VERSE VRYDAG: GOD SE NABYHEID EN SORG

God se Woord is ons wapen teen alle aanslae van die lewe. Dit is die rots waarop ons lewens gebou moet wees sodat ons kan staande bly wanneer die storms om ons woed.

Die Here het in Sy Woord vir ons verskeie verse laat opteken waarin Hy belowe om by ons te wees, om ons krag te gee, om vir ons te sorg, ensovoorts.

In hierdie tyd waar ons almal bemoediging nodig het, en baie mense net weer nodig het om te hoor dat God steeds by ons is, ons steeds liefhet, ons steeds versorg en dat daar nog steeds hoop is, deel ek graag vandag op Verse Vrydag vyftien verse met jou, wat handel oor die nabyheid en sorg van ons Here.

Sommige van die beloftes het God aan ‘n spesifieke persoon gemaak, maar, omdat Hy nooit verander nie, kan ons glo en vertrou dat Hy ook vir ons sal doen wat Hy vir ander gedoen het.

Bybel met pen en beker koffie. 15 Bybelverse oor God se nabyheid en sorg.

GOD SE BESKERMING.

Psalm 3:4-6: Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.

Genesis 28:15: Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.

Grys planke met groen blare.

Psalm 46:2;8: God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.

Psalm 27:5: Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op ‘n rots laat staan…

Jesaja 41:10: Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Psalm 62:2-3: Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.

GOD SE SORG.

Psalm 27:10: Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.

1 Samuel 12:22: Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak.

2 Korinthiërs 1:4: In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig…

Kosmosblom tee blou lug.

2 Korinthiërs 12:9: Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

Filippense 4:13: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

GOD SE NABYHEID.

Johannes 14:18: Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

Bloeisels teen blou lug en wolke.

Mattheus 28:20b: En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

2 Korinthiërs 6:18: “…en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.

Hebreërs 13:5b: God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *