VOLG: ‘N STILTETYD-METODE

As jy al bietjie navorsing gedoen het oor wat jy alles in jou stiltetyd kan doen, sal jy weet daar is sommer baie dinge wat ‘n mens kan doen. Party dinge werk beter vir sommige van ons as ander en daarom is dit ‘n goeie idee om elke ding te probeer sodat jy weet wat werk vir jou. Die belangrikste twee dinge wat jy egter in jou stiltetyd moet doen, is om te bid en tyd met God in die Bybel te spandeer.

Psalm 119:130 sê wanneer die Woord van God vir mense oopgaan, bring dit lig. Dis ‘n wonderlike belofte van die Here. Ongelukkig is baie van ons maar skrikkerig om self ons Bybels te lees en te studeer omdat ons bang is ons gaan niks verstaan nie. Dis vir ons makliker om te lees wat ander oor die Bybel skryf as om self te kyk wat God vir ons wil sê.

En hoewel dit goed is om te luister en te lees wat wyse, godvresende gelowiges te sê het oor wat in God se Woord staan, is dit ook belangrik dat ons leer om self na die Bybel te kyk en self by die Here te hoor wat Hy vir ons wil sê.

VOLG: stiltetyd-metode

Vandag wil ek dan met jou gesels oor VOLG, ‘n maklike metode wat jy kan gebruik wanneer jy tyd met die Here in Sy Woord spandeer, sodat Hy jou kan help om self die waarhede in Sy Woord te ontdek.

VOLG is ‘n akroniem wat staan vir die vier stappe wat jy gaan gebruik, so dit maak dit maklik om te onthou hoe dinge op mekaar volg.

Wanneer jy dié metode gebruik, werk jy deur een boek van die Bybel op ‘n slag, ‘n paar verse op ‘n keer. Daar is dus nie ‘n oorweldigende hoeveelheid inligting wat jy op een slag moet probeer verstaan nie.

Die metode werk vir enige boek in die Bybel, maar ek stel voor jy begin met ‘n kort boek, soos Jakobus of een van Johannes se briewe. Later kan jy natuurlik ook die metode gebruik om deur langer boeke, soos Markus of Johannes of een van die boeke in die Ou Testament, te werk.

Nadat jy besluit het deur watter boek van die Bybel jy gaan werk, begin deur dit van voor tot agter deur te lees, verkieslik die hele boek op een slag. Maak ook seker jy weet wie die boek geskryf het, vir wie dit geskryf is en ook watter tipe boek dit is. Al hierdie dinge is belangrik vir konteks. Onthou om al hierdie inligting neer te skryf, sodat jy agterna weer daarna kan verwys, indien nodig.

Noudat jy die boek deurgelees het en al die ander inligting bymekaar het, is dit tyd om die Here deur die boek te VOLG, sodat Hy jou die waarhede in Sy Woord kan leer.

Wanneer ons met die Bybel besig is, is dit altyd belangrik om met gebed te begin. Dit hoef nie ‘n lang gebed te wees nie en jy hoef nie groot woorde te gebruik nie. Vra eenvoudig die Here om jou te help terwyl jy tyd in Sy Woord spandeer. Onthou, die Heilige Gees is in jou om jou te leer wat jy moet weet (Johannes 14:26), so jy kan die Here vertrou om hierdie gebed van jou te antwoord.

Jou volgende stap is om jou Bybel oop te maak by die gedeelte wat jy gaan deurwerk. Begin deur die verse waarna jy daardie dag kyk, in jou joernaal of notaboek neer te skryf. Om die Bybel woord vir woord oor te skryf, help ‘n mens om stadig deur te teks te gaan en regtig raak te sien wat daarin staan. Navorsing het bewys dat ‘n mens 80% meer onthou van dit wat jy neerskryf as van dit wat jy lees of hoor. So, maak ‘n punt daarvan om die teks woord vir woord neer te skryf.

Nadat jy dit gedeelte vir die dag neergeskryf het, is dit ook ‘n goeie idee om dit wat jy in die teks sien, in jou eie woorde oor te skryf. Met ander woorde, wat gebeur in die verse? Wie is die karakters? Wat doen hulle? Hoekom doen hulle dit? Hierdie deel van Ondersoek Die Teks gaan jou help om seker te maak jy weet regtig wat in die gedeelte aangaan.

Die volgende stap is om te kyk wat die teks beteken. Die heel belangrikste ding wat die Bybel ons leer, is oor wie God is en wat Hy doen. Kyk dus na jou teks en vra, ‘Leer dit my iets oor God – oor Sy karakter, Sy hart, die manier hoe Hy dinge doen?’ Wanneer ‘n mens in die gewoonte kom om te kyk na wat ‘n gedeelte jou oor God leer, maak dit jou oë oop om Hom meer en meer in die Woord raak te sien. Skryf enige karaktereienskappe van God, Name van God, of enige iets anders wat die gedeelte oor God leer, neer.

Volgende gaan jy kyk watter lesse daar in die gedeelte is, wat jy kan leer. Dis ‘n goeie idee om ‘n paar vrae te hê wat jy oor die teks kan vra, om jou te help om lesse raak te sien. Hou die lesse wat jy raaksien algemeen deur dit in ‘n ‘ons’-formaat neer te skryf. Jy kan byvoorbeeld vrae vra soos: is daar ‘n belofte wat ons kan glo? Is daar ‘n sonde waarvan ons moet wegdraai? Is daar ‘n handeling wat ons kan naboots? Gee God ‘n opdrag wat ons moet gehoorsaam? Is daar ‘n voorbeeld wat ons moet volg of nie moet volg nie? Skryf alles wat die Here jou wys in jou joernaal of notaboek neer.

‘n Mens lees of studeer nie die Bybel net sodat jy meer daaroor kan weet nie. Jy doen dit sodat die Here dit kan gebruik om jou te verander en meer soos Jesus te maak. Daarom is dit baie belangrik om te kyk hoe jy die lesse wat die Here jou uit ‘n gedeelte leer, in jou lewe kan toepas.

As die Here jou iets omtrent Homself geleer het, skryf dan neer hoe jy van nou af gaan leef in die lig van wat jy oor Hom geleer het. Jy kan iets skryf soos: “Omdat die Here ….. is, gaan ek….”

Kyk dan na die ander lesse wat jy geleer het en omskep elkeen in ‘n ‘hoe’-vraag. Hoe kan jy dit wat jy geleer het, toepas in jou daaglikse lewe, jou verhoudings, by die werk, of in die omstandighede waarin jy tans is? Skryf neer hoe jy dit kan doen. Maak seker dit wat jy skryf is van toepassing op jou eie lewe en dat dit iets is wat jy sommer nog daardie dag of week kan doen. Dis ook ‘n goeie idee om, as dit moontlik is, neer te skryf wanneer jy dit gaan doen. Gaan dan, en doen wat jy geskryf het!

Onthou ook om altyd vir die Here dankie te sê vir wat Hy jou geleer het en om Hom te vra om jou te help om dit toe te pas. Sonder Sy hulp gaan nie een van ons die Woord verstaan nie. Ons gaan ook nie in staat wees om te doen wat ons daar leer nie.

As hierdie metode vir jou interessant klink en jy wil dit graag probeer, laai dan gerus die gratis e-boekie daaroor af deur jou e-pos adres hieronder in te vul. Hou die boekie byderhand wanneer jy die Here deur ‘n gedeelte in Sy Woord VOLG, sodat jy weet wat die verskillende stappe is.

Kom maak ook weer ‘n draai hier, want ons gaan binnekort saam hier op Nader In Eenvoud die Here deur ‘n boek van die Bybel VOLG. Jy wil dit nie mis nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *