LEEF NADER AAN JESUS

In ‘n vorige artikel het ek jou vertel dat die Here vir my drie woorde en ‘n frase gegee het vir 2026. Ek het met jou gedeel wat my drie woorde is en ook waarom dit my woorde is. Maar ek het nie veel oor my frase vir die jaar gesê nie. Wel, vandag wil ek met jou dáároor gesels, want dit sluit baie mooi aan by dit waaroor ons hierdie jaar sommer baie gaan gesels, naamlik Jesus!

Wat is my frase vir 2026? Dis in Engels – Lean In To Jesus – en die naaste wat ek in Afrikaans daaraan kan kom, is Nader Aan Jesus.

Daar is sommer baie dinge wat ‘n mens kan doen om nader aan Jesus te kom, maar terwyl ek daaroor gebid en nagedink het, het die volgende vyf dinge vir my uitgestaan.

Leef nader aan Jesus

‘n Mens kan nie sê jy is naby aan iemand en dat jy ‘n intieme verhouding met die persoon het, as jy nie veel van hom of haar af weet nie! Dieselfde is waar van ons verhouding met Jesus. As ‘n mens nader aan Hom wil kom en ‘n intiemer verhouding met Hom wil hê, dan is dit in die eerste plek baie belangrik dat jy Hom beter leer ken.

Jy doen dit deur tyd met Hom in Sy Woord en in gebed te spandeer. Jy laat die Heilige Gees toe om Hom vir jou ‘n werklikheid te maak, net daar in jou tyd met Hom.

Verder doen jy dit deur bewus te wees van hoe Hy in jou lewe, of in die lewe van jou geliefdes, werk. Op dié manier leer jy Sy karakter nie net deur die Bybel ken nie, maar ook deur ondervinding met Hom.

Jy stap jou lewenspad saam met Hom, luister wat Hy vir jou sê, praat met Hom deur jou dag, stel belang in die dinge waarin Hy belangstel, ensovoorts.

    Nog ‘n manier om nader aan Jesus te kom, is om Hom op ‘n dieper vlak te vertrou. Almal van ons wat in Hom glo, vertrou Hom as ons Verlosser. Ons vertrou dat ons Hom eendag van aangesig tot aangesig gaan sien en die ewigheid in Sy Teenwoordigheid gaan deurbring.

    Maar vertrou ons Hom regtig altyd vir die hier en nou? Vertrou ons Hom, byvoorbeeld, dat Hy vir ons sal sorg? Wanneer jy jou werk verloor, of die geld in die bankrekening raak al minder, en alles raak net al hoe duurder, vertrou jy Hom dat Hy dit wat jy nodig het – ook die finansies vir die maand – sal voorsien?

    Vertrou ons Hom dat Hy ‘n plan vir ons lewens het? Vertrou ons Hom genoeg dat, wanneer daardie plan vreemde draaie maak, ons steeds bereid is om saam met Hom te stap en Sý plan uit te leef?

    En vertrou ons Hom genoeg dat ons bereid is om uit ons gemaksone te klim en avonture saam met Hom aan te pak, wat dalk nie altyd maklike avonture is nie?

    As ‘n mens nader aan Jesus wil kom, dan moet jy leer om Hom te vertrou, maak nie saak hoe dinge rondom jou lyk nie. Hy is immers getrou aan Sy woord en het belowe om ons nooit te verlaat of in die steek te laat nie. Dit is dus noodsaaklik om Jesus op ‘n dieper vlak te vertrou as jy nader aan Hom wil kom.

      Derdens beweeg ‘n mens nader aan Jesus wanneer jy begin om in oorgawe aan Hom te leef. Oorgawe beteken jy doen afstand van jou eie wil, drome en begeertes en die beheer wat jy dink jy oor jou lewe het, sodat jy onder Sy beheer kan leef en so Sy wil en doel vir jou kan uitleef.

      Dit beteken jy kies elke dag om in gehoorsaamheid aan Hom te leef, selfs wanneer dit nie maklik is nie en jou iets gaan kos. Want dis wanneer jy in totale oorgawe aan Hom leef, wat jy nader aan Hom kom, ‘n lewe van oorwinning leef en jou doel hier op aarde bereik.

        Vierdens kom ‘n mens nader aan Jesus wanneer jy besef dat jy totaal afhanklik is van Hom vir net mooi elke ding in hierdie lewe. Onthou jy dat Jesus gesê het Hy is die Wingerdstok en ons die lote, en dat ons sonder Hom niks kan doen nie? Ons is dus afhanklik van Hom om die lewe suksesvol te leef en vrug te dra wat God verheerlik.

        Ons is ook afhanklik van Hom vir al ons materiële en emosionele behoeftes. Verder is ons afhanklik van Hom om ons te leer, ons te lei, ons te help groei, ensovoorts.

        Om nader aan Jesus te kom moet ‘n mens dus besef dat Hy die bron van alle goeie dinge is en dan ook in daardie afhanklikheid van Hom leef.

          Laastens kom ‘n mens nader aan Jesus wanneer jy Hom toelaat om jou te verander sodat jou karaktereienskappe al hoe meer soos Syne lyk.

          Dis wanneer jy, met die hulp van die Heilige Gees, jou ou mens afgooi en jou klee met die nuwe mens. Dis wanneer jy begin leef volgens jou nuwe identiteit in Christus sodat mense Hom in en deur jou kan sien en ook beter kan leer ken.

          Om nader aan Jesus te kom, vra dus ook van ons dat ons daarna streef om meer soos Hy te word. Gelukkig is dit nie iets wat ons in eie krag doen nie, maar dit gaan beteken dat ons in oorgawe aan die Heilige Gees leef en Hom toelaat om die veranderingswerk in ons te doen.

          Nader Aan Jesus is dalk nie jóú frase vir die jaar nie, maar dit beteken nie dat dit nie dalk die begeerte van jou hart is om dit te doen nie!

          As dit is, dan nooi ek jou uit om te loer na die Stiltetyd Skatkis, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. In dié skatkis is daar drie e-gidse:

          By Jesus Se Voete – ons stiltetydgids wat jou gaan help om te leer hoe om stil te word by die voete van Jesus.

          Hart Tot Hart – ons gebedsgids wat jou help om die basiese beginsels van gebed te verstaan en te begin toepas.

          Jesus, Die Bybel, En Jy – ons gids waarin jy leer hoe om die VOLG-metode te gebruik om tyd in jou Bybel te spandeer sodat jy dit beter verstaan en ook kan toepas in jou lewe.

          Hierdie gidse gaan jou help om tyd met Jesus te spandeer sodat jy Hom beter kan leer ken, Hom op ‘n dieper vlak vertrou, in oorgawe aan en afhanklikheid van Hom leef, en meer soos Hy word!

          Stiltetyd Skatkis

          Leave a Reply

          Your email address will not be published. Required fields are marked *