In Johannes 14:6a lees ons Jesus sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe….
Wanneer ons hierdie woorde in konteks lees, sien ons wanneer Jesus sê Hy is die weg, dan bedoel Hy dat Hy die enigste manier is vir ons as mense om by God uit te kom, om met Hom versoen te word.
Ons lees dit ook op ander plekke in die Bybel. In Handelinge 4:12 staan byvoorbeeld: Hý [Jesus] bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.
Jesus is dus die enigste weg. Geen ander weg wat ons probeer gaan ons by God uitbring nie.
Vandag wil ek egter met jou gesels oor nog iets wat ons kan leer uit Jesus se stelling dat Hy die weg is.
As ons na Sy lewe kyk, soos dit vir ons beskryf is in die Evangelies, dan sien ons Hy het ‘n sekere manier gehad waarop Hy geleef het.
In hierdie manier van leef is Jesus vir ons ook die weg. Hy stel vir ons die voorbeeld van hoe ons moet leef sodat ons dit kan navolg.
Kom ons kyk na drie dinge wat Jesus as deel van Sy lewensstyl gedoen het, wat ek en jy ook kan doen.
TYD MET DIE VADER.
In die eerste plek was dit Jesus se gewoonte om gereeld tyd met die Vader te spandeer.
Sommer net na Hy deur Johannes gedoop is, gaan Hy die woestyn in om 40 dae met die Vader te spandeer sodat Hy gereed kan wees vir die duiwel se versoekinge, waarvan ons in Mattheus 4 lees.
Ons lees dat Hy vroeg opgestaan het om, voor die res van die mense wakker was, tyd met God te spandeer.
Ons lees ook dat Hy, na Hy tyd met mense spandeer het en hulle geleer, gesond gemaak en soms ook kos gegee het, alleen na ‘n verlate plek gegaan het om tyd met God te spandeer.
Hierdie gewoonte van Jesus het Hom gehelp om te weet wie Hy is, wat Hy veronderstel was om te doen en ook hoe Hy dit moes doen. Dit het Hom die krag en wysheid gegee wat Hy nodig gehad het. Dit het Hom ook gehelp om gefokus te bly op die Vader, om maar ‘n paar dinge te noem.
Ek en jy moet Jesus se voorbeeld volg en gereeld tyd met die Vader spandeer. Sonder gereelde tyd met God gaan ons lewens maklik uitmekaar val wanneer dinge in die lewe swaar raak.
DIE SABBAT.
Nog ‘n gewoonte van Jesus was om die Sabbat te onderhou.
As jy al voorheen die Tien Gebooie gelees het, sal jy weet God het gesê die Israeliete moet vir ses dae werk, maar die sewende dag moet hulle rus. Iemand skryf hieroor dat God letterlik vir hulle gesê het om te stop. Stop om te werk, stop om te streef na dinge, stop om jou te bekommer oor jou doen-lysie. Stop.
Om die Sabbat te onderhou beteken nie daar is ‘n lys van ‘moet doen’ en ‘moenie doen nie’ of ‘mag doen’ en ‘mag nie doen nie’ en dat ons veronderstel is om hierdie lys te volg nie.
Om die Sabbat te onderhou beteken eenvoudig ons rus van ons daaglikse werk sodat ons rus kan vind in God.
Daar is vandag baie verskillende opinies oor of ons nog die Sabbat moet onderhou of nie. Daar is ook debatte oor of dit nou op ‘n Saterdag of ‘n Sondag moet wees.
Ek wil nie met enigiemand stry hieroor nie, maar as ek na Sabbat kyk as ‘n dag waarop ek stop om dit te doen wat ek die ander ses dae doen, sodat ek my rus in God kan vind, dan is om die Sabbat te onderhou verseker ‘n goeie idee!
NOOIT HAASTIG NIE.
Dit het my al voorheen opgeval dat Jesus baie geduldig was. Dink maar aan die dag toe Hy op pad was na Jairus se huis, om sy dogtertjie te gaan gesond maak.
Langs die pad word Hy egter onderbreek deur die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, wat aan Sy kleed raak en gesond word.
In plaas daarvan dat Jesus geirriteerd raak met die onderbreking, gaan staan Hy eers stil om met die vrou te praat en na haar storie te luister.
Soos ek gesê het, ek het nog altyd gedink Jesus raak nie geirriteerd nie omdat Hy geduldig was. Maar nou die dag het ek besef Jesus was nie net geduldig nie, Hy was ook nie haastig nie!
In sy boek, The Ruthless Ellimination Of Hurry, skryf John Mark Comer dat mense wat haastig is sukkel om dinge soos liefde, vrede, geduld, vreugde, ensovoorts uit te leef. Die vrug van die Gees is eenvoudig nie versoenbaar met haas nie.
Ons kan dus by Jesus leer om nie so haastig deur die lewe te gaan nie.
Ons gaan baie meer vrede en vreugde in ons lewens hê as ons minder jaag. En ons gaan meer na ander kan luister, hulle kan help, of liefde op ‘n ander manier uitleef as ons nie heeltyd haastig is nie.
Daar is nog baie ander dinge wat ons by Jesus kan leer deur te kyk na die manier hoe Hy Sy lewe geleef het. Ek wil jou vandag uitdaag om, wanneer jy deur die Evangelies lees, te kyk wat jy raaksien. Vra ook die Here om jou te help om dit wat jy leer, in jou eie lewe te begin toepas.