OM GEDULDIG TE WEES – ‘N PAAR WENKE

In Markus 5 lees ons van die geloof van Jaïrus en die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Ons kan so baie oor geloof uit hierdie gedeelte leer. Maar daar is iets anders wat vir my uitstaan wanneer ek die gedeelte lees – hoe geduldig Jesus was.

Gaan lees Markus 5:21-34 en jy sal dit raaksien.

Jesus het pas teruggekom van die land van die Geraseners af. Hy was nog by die see toe ‘n groot menigte al om Hom saamdrom.

Dít is waar Jaïrus Jesus kry. Sy dogtertjie is baie siek en lê op sterwe. Hy kom vra Jesus om saam met hom na sy huis toe te gaan en haar gesond te maak.

Jesus stem dadelik in, en hulle begin aanstap.

En dan gebeur dit – ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, kom raak aan Jesus se klere.

Sy het van Jesus gehoor en het vas geglo dat sy gesond sou word as sy net aan Sy klere kon raak.

In verse 29-30 staan daar: “En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het.”

Hy gaan staan stil, draai om en vra, “Wie het aan My klere geraak?”

Die vrou het seker gewens die aarde wil haar insluk, maar einde ten laaste moet sy maar vorentoe kom en vertel wat gebeur het.

Om geduldig te wees - wenke

WAT MY REAKSIE SOU WEES.

Nou kyk, as ek Jesus was, sou ek beslis nie so gereageer het nie.

Ek sou een van twee dinge gedoen het:

Ek sou gemaak het of ek nie agtergekom het krag het uit my gegaan nie, en net bly aanstap het.

Of ek sou geïrriteerd geraak het omdat die vrou my onderbreek het terwyl ek haastig op pad was na Jaïrus se huis.

Maar dit is nie wat Jesus doen nie.

Hy word nie kwaad nie en raak nie geïrriteerd nie.

Dit ontstel Hom nie in die minste dat Sy planne onderbreek word nie.

Nee, Hy gaan staan en gesels eers rustig met die vrou oor haar geskiedenis. Hy luister na haar storie. Ek is seker sy het gevoel asof dit net sy en Jesus is, al was daar ‘n skare mense rondom hulle.

Ek moet bely dat ek nog baie moet groei in hierdie area, om soos Jesus te wees.

Wanneer ek planne gemaak het, en dit word onderbreek, kan dit my nogal baie irriteer.

Dan moet ek ook erken dat dit al baie keer gebeur het dat ek ontsteld raak omdat my planne onderbreek word. Dan kom ek aan die einde van die dag agter ek het tog alles gedoen gekry wat ek moes doen, ten spyte van die onderbreking.

GEDULD – ‘N VRUG VAN DIE GEES.

Markus 5 wys duidelik vir ons dat Jesus ‘n baie geduldige Man was. Hy het nie toegelaat dat iets Hom ontstel of irriteer nie. Hy het tyd gehad vir mense, en het maklik Sy planne opsy gesit om aandag te gee aan elkeen met wie Hy in aanraking was.

Jesus het dus geduld, wat deel is van die vrug van die Gees, uitgeleef in Sy lewe.

Dalk leef jy, soos Jesus, ook geduld uit in jou lewe. Of dalk het jy dieselfde probleem as ek.

Dalk irriteer onderbrekings jou ook en is jy ook glad nog nie so geduldig soos Jesus nie.

As dít waar is van jou, dan gaan die volgende wenke jou help om te oefen om meer geduldig te wees.

LEEF IN DIE OOMBLIK.

In sy boek, Don’t Sweat The Small Stuff…, skryf Richard Carlson dat ‘n mens moet leer om in die oomblik te leef, selfs al hou jy nie van wat gebeur nie.

As jy byvoorbeeld laat is vir ‘n afspraak, en nou nog boonop vassit in ‘n verkeersknoop, kan jy maklik ongeduldig raak. Maar jou ongeduld gaan niks aan die situasie verander nie.

So, haal liewer diep asem en ontspan.

Moenie toelaat dat jou gedagtes met jou weghardloop nie. Dink aan die groter prentjie en herinner jouself daaraan dat om laat te wees, nie so ‘n groot probleem is nie. Dis eintlik ‘small stuff’!

SIEN DIE ONSKULD IN ANDER.

As jy ‘n ouer met klein kindertjies is, dan gaan hierdie wenk jou help.

Het jy al beleef dat jy besig is met belangrike werk, en dan kort-kort onderbreek word deur jou kind wat gou iets vir jou wil sê of iets by jou wil weet?

Dit kan ‘n mens baie irriteer en regtig ongeduldig maak.

Die volgende keer wat dit gebeur, herinner jouself aan die onskuld van jou kind. Hy is lief vir jou en is nie aspris besig om jou te onderbreek en te irriteer nie. Hy het dalk regtig op daardie stadium jou hulp of aandag nodig.

Moet weereens nie toelaat dat jou gedagtes met jou weghardloop nie. Herinner jouself daaraan dat jy baie bevoorreg is om kinders te hê wat jou hulp en aandag wil hê.

OEFEN JOU GEDULDSPIERE.

Nog ‘n goeie idee is om doelbewus jou geduldspiere te oefen.

Jy kan byvoorbeeld besluit dat jy vir die volgende vyf minute nie ongeduldig gaan raak nie, maak nie saak wat gebeur nie.

Later kan jy die vyf minute verander na tien minute en nog later na vyftien minute.

Die feit dat jy doelbewus besluit om nie ongeduldig te raak nie, gaan jou baie help om wel geduldig te bly.

VERTROU DIE HEILIGE GEES.

Die drie wenke hierbo gaan jou help om jou geduldspiere te oefen. Maar jy gaan ook die hulp van die Heilige Gees nodig hê!

Wanneer jy in die verskeersknoop vassit, vra Hom om jou te help onthou dat laat wees nie ‘n ‘lewe en dood’-saak is nie.

Of as jou kinders, of iemand anders, jou onderbreek, vra die Heilige Gees om jou te help om geduldig te bly.

En as jy besluit om doelbewus jou geduldspiere te oefen, vra die Heilige Gees om jou te help om vir daardie tydperk – of sommer nog langer – geduldig te bly.

Ons kan net die vrug van die Gees met die hulp van die Heilige Gees in ons lewens dra.

Maar ons kan ook die wenke wat ek gegee het, en ander wat jy dalk al raakgeloop het, gebruik om doelbewus te oefen om geduldig te bly.

Watter wenk gaan jy vandag probeer?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *