Om jou te bekommer is ‘n gewoonte wat verander kan word. God sê in Sy Woord dat ons ons nie moet bekommer nie, maar al ons kommer vir Hom gee.
Ek het op ‘n stadium ‘n boek van Kenneth Hagin gelees, wat handel daaroor dat jy jou bekommernisse op die Here moet werp.
Vandag wil ek met jou ‘n paar dinge deel oor geloof en kommer, wat ek deur die boek geleer het.

MOET JOU NIE BEKOMMER NIE.
Meer as een keer lees ons in God se Woord dat ons ons nie moet bekommer nie.
In Mattheus 6 sê Jesus ons moet ons nie oor ons lewens bekommer, oor wat ons gaan eet of drink, of oor wat ons gaan aantrek nie.
Paulus sluit daarby aan wanneer hy in Filippense 4:6 skryf dat ons oor niks besorg moet wees nie.
En Petrus sluit op sy beurt ook daarby aan en skryf in 1 Petrus 5:6-7 dat ons al ons bekommernisse op Hom moet werp.
Daar is ‘n paar dinge wat ons moet verstaan:
a. Om bekommerd en besorg te wees oor dinge bring jou nêrens. Dit los nie die probleem op nie. Dit verander nie die situasie nie. Inteendeel, dit is ‘n reuse vermorsing van jou tyd en energie en dit maak jou siek.
b. Kommer en geloof gaan nooit hand aan hand nie. Jesus het gesê jy kan nie God en Mammon dien nie. Op dieselfde manier kan jy nie glo en jou bekommer op dieselfde tyd nie. Dit is óf die een óf die ander een.
c. Jy sal moet laat gaan. Net jy kan kies om op te hou om jou te bekommer en om in geloof op God se Woord te vertrou. Jy is ook die enigste een wat kan kies om jou probleme by die voete van die Here neer te sit en dit daar te los.
KIES OM TE LAAT GAAN.
Kom ek vertel vir jou ‘n storie wat die derde punt hierbo mooi gaan verduidelik.
Kenneth Hagin skryf in sy boek van ‘n vrou wat hom gevra het om vir haar te bid.
Toe hy haar vra om vir hom te sê waarvoor hy vir haar moet bid, sê sy, “Ek het so baie laste wat ek moet dra en dit raak vir my te swaar. Ek wil hê die Here moet vir my een van twee dinge doen. Hy moet die helfte van my laste wegneem, want ek kan omtrent die helfte dra. Of Hy moet vir my die krag gee om almal van hulle te dra.”
Kenneth het geantwoord: “Ek kan dit ongelukkig nie vir jou bid nie, want die Here wil nie hê jy moet enige laste dra nie. Hy wil hê jy moet jou laste vir Hom gee!”
Dit is moeilik om te glo, maar die vrou was glad nie beïndruk met Kenneth se antwoord nie!
In plaas daarvan dat sy dankbaar was oor hierdie wonderlike nuus, het sy baie kwaad geword.
“Ek kan die my bekommernisse opgee nie!” het sy gesê. “Hoe kan jy van my verwag om my nie te bekommer nie? Ek het dan so baie dinge waaroor ek my moet bekommer!”
“Ek is nie die een wat van jou verwag om op te hou om jou te bekommer nie,” antwoord Kenneth. “Dit is die Here Self wat ons die instruksie gegee het om dit te doen.”
Die vrou het begin huil, omgedraai en begin wegstap terwyl sy sê: “Ek kan dit nie opgee nie. Ek kan net nie!”.
SORGVRY, SOOS ‘N KIND.
Haar ooptrede is vir my so hartseer. Vir my is dit so ‘n wonderlike gerusstelling om te weet die Here het vir ons die opdrag gee om ons nie te bekommer nie.
Soms kyk ek na kinders wat besig is om te speel sonder dat hulle ‘n bekommernis van enige aard het.
Dan dink ek: “Sou dit nie wonderlik gewees het om ‘n lewe te kon leef wat vry is van enige kommer nie?”
En nog elke keer het die Here my herinner aan ‘n vers uit Sy Woord waarin Hy vir ons sê om ons nie te bekommer nie, want ons kan op Hom vertrou.
Hoe gou vergeet ons nie hierdie wonderlike nuus nie!
Vir meeste van ons is om ons te bekommer so ‘n gewoonte dat ons dit doen sonder om eers daaroor te dink.
Maar gewoontes kan verander word.
HOE OM VAN KOMMER ONTSLAE TE RAAK.
Die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy jou bekommer oor iets, is om te erken dat jou bekommerd wees daaroor niks aan die saak gaan doen nie.
Herinner jouself daaraan dat jy ongehoorsaam is aan die Here wanneer jy jou bekommer.
Volgende gaan jy na die Woord van God en jy gaan kyk wat het God te sê oor die ding waaroor jy jou bekommer.
Veronderstel jy bekommer jou oor finansies.
Jy gaan na die Woord en sien verse soos Mattheus 6:24-34; Filippense 4:6-7; Filippense 4:19; and 1 Petrus 5:6-7.
In hierdie verse sê God vir ons om Hom te vertrou om in ons behoeftes te voorsien.
Dan gaan jy na die Here toe en jy doen wat Sy Woord vir jou sê om te doen.
Jy bid en jy erken dat jy nie by magte is om die situasie self te verander nie.
Jy plaas dit waaroor jy jou bekommer voor die Here neer.
Sê vir Hom jy los daardie bekommernis nou by Hom, en dat jy Hom vertrou in in jou situasie in te tree en te doen wat jy nie kan doen nie.
Sê vir Hom dat jy Hom vertrou om in jou behoeftes te voorsien.
DIE DUIWEL SE AANVAL.
Jy moet in gedagte hou dat Satan jou gaan aanvat hieroor, veral wanneer jy vannag in die bed gaan klim.
Jy gaan vir jou allerhande leuens vertel: “God gaan jou nie help nie:, of “Die situasie gaan nooit verander nie,” ensovoorts.
Moenie na hom luister nie!
Die Woord sê vir ons dat ons elke gedagte gevange moet neem en aan Christus gehoorsaam maak (2 Korinthiërs 10:5).
Jesus Christus is die Woord wat mens geword het, so ons moet ons gedagtes gehoorsaam maak aan die Woord.
Wanneer Satan vir jou leuens vertel, gaan jy terug na die Woord toe.
As hy jou in die nag wakker hou met gedagtes van vrees om jou sover te kry om jou te bekommer, doen dat die volgende.
Klim uit die bed en maak jou Bybel oop by die beloftes wat op jou situasie van toepassing is.
Lees hulle weer en sê vir die Here jy staan op daardie beloftes; jy glo wat Hy in Sy Woord sê.
Klim dan terug in die bed en slaap, want jy weet die Here is besig om in jou situasie te werk selfs terwyl jy slaap.
Hou aan om dit te doen tot jy die vrede van God in jou hart en gedagtes ervaar.
Jy sal weet wanneer dit gebeur het, want jy sal rus sonder om jou enigsins verder te bekommer oor jou situasie.
Doen dit elke keer wanneer jy jouself bekommer oor iets.
Jy sal gou by die punt kom waar jy dit nie eens oorweeg om jou te bekommer nie, maar waar outomaties jy jou sorge aan die Here oorlaat.
Jy het geleer dit werk.
God sorg vir ons wanneer ons Hom vertrou om dit te doen.
LEES OOK: OM GOD SE BELOFTES TE BID
WERP JOU BEKOMMERNISSE OP HOM.
Om jou te bekommer is ‘n nare gewoonte wat verander kan word.
Op meer as een plek in die Woord gee God dan ook vir ons die instruksie om ons nie te bekommer nie.
Sy Woord is Sy wil vir ons.
Daarom kan ons baie duidelik uit hierdie instruksies sien dat God se wil vir ons is om ‘n kommervrye lewe te leef.
Ons is Sy kinders.
‘n Klein kindjie vertrou sy pappa en mamma om vir hom te sorg, om in al sy behoeftes te voorsien.
Net so wil God hê ons moet Hom vertrou om in al ons behoeftes te voorsien en vir ons te sorg.
Ek wil jou vandag uitdaag om elke dag al jou sorge en bekommernisse na die Here te bring.
Gee jou probleme vir Hom en wat op Hom om dit vir jou uit te sorteer en op te los.
As Hy vir jou ‘n instruksie gee oor die probleem wat jy moet doen, wees gehoorsaam.
Moenie probeer om jou eie probleme op te los sonder om eers by die Here te hoor wat jy moet doen nie.
Onthou, Hy sien die groter prentjie.
Hy weet wat lê agter elke hoek en draai.
Hy het vir ons Sy Gees gegee om ons raad te gee en ons te lei in die rigting wat ons moet gaan.
Luister na Hom.
Vertrou Hom.
Gehoorsaam Hom.
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Mattheus 6:31-33).
Glo dit!