Om God se Woord te ken is van groot belang vir elke gelowige. Hier is ‘n paar gratis hulpmiddele vir jou stiltetyd om jou te help met jou tyd in die Woord.
Die “American Banking Association” het ‘n interessante manier om hulle bankpersoneel te leer hoe om vervalste geld uit te ken.
Hulle word voorsien van regte geld en vir dae aaneen, uur na uur, dag na dag, hanteer hulle net hierdie geld.
Hulle raak so vertroud met die ware Jakob, dat hulle nie vir ‘n oomblik geflous word wanneer ‘n vals noot skielik hulle pad kruis nie.
Dít is presies hoe goed ons met die Woord van God bekend moet wees.
Vandag wil ek met jou ‘n paar maniere deel hoe jy meer tyd in God se Woord kan spandeer, sodat jy meer vertroud daarmee kan wees.
Maar voor ons daarby kom, kyk net eers gou hierdie video oor hoe belangrik dit is om God se stem te ken.
TYD IN GOD SE WOORD.
Soos jy in die video gesien het, is dit baie belangrik om vertroud met die Woord te wees, sodat jy nie die stem van ‘n vreemdeling volg nie.
Tyd in die Woord help jou om God beter te leer ken.
Dit verander jou manier van dink, praat en optree, en help jou om algaande meer soos Jesus te word.
En, dit help jou om vertroud te raak met die stem van God.
Hier by Nader In Eenvoud het ons verskeie hulpmiddele vir jou stiltetyd, wat jy gratis kan aflaai.
BYBELLEESPLANNE.
Elke maand word daar ‘n nuwe leesplan beskikbaar gestel aan almal wat ingeteken is op Nader In Eenvoud se weeklikse nuusbrief.
‘n Leesplan gee ‘n bietjie struktuur aan jou tyd saam met die Here, want jy hoef nie te wonder waar om vandag te lees nie.
Jy kyk net wat die volgende skrifgedeelte op jou leesplan is, maak jou Bybel daar oop, en lees die gedeelte.
Die Here kan enige skrifgedeelte wat jy lees, gebruik om met jou te praat. Selfs wanneer jy vooraf weet waar jy gaan lees, kan God dit steeds gebruik. Hy kan jou opbou, jou wysheid gee, of vir jou ‘n antwoord op ‘n probleem gee.
As jy graag die maandelikse Bybelleesplanne wil ontvang, vul die vorm hieronder in.
SKRYF DIE WOORD.
Hierdie is ‘n goeie manier om die Woord in jou hart te bêre.
Wanneer ‘n mens die Bybel lees, kan jy baie maklik iets mis. Mense wat vinnig lees is veral geneig om belangrike dinge mis te kyk.
As jy egter die Woord skryf, werk jy stadiger deur die teks. Dit gee jou die geleentheid om regtig te sien wat daar staan.
In die Bybel Biblioteek is daar twee Skryf Die Woord Hulpmiddele, wat jou ‘n hele paar maande lank kan besig hou.
Teken in vir Nader In Eenvoud se weeklikse nuusbrief, en jy kry dadelik toegang tot die Bybel Biblioteek.
BYBELSTUDIES.
As jy op soek is na iets waar jy die Woord in meer diepte kan bestudeer, dan gaan jy beslis ook in die Bybel Biblioteek regkom!
Daar is vier verskillende Bybelstudies waaruit jy kan kies:
21 Dae In Die Woord. Hierdie is ‘n 21-dae Bybelstudie in die Woord oor die Woord.
Oë Op Jesus – Ideaal vir Paastyd. Dit is ‘n 8-dae joernaal om jou oë te vestig op Jesus en wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het.
Waag Dit Om Anders Te Wees. Hierdie is ‘n 11-dae studie waar ons kyk na skrifgedeeltes uit die Nuwe Testament. As ons aan hierdie skrifgedeeltes gehoorsaam is, gaan ander Jesus in ons raaksien.
Reis Deur Johannes – ‘n 21-Dae studie oor die Evangelie van Johannes, om meer te leer oor wie Jesus is en wat Hy gedoen het.
Teken in vir Nader In Eenvoud se weeklikse nuusbrief, en jy kry toegang tot die Bybel Biblioteek. Jy kan dan sommer dadelik die Bybelstudie van jou keuse daar aflaai.
NADER IN EENVOUD OP YOUTUBE.
Party mense is nie lief vir lees nie.
Hulle sal veel eerder ‘n video kyk as om ‘n boek in die hand te hê.
As jy een van hiérdie mense is, dan gaan Nader In Eenvoud se YouTube kanaal so reg in jou kraal wees.
Hier kan jy elke week ‘n nuwe video kyk. Die video’s is kort – meeste van die tyd nie meer as twee minute nie. Dit is egter ook ‘n goeie manier om tyd saam met God in Sy Woord te spandeer.
Kliek HIER om die YouTube kanaal te besoek en teken sommer in terwyl jy daar is.
Ek vertrou dat een van bogenoemde jou vandag nog gaan help om tyd in die Woord te spandeer, sodat jy vertroud kan raak met God se stem.
Mag die Here jou seën en jou help om Sy stem te hoor elke keer wat Hy met jou praat!