As jy al ‘n rukkie by ons is, dan weet jy dat ons van tyd tot tyd die VOLG-metode gebruik om na ‘n paar verse in die Bybel te kyk. Die VOLG-metode is ‘n eenvoudige metode wat jy in jou stiltetyd of in jou Bybelstudietyd kan gebruik om jou te help om meer oor ‘n ‘n gedeelte in die Bybel te leer. Vandag gaan ons die VOLG-metode gebruik om na Psalm 23:1-3 te kyk.

V – VRA GOD SE LEIDING.
Ons begin met die V van VOLG, wat staan vir Vra God Se Leiding. So, kom ons bid saam.
Hemelse Vader, Psalm 23 is so ‘n bekende psalm. Ek bid dat U ons sal help om die waarhede wat Dawid daarin geskryf het, opnuut raak te sien. Wys ons ook hoe ons dit wat U ons leer, in ons lewe moet toepas. Amen.
O – ONDERSOEK DIE TEKS.
Noudat kom ons by die O van VOLG. Dit staan vir Ondersoek Die Teks.
Ons gaan begin deur Psalm 23:1-3 te lees. Daar staan:
‘n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
Die psalm is geskryf deur Dawid. Hy was self ‘n herder, voor hy koning geword het, en het presies geweet wat ‘n herder doen en hoe hy omgee vir sy skape. Hy skryf dan ook hoe die Here vir hom ‘n herder is, wat na hom omsien, hom versorg, hom versterk en hom lei.
L – LET OP DIE LESSE.
Nou kom ons by L. Dit staan vir Let Op Die Lesse.
Die Here is ons herder. Dit staan op meer as een plek in die Bybel. Jesus sê in Johannes 10:11 Hy is die Goeie Herder wat Sy lewe aflê vir Sy skape. Later, in Hebreërs 13:20, word Jesus ook ons groot Herder genoem.
Jesus het dan ook elkeen van die dinge waarvan Dawid in hierdie drie verse praat, vir ons bewerkstellig deur Sy dood en opstanding.
DIE HERDER SORG.
In die eerste plek is Jesus ons Herder wat sorg dat ons nooit enige iets wat ons regtig nodig het, en wat binne die Vader se wil is nie, kortkom nie. Hy is die Een wat in al ons behoeftes – of dit nou fisies of geestelik of emosioneel is – voorsien.
Dawid skryf dat Hy ons laat rus in groen weivelde. Dit laat my dink aan Mattheus 11:28 waar Jesus ons uitnooi om Hom toe te kom wanneer ons uitgeput en oorlaai is, want Hy sal vir ons rus gee. Hierdie uitgeput en oorlaai kan ‘n geestelike of ‘n fisiese toestand wees.
Wanneer ons probeer om die Here tevrede te stel en vir Hom aanvaarbaar te wees deur die Wet te onderhou, gaan ons uitgeput en oorlaai voel. ‘n Mens kan nie deur bloot die Wet te gehoorsaam, in die regte verhouding met God kom nie.
Jesus is nie net die Goeie Herder is nie, maar ook die ingang vir die skape. Deur geloof in Hom word ons weergebore en word die verhouding tussen ons en God herstel.
Ons kan ook na Jesus toe kom wanneer ons fisies uitgeput en oorlaai voel. In Jesaja 40:31 belowe die Here dat Hy vir ons nuwe krag sal gee wanneer ons op Hom vertrou.
Hy is in staat om ‘n mens nie net die vermoë te gee om te doen wat jy moet nie, maar ook die energie.
DIE HERDER GEE VREDE.
Volgende skryf Dawid dat die Here, as ons herder, ons bring by waters waar daar vrede is. Ook hier het Jesus, as die Goeie Herder, vir ons gegee waarvan Dawid praat.
Deur Sy dood en opstanding het Hy vrede bewerkstellig tussen ons en God. Ons kan dus nou met vrymoedigheid na God toe gaan omdat ons weet ons verhouding met God is herstel.
DIE HERDER GEE LEIDING.
Dan skryf Dawid ook dat die Here, as ons herder, ons lei op die regte paaie tot die eer van Sy Naam.
Dit laat my weer dink aan die Heilige Gees. Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons in die hele waarheid sal lei. Paulus skryf ook op meer as een plek in van sy briewe dat die Heilige Gees ons as kinders van God lei.
Hy doen dit deur die Woord te gebruik om ons te leer hoe ons moet leef sodat ons altyd die regte ding doen en God daardeur verheerlik. En Hy leer ons nie net nie, Hy stel ons ook in staat om dit te doen deur Sy krag binne ons.
Jesus wil vir elkeen van ons ‘n Herder wees. Hy bied vir ons versorging, rus, vrede, krag en leiding aan. Maar ons kies of ons daardie geskenke uit Sy hand wil ontvang of nie.
En as ons besluit om dit te ontvang, dan doen ons dit deur geloof, wat ook uit Sy hand kom!
Goed, ons het nou gekyk na die lesse wat ons uit psalm 23:1-3 kan leer.
G – GAAN EN WEES ‘N DOENER.
Laastens kom ons by die G van VOLG. Dit staan vir Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord.
Elkeen van ons gaan iets anders hê wat ons gaan doen om ‘n doener van die Woord te wees, met ander woorde, om dit wat ons nou net geleer het, in ons lewens toe te pas.
Dalk het jy vandag nodig om na die Here as jou herder te kom sodat Hy in een of ander behoefte wat jy het, kan voorsien.
Miskien voel jy moeg en oorlaai en het jy nodig om na Hom toe te kom sodat jy by Hom rus kan vind.
Of dalk het jy vrede nodig, of dit nou vrede tussen jou en God of jou en iemand anders is, jy kan na jou Herder toe kom daarvoor.
Dit kan ook wees dat jy nodig het om die Heilige Gees te vertrou om jou op die regte pad te lei.
Of dalk is daar iets heel anders wat ons vandag geleer het, wat jy nodig het om in jou lewe toe te pas. Wat dit ookal is, vra die Here om jou te wys hoe om dit te doen en om jou daarmee te help ook.
Kom ons bid sommer nou saam daaroor. Here, U weet wat elkeen van ons vandag uit psalm 23:1-3 geleer het en wat ons in ons lewens moet toepas. Wys ons hoe om dit te doen en gee ons die begeerte en ook die vermoë om aan U gehoorsaam te wees. Amen.
JESUS, DIE BYBEL, EN JY E-GIDS.
Ek hoop dat jy vandag so ‘n bietjie meer oor Jesus as jou herder geleer het. Deel dit wat jy geleer het sommer met iemand anders, wat dit ook moet hoor. En as jy meer wil weet oor die VOLG-metode, sodat jy dit ook kan begin gebruik, loer dan gerus na Jesus, Die Bybel, En Jy, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. Dié e-gids gaan jou presies leer wat jy oor die VOLG-metode moet weet. Saam met die e-gids kry jy ook die VOLG e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees.
Maak dus sommer nou ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry jou e-gids en e-studie en begin om self vir Jesus deur die Woord te VOLG!


Ek hou baie van Ris se Bybel stories en hoe sy dit oorvertel.