VRYDAG VERSE: MOENIE BANG WEES NIE

God is baie ernstig wanneer Hy sê ons moenie bang wees nie. Laat hierdie verse jou geloof versterk sodat jy sterk kan staan teen vrees.

Vrydag verse: Moenie bang wees nie

Ek is seker jy het ook al gehoor dat daar 365 verse in die Bybel is waar God vir ons sê dat ons nie bang moet wees nie.

Wel, dit lyk vir my of dit nie heeltemal die waarheid is nie. Jy sien, daar is nie regtig 365 verse in die Woord waar God ‘n direkte opdrag gee en sê, “Moenie bang wees nie!”

Hoewel daar ‘n hele klomp sulke verse is waar ‘n direkte opdrag gegee word, is daar ook menigte ander waar dit geïmpliseer word, al word dit nie in soveel woorde gesê nie.

Met alles wat op hierdie stadium in die wêreld aangaan, is dit seker geen wonder dat daar baie mense is wat bang is nie.

As jý een van hulle is, dan wil ek jou vandag met die volgende verse bemoedig.

Lees die verse oor en oor tot dit diep in jou hart ingesink het, en jy bo alle twyfel weet dat jy nooit bang hoef te wees nie, want God is by jou.

Om dit vir jou makliker te maak om die verse in jou hart te bêre, het ek vir jou ‘n blad gemaak wat jy gratis kan aflaai en uitdruk. Plak dit teen die muur vas. Sit dit voor in jou Bybel of bêre dit in jou bedkassie, maar hou dit handig sodat jy jouself gereeld daaraan kan herinner dat jy nie bang hoef te wees nie.

MOENIE BANG WEES NIE.

Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

Markus 6:50: “…want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

Jesaja 41:13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.”

Deuteronomium 31:6: “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

Deuteronomium 3:22: “Moenie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God sal vir julle veg.”

Openbaring 1:17b: “Hy het toe met Sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste…'”

LEES OOK: JY IS NOOIT ALLEEN NIE, GOD IS BY JOU

GOD SAL JOU BESKERM.

Psalm 56:3: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.”

Psalm 46:2: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”

Psalm 118:6: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?”

Psalm 34:5: “Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare.”

Psalm 34:8: “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle.”

LEES OOK: PSALM 91: GOD SE BELOFTES VAN BESKERMING

SIT DIT IN SY HANDE.

Psalm 55:23: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.”

Psalm 94:19: “Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.”

Mattheus 6:31-32: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.”

1 Petrus 5:6-7: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”

LEES OOK: BEKOMMERD? GEE DIT VIR GOD

Hierdie is maar ‘n paar verse waar God direk vir ons sê dat ons nie bang moet wees nie. Daar is verse wat sê God is by ons, en impliseer dat ons daarom nie hoef bang te wees nie. En daar is verse wat ons aanmoedig om na Hom toe te kom wanneer ons bang of besorg is, en alles aan Hom oor te laat.

Ek wil afsluit met twee verse uit Romeine 8. Onthou, maak nie saak wat om jou aangaan nie, daar is niks wat jou van God en Sy liefde kan skei nie:

Romeine 8:38-39: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

One thought on “VRYDAG VERSE: MOENIE BANG WEES NIE

  1. Reg

    Baie dankie! N vriend is n8e wel, n deek n dikderm verwyder en suen onkoloog Woens, die verse sal help,

Leave a Reply

Your email address will not be published.