Om jou te bekommer verander nie die situasie nie. Die oplossing vir kommer is om dit in die hand van die Here te sit. Hý kan alles verander.

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Mattheus 6:34)
J. Arthur Rank het besluit om net een dag ‘n week daaraan te spandeer om hom oor dinge te bekommmer. Hy het Woensdae gekies om dit te doen. Elke keer wat iets gebeur het wat hom angstig gemaak en sy maagseer vererger het, het hy dit op ‘n stuk papier neergeskryf en in sy bekommernishouer gesit, en tot die volgende Woensdag daarvan vergeet. Dit was interessant dat, wanneer hy die volgende Woensdag die bekommernishouer oopgemaak het, hy gevind het dat meeste van die dinge wat hom die vorige ses dae gepla het, reeds opgelos was. Dit sou dus heeltemal sinneloos gewees het om hom daaroor te bekommer.
DINGE WAAROOR JY JOU BEKOMMER
Elke dag lewer iets nuuts op waaroor ‘n mens jou kan bekommer. Die hond word siek en moet veearts toe gaan. Een van die kinders se punte op sy rapport lyk nie te goed nie. Jou kollega by die werk is nou al vir dae in ‘n slegte bui en hap gedurig na jou. En dan breek die yskas ook nog, en jy verbrand die koek wat jy vir die ander kind se koekverkoping by die skool moet bak.
Dinge waaroor jy jou kan bekommer is daar genoeg van. Mens hoef nie eens na hulle te soek nie, hulle daag sommer so ongenooid by jou voordeur op.
Maar bring kommer ons hoegenaamd iewers? Verander dit enigsins ‘n situasie as ‘n mens jou daaroor bekommer? Los dit die probleem op?
Nee!
Daarom skryf Paulus vir ons in Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
LEES OOK: JESUS IS DAAR, HY SORG VIR JOU
GOD IS DIE ANTWOORD.
God ken die oplossing vir elkeen van ons probleme. Of, beter gestel, Hy ís die antwoord vir elke probleem en elke behoefte wat ons het. Ons moet dit net na Hom toe bring en by Sy voete neersit. Hiermee sukkel ons nie so baie nie. Maar ai, om dit by Hom te los – dit kry ons nie so goed reg nie.
In sy boek, Still Married, Still Sober, skryf David Mackenzie dat hulle gesin ‘n papiersak geneem en die woord “God” daarop geskryf het. Die papiersak is aan die bokant van die kombuisdeur vasgemaak. Elke keer wat iemand oor iets in sy lewe gebid het, is dit neergeskryf en die papier is in die papiersak gegooi. Dit het gesimboliseer dat daardie situasie vir God gegee is. Die reël was dat, as jy jou oor iets wat jy vir God gegee het begin bekommer, jy op ‘n stoel moes klim en die stuk papier waarop jy dit geskryf het, uit die papiersak haal. David skryf hy is skaam om te erken hoeveel tyd hy op die stoel spandeer het om stukke papier uit die papiersak te haal. (Hoeveel tyd sou jý spandeer het om stukke papier uit die papiersak te haal?)
MOET JOU NIE BEKOMMER NIE – ‘N OPDRAG.
Jesus gee vir ons die opdrag om ons nie te bekommer nie. Hy gee ons ook die versekering dat die Vader weet wat ons nodig het. Hy sorg vir die voëls van die hemel en die lelies van die veld. Sal Hy dan nie ook vir ons, Sy kinders, sorg nie?
Waaroor is jy bekommerd?
Neem dit na God. Vertrou Hom dat Hy presies weet wat jy nodig het en dat Hy sal voorsien. Vertrou Hom om vir jou wysheid te gee en jou te help om die situasie reg te hanteer. Vertrou Hom om jou te wys as daar iets is wat jý moet doen, om vir jou te wys hóé jy dit moet doen en om vir jou die vermoë te gee om dit te kán doen. En moet jou dan nie verder daaroor bekommer nie. Los dit in Sy bekwame hande.
“Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7).