As jy ‘n kind van God is, dan het jy verseker al meer as een keer gehoor dat jy jou Bybel op ‘n gereelde basis, verkieslik elke dag, moet lees. Maar waarom is dit nou regtig belangrik? Hier is drie redes waarom dit ‘n goeie idee is om elke dag jou Bybel te lees.
NOMMER 1: OM GOD TE LEER KEN.
God het vir ons Sy Woord gegee sodat ons Hom kan leer ken.
Dis waar dat ‘n mens God in ‘n mate kan leer ken sonder die Bybel. In Psalm 19:1 staan daar: “Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk
van sy hande bekend.” Ons weet dus uit dit wat ons rondom ons sien, dat daar ‘n God is.
Maar in Eksodus 33:13 lees ons dat Moses vir God gevra het: “Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken…” Hieruit sien ons dat ons God leer ken wanneer ons Sy paaie – Sy manier van doen – ken. En hoe anders gaan ons dit leer ken as deur Sy Woord?
Dus is die belangrikste rede waarom jy gereeld jou Bybel moet lees en ook Bybelstudie doen, sodat jy vir God kan leer ken.
NOMMER 2: OM GOD TE VERHEERLIK DEUR JOU REAKSIE OP WAT JY LEER.
Die einddoel van Bybellees en Bybelstudie doen, is om aan God te verheerlik.
Ons is veronderstel om God en Sy Koninkryk hier op aarde te reflekteer en uit te leef.
Ons doen dit deur te leer wie God is en hoe Hy dinge doen. Dan vat ons wat ons geleer het, en gaan leef dit uit teenoor mense daar buite.
Onthou jy Jesus het gesê ons moet ander liefhê soos Hy ons liefgehad het (Johannes 15:12)? Dis een voorbeeld van hoe ons God verheerlik deur Hom teenoor ander uit te leef.
Ons leer hoe liefde lyk deur te kyk na Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. Dan gaan ons en gaan leef hierdie liefde teenoor ander uit. Wanneer ons dít doen, verheerlik ons vir God.
NOMMER 3: OM ‘N GEWOONTE TE VORM.
Die derde rede waarom ons gereeld die Bybel moet lees en Bybelstudie doen, is sodat ons ‘n gewoonte kan vorm.
Dit klink dalk nie na ‘n baie geestelike rede waarom ons dit doen nie, maar meeste mense lees nie hulle Bybels nie, omdat hulle bloot nog nooit die gewoonte aangeleer het om dit te doen nie.
Daar is nie ‘n vers in die Bybel wat ons beveel om elke dag ‘stiltetyd’ te hou nie. Maar daar is baie verse wat ons leer dat die Bybel ons fondament moet wees, dat ons daarin vreugde moet vind, en dat dit die brood is wat ons geestelik voed.
Ons kan nie sonder die Woord van God leef nie. En juis daarom moet ons in die gewoonte kom om dit elke dag te lees.
As jy nog nie hierdie gewoonte aangeleer het nie, en jy het ‘n bietjie hulp nodig, dan gaan die artikel, ‘n Plan Vir Jou Stiltetyd, jou verseker help.
Tyd Saam Met God: Ons Beste Artikels kan ook vir jou van waarde wees, so lees dit gerus ook.
Teken ook sommer hieronder in vir ons nuusbrief, as jy dit nog nie gedoen het nie, en kry toegang tot die Bybel Biblioteek. Daar is allerhande oulike hulpmiddele wat jou ook kan help wanneer jy jou Bybel lees.
Onthou, tyd saam met God is nooit vermorste tyd nie. So maak ‘n punt daarvan om hierdie jaar in die gewoonte te kom om elke dag jou Bybel te lees. Jy sal beslis nie spyt wees nie!