DIE EENVOUD VAN GEBED – HOE OM MET GOD TE GESELS

As jy vir ‘n gelowige vra waarmee hy of sy sukkel, gaan baie antwoord dat gebed vir hulle ‘n probleem is. En dis nie net nuwe Christene wat daarmee sukkel nie! Selfs mense wat al jare lank ‘n pad met die Here stap, sien gebed soms as iets waarmee hulle nie goed is nie.

Baie van ons het grootgeword in kerke waar gebed as baie formeel gesien is. Hierdie siening veroorsaak dat mense byvoorbeeld ‘n ander stemtoon gebruik wanneer hulle bid. Hulle gebruik ook ‘n Afrikaans wat meeste nooit in die normale loop van die lewe gebruik nie. En dit veroorsaak weer dat iemand wat onseker is oor gebed, nog meer onseker raak.

Maar gebed is eintlik nie ‘n formele affêre nie. Dis ‘n eenvoudige, persoonlike gesprek met God wat baie vreugde en vrede in ‘n mens se lewe kan bring.

Eenvoud van gebed: om met God te gesels

Deur geloof in Jesus is ons in ‘n verhouding met God. En wanneer ‘n mens met iemand in ‘n verhouding is, gesels julle met mekaar.

Dis dan ook waar van gebed. Dis die manier hoe ons met God gesels oor die dinge in ons lewens.

Net soos wat ‘n mens enige tyd en enige plek met ‘n vriend kan gesels, kan jy ook enige tyd en enige plek met God gesels. Jy hoef dus nie te wag tot jy weer stiltetyd hou voor jy met Hom praat nie.

En, net soos ‘n mens oor enige saak met jou vriend kan praat, kan jy ook oor enige iets met God praat. Hy is jou liefdevolle Vader en luister na elke woord wat jy sê. Hy luister wanneer jy lang gebede bid, maar Hy luister ook wannneer jy amper net een of twee woorde gebruik wanneer jy na Hom roep.

In Mattheus 6:9-13 kry ons die modelgebed wat Jesus vir Sy dissipels, en ook vir ons, gegee het. ‘n Mens kan baie oor hierdie gebed sê en daaruit leer, maar vandag wil ek jou aandag op die eenvoud van die gebed vestig.

Jesus begin die gebed deur op die Vader te fokus. Dit herinner ons daaraan dat ons met ons liefdevolle Hemelse Vader praat wanneer ons bid.

Daarna fokus Jesus op die wil van die Vader. Dit herinner ons daaraan dat die Vader ‘n doel en plan vir ons het en dat dit altyd ‘n goeie doel en plan is.

Volgende is die fokus op dit wat ons as God se kinders nodig het. Jesus herinner ons daaraan dat ons moet bid vir ons fisiese behoeftes. Hy herinner ons ook daaraan dat ons ons sondes voor die Vader moet bely en Sy vergifnis ontvang. En laastens herinner Hy ons daaraan dat ons die Vader moet vra om ons te help om staande te bly teen die vyand.

Al hierdie dinge is goed wat nie moeilik is om oor te bid nie. Dis nie die enigste dinge waaroor ons kan en moet bid nie, maar deur die modelgebed wys Jesus ons gebed regtig eintlik baie eenvoud is.

Ek het netnou gesê dat ‘n mens enige tyd en enige plek met God kan gesels. Hier is ‘n paar idees van hoe jy gebed in jou daaglikse lewe kan inweef.

Begin jou dag met ‘n kort gebed wanneer jy wakker word. Sluit ook jou dag met ‘n kort gebed af voor jy gaan slaap.

Dan kan jy natuurlik ook dwarsdeur die dag bid. Jy kan byvoorbeeld bid vir reisgenade terwyl jy werk toe en terug ry. Jy kan die Here vra om jou te help met jou werk. Verder kan jy bid vir wysheid wanneer jy iewers in jou dag ‘n besluit moet neem. En jy kan bid vir elke mens wat deur die dag jou pad kruis. Om die waarheid te sê, jy kan met elke gedagte, elke bekommernis, elke situasie en elke vraag na die Here toe kom en met Hom daaroor praat.

As jy nog nooit voorheen deur die dag met die Here gesels het nie, dan gaan jy agterkom jy vergeet om dit te doen. Maar jou selfoon kan jou hiermee help. Stel die alarm om elke nou en dan af te gaan om jou te herinner om te bid. Doen dit totdat jy die gewoonte aangeleer het om gereeld met God te praat. Die slim mense beweer dit vat ongeveer 66 dae vir ‘n mens om ‘n nuwe gewoonte aan te leer. Moet dus nie moedeloos raak as hierdie nuwe gebedsgewoonte tyd vat nie!

Hier is nog ‘n paar praktiese wenke wat jy kan gebruik om jou te help om gebed deel van jou dag te maak.

Skeduleer Gebedstyd: Dis ‘n goeie idee om ‘n vaste tyd elke dag te hê wanneer jy stil raak by God en regtig op Hom fokus wanneer jy bid. Dit kan in die oggend of in die aand wees. Kies ‘n tyd wanneer jy mooi wakker is – verkieslik ook ‘n tyd wanneer dit redelik rustig is in jou huishouding. Gebruik hierdie tyd om nie net met God te praat nie, maar om ook na Hom te luister.

Gebruik ‘n Gebedslys: Soms sukkel ‘n mens om te bid omdat jy nie regtig weet waarvoor om te bid nie. ‘n Gebedslys kan jou hiermee help. Al wat jy nodig het vir so ‘n lys is ‘n notaboekie en ‘n pen. Neem ‘n paar minute en skryf ‘n klompie dinge waarvoor jy wil bid neer. Soos jy aan ander dinge dink, kan jy jou lysie aanvul. Onthou ook om, as jy iemand belowe om vir hom te bid, sy naam op jou lysie te skryf. Op dié manier gaan jy nie daarvan vergeet nie. Wanneer jy dan jou daaglikse gebedstyd het, vat jy net jou lysie en bid vir ‘n klompie dinge wat daarop geskryf is.

Skryf Jou Gebede: As jou gedagtes geneig is om te dwaal wanneer jy bid, kan jy altyd jou gebede neerskryf en dan tot die Here bid. Die gebede wat jy neerskryf gaan jou ook help om later te onthou waarvoor jy gebid het en om raak te sien wanneer God jou gebed antwoord.

Bid Die Woord: Jy kan ook die Bybel gebruik wanneer jy bid. As jy meer wil weet oor hoe jy dit kan doen, kyk gerus hierdie video:

Ons Hemelse Vader het Sy Seun gegee sodat ons, deur geloof in Hom, in ‘n verhouding met God kan wees. Sy hart is om tyd met ons te spandeer – om met ons te praat en na ons te luister wanneer ons met Hom praat.

Hy vra nie van ons om perfek te wees voor ons tot Hom nader nie. Hy vra net dat ons kom en ons harte met Hom deel. Daarom wil ek jou uitdaag om sommer vandag nog te begin om met God te gesels. Onthou, gebed is nie ‘n moeilik nie. Dis ‘n eenvoudige gesprek met God.

As jy steeds meer oor gebed wil weet, kan jy gerus kyk na die gebedsgids, Hart Tot Hart, in ons aanlyn-winkel. Dié gids is geskryf om jou te help om meer gemaklik en vertroud te raak met gebed sodat jy met vrymoedigheid en geloof na God toe kan gaan.

hart tot hart gebedsgids

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *