In Lukas 10:38-42 lees ons van een van die dae toe Jesus by Martha, Maria en Lasarus in Betanië gekuier het.
Die Bybel sê Martha het Jesus as gas ontvang en was besig met al die voorbereidings vir die besoek.
Maria, haar suster, het egter by Jesus se voete gesit en na Sy woorde geluister.
Dit het vir Martha ontstel, want sy het vinnig opgelet dat sy die enigste een is wat rondhardloop en al die werk doen.
Sy kom kla toe ook by Jesus daaroor en sê: Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!
Maar in plaas daarvan om vir Maria aan te spreek, antwoord Jesus vir Martha: Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.
Toe ek nou die dag weer hierdie gedeelte lees, het dit my opgeval dat die ‘een ding’ waarvan Jesus praat, dalk verskillende dinge kan beteken afhangende van jou situasie en seisoen in die lewe.
Kom ons kyk ‘n bietjie na vier van hierdie dinge.
JESUS.
In die eerste plek kan die ‘een ding’ verwys na Jesus.
Soms is ons in ‘n situasie of ‘n seisoen van die lewe waar ons net vir Jesus nodig het.
Dink maar aan die dag toe jy Hom in geloof as Verlosser aangeneem het. Toe was Hy die ‘een ding’ wat jy nodig gehad het. Niks en niemand anders sou gehelp het nie.
TYD SAAM MET JESUS.
In die tweede plek kan die ‘een ding’ beteken dat jy tyd nodig het om by Jesus se voete te sit sodat jy kan rus.
Onthou jy Sy uitnodiging in Mattheus 11:28-30?
Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.
Wanneer jy voel dat die lewe vir jou te swaar raak, kom na Jesus toe en spandeer tyd met Hom. Jy kan jou Bybel lees en bid. Maar jy kan ook net by Hom sit en Hom toelaat om jou in Sy liefde toe te vou en jou deur Sy Gees aan te raak.
‘N WOORD VAN JESUS.
In die derde plek kan die ‘een ding’ ‘n woord van Jesus beteken.
Onthou jy die Bybel sê Maria het na Jesus se woorde geluister? Sy het ingeneem wat Hy sê. Sy woorde het haar gees gevoed, haar opgebou en geestelik help groei.
Dalk het sy daardie dag iets gehoor wat die Heilige Gees later in haar lewe op ‘n kragtige manier kon gebruik.
Miskien het sy iets gehoor wat haar geloof in Jesus sterker gemaak het.
Of dalk het sy iets gehoor wat sy weer vir iemand anders kon vertel om hulle in hulle lewensreis te help.
Ons weet nie waaroor Jesus gepraat het nie, maar ons weet Maria het geluister.
Soms het ek en jy ook net nodig om by Jesus te sit en na Hom te luister. Nie na wat iemand anders oor Hom of oor Sy Woord sê nie, maar wat Hy in Sy woord sê.
EEN, TWEE EN DRIE.
In die vierde plek kan die ‘een ding’ al drie die dinge waaroor ons nou al gepraat het, beteken.
Want ons het almal, elke dag, vir Jesus nodig.
Ons het almal nodig om tyd met Hom te spandeer sodat Hy ons rus kan gee en in Sy liefde kan toevou.
En ons het almal nodig dat Hy met ons deur Sy Woord praat sodat ons geestelike gevoed kan word, ons geloof versterk kan word, en ons geestelik kan groei.
Daarom wil ek jou vandag aanmoedig om te doen wat Maria gedoen het.
Maak ‘n punt daarvan om elke dag by Jesus se voete te sit en na Sy woorde te luister.
Hy weet wat jy vir daardie dag nodig het en Hy sal in Sy groot liefde en genade presies dit vir jou gee.
Kies die goeie deel, want dit sal nie van jou af weggeneem word nie.
OORDENKINGSBOEKE VIR JOU TYD MET JESUS.
As jy op soek is na ‘n oordenkingsboek om in jou tyd saam met Jesus te gebruik, dan is die oordenkingsboeke in ons aanlyn-winkel net waarna jy op soek is.
Daar is op dié stadium drie boeke waaruit jy kan kies.
Daar is een oor Markus, waar jy vir 32 dae lank na die 16 hoofstukke van die boek gaan kyk en die verskillende lesse wat jy daaruit kan leer, ontdek.
Dan is daar een oor van die vroue in die Bybel. In dié agtien dagstukkies fokus ons elke keer op die lewe van ‘n ander vrou in die Bybel. Ons kyk na wat ons by haar kan leer en ook hoe ons dit in ons lewens kan toepas.
Laastens is daar Koffie Saam Met Jesus. Dis ideaal vir dié dae wanneer jy nie baie tyd het nie, maar tog ‘n minuut of twee in die Bybel wil spandeer.
Al die boeke in ons winkel is e-boeke in PDF-formaat. Jy kan jou oordenkingsboek dus sommer op jou foon aflaai om dit makliker te maak om tydens jou stiltetyd te lees.
So, maak gerus ‘n draai in ons aanlyn-winkel en kyk wat ons nog daar het wat jou in jou tyd met God kan help.