken.

Hier is nog ‘n paar idees:

Onderstreep of merk sleutelwoorde in die gedeelte wat jy lees. Skryf neer wat jy uit die teks oor die sleutelwoorde leer.

Skryf die gedeelte wat jy gelees het, in jou eie woorde neer.

Vra jou eie vrae. Vrae help jou om te sien wat in die teks staan. Dit laat jou nuwe dinge ontdek en dinge raaksien wat andersins by jou sou verbygaan. Gebruik die volgende woorde om jou eie vrae te vorm: wie, wat, waar, wanneer, hoekom en hoe. Jy kan byvoorbeeld vra: Wie praat met wie in hierdie gedeelte? Hoekom praat hy met hulle? Waar het dit gebeur? Waaroor praat hy met hulle? Wat is die betekenis van sy woorde?

God se Woord leer ons waarhede. Wanneer jy ‘n gedeelte lees, vra jouself: Wat is die waarheid wat ek hieruit moet leer?

Die Here praat met ons deur Sy Woord, en dit is ons verantwoordelikheid om te reageer. Maak die gedeelte wat jy lees persoonlik deur te vra: Hoe kan ek, wat ek nou gelees het, in my lewe toepas? Hoe gaan dit my lewe verander?

LAAI JOU LEESPLAN NOU AF.

Dalk het jy nog nooit voorheen ‘n leesplan gebruik nie.

Moet dan nie langer wag nie. Teken in en laai jou leesplan vir September sommer nou af.

Dit gaan jou verseker help in jou stiltetyd, en ek kan getuig dat die Here selfs ou leesplanne, van vorige maande, kan gebruik om met jou te praat!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *