HOE OM LEES GEREELD JOU BYBEL TE LEES: 6 WENKE

Om gereeld Bybel te lees is vir baie gelowiges iets waarmee hulle nogal sukkel.

Daar is baie redes daarvoor, maar soms wonder ek hoeveel van ons het nooit as kinders regtig geleer om die Bybel te lees, en dit te geniet nie!, en dat dít een van die grootste redes is waarom ons sukkel.

Dit is dus belangrik om nie net self te leer om gereeld Bybel te lees en daarvan te hou nie, maar om ook jou kinders en kleinkinders daarmee te help.

So, vandag gaan ons ‘n bietjie gesels oor ‘n paar idees wat jy kan probeer om nie net jouself nie, maar ook jou kinders of kleinkinders te help om gereeld Bybel te lees en dit boonop te geniet ook.

LEES OOK: WAAROM JOU BYBEL LEES? DRIE REDES….

Lees Gereeld jou Bybel

Mense kla baie keer dat hulle nie verstaan wat hulle in die Bybel lees nie. Dit kan wees omdat die vertaling waaruit hulle lees, ‘n moeilike een is.

In Afrikaans het ons ongelukkig nie ‘n groot keuse van verskillende vertalings nie, maar daar is van die vertalings wat makliker lees as ander.

Kies dus vir jou ‘n vertaling wat maklik lees. En as jy kinders of kleinkinders het, kies vir hulle een wat vir hulle ouderdom bedoel is en wat hulle maklik sal kan lees.

Jy kan selfs ‘n Engelse vertaling kies, as jy of jou kinders of kleinkinders dit eerder verkies.

Vroeër jare was dit ‘n gereelde gebruik dat die gesin saam huisgodsdiens gehou het. Dan het pa gewoonlik uit die Bybel gelees, dalk na die tyd ‘n paar vrae oor die gedeelte gevra en dan gebid. Die kinders het ook gewoonlik elkeen ‘n beurt gekry om te bid.

Dis iets wat meeste gesinne deesdae glad nie doen nie. Maar dis ‘n goeie idee om die gebruik terug te bring as jy en jou kinders of kleinkinders wil leer om gereeld Bybel te lees en dit te geniet.

Sommige dele in die Bybel is nie so interessant soos ander nie. Dink byvoorbeeld aan ‘n boek soos Levitikus.

Wanneer jy by so ‘n boek in die Bybel kom, kan jy soek na ‘n goeie kommentaar daaroor, en dit lees om jou ‘n oorsig te gee van waaroor die boek gaan. Op dié manier gaan jy of jou kinders of kleinkinders nie verveeld raak en opgee op Bybellees nie.

Nog ‘n goeie idee is om te gesels oor wat julle lees.

Sommige Bybels het agtergrond-inligting oor elke boek, wat julle ook kan lees. Hierdie inligting help ‘n mens gewoonlik om die konteks van die boek beter te verstaan.

En as jy die konteks verstaan, verstaan jy die boodskap van die boek gewoonlik ook beter.

‘n Goeie Studiebybel is ‘n hulpmiddel wat jou hiermee kan help.

Gesels oor wat elkeen onthou van wat gelees het. Gesels oor dinge wat vir julle uitstaan. Moedig ook jou kinders of kleinkinders aan om vrae te vra as hulle iets nie verstaan nie.

En as jy nie ‘n antwoord op die vraag het nie, sê dan so en soek as gesin saam na die antwoord.

LEES OOK: DIE BYBEL: WAT DIT DOEN

Bybellees hoef nie vervelig te wees nie. Dit hoef ook nie so ernstig te wees dat niemand dit op die ou end geniet nie.

Jy kan Bybellees saam met jou kinders of kleinkinders pret maak deur die verhaal wat julle gelees het, op te voer.

Dan kan jy ook in die middel van ‘n verhaal ophou lees en die kinders vra wat hulle dink volgende gaan gebeur.

Jy kan selfs julle Bybelleestyd in ‘n vasvra verander deur ‘n gedeelte te lees en dan vrae daaroor te vra en te kyk wie die meeste vrae reg kan antwoord.

Die beste manier om Bybellees ‘n gewoonte te maak, is om dit elke dag op dieselfde tyd en op dieselfde plek te doen.

Julle kan byvoorbeeld kies om voor of na ontbyt saam as gesin Bybel te lees en te bid.

Of julle kan dit in die aand doen, voor die kinders gaan slaap.

Op dié manier gaan julle begin om daardie tyd en plek met Bybellees te assosieer en selfs begin uitsien daarna.

Dit is nou maar eenmaal so dat kinders hulle ouers en grootouers se voorbeeld volg.

‘n Kind leer praat deur te luister na wat die grootmense rondom hom sê en hulle te na-aap.

Net so leer ‘n kind ook die gedrag aan van die grootmense saam met wie hy baie tyd spandeer.

As jy wil hê jou kind of kleinkind moet leer om gereeld Bybel te lees en dit te geniet, dan moet jy die voorbeeld stel.

Hulle moet sien jy lees jou Bybel ook op ander tye en nie net saam met die gesin nie. Dit sal hulle aanmoedig om dieselfde te doen.

Hulle moet hoor dat jy praat oor wat jy lees en wat jy daaruit leer. Dit sal hulle aanmoedig om ook met jou te gesels oor wat hulle lees en leer en met vrae na jou toe te kom as hulle iets nie verstaan nie.

En hulle moet sien dat jou Bybelleesgewoonte jou lewe verander omdat jy toepas wat jy leer. Dit sal hulle aanmoedig om ook in hulle lewens toe te pas wat hulle uit die Bybel leer.

LEES OOK: MEER VAN DIE BYBEL IN JOU LEWE

‘n Mens kan nie jou kinders of kleinkinders forseer om Bybel te lees nie. Maar jy kan die idees waaroor ons gesels het gebruik om hulle te help om dit te wil doen.

Ja, dit gaan nie altyd maklik wees nie. Dis nie eers altyd vir ons as grootmense maklik om gereeld Bybel te lees nie!

Maar daar is min dinge in die lewe so belangrik soos om jou kinders en kleinkinders groot te maak met ‘n liefde vir God en Sy Woord en hierdie idees gaan jou beslis daarmee help.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *