Laai die gratis Skryf Die Woord PDF af en gebruik dit in jou stiltetyd. Laat die Here met jou praat deur Sy Woord. Skryf die Woord en bêre dit só diep in jou hart waar dit kan wortel skiet en vrug dra.

Dis vyfuur.
Nog half aan die slaap klim ek uit die bed, en sluip saggies uit die kamer.
My eerste stop is die kombuis, waar ek vir my ‘n vuurwarm koppie koffie maak.
Dan stap ek na my studeerkamer toe, waar ek my toewikkel onder ‘n kombers, koffie in die hand.
In die donker word ek stil voor die Here. Na ek gebid het, skakel ek die lig aan en vat my Bybel, dagboek en pen.
Ek trek my Skryf Die Woord PDF nader en kyk waar ek moet lees.
Soms is dit net een vers, ander kere ‘n paar. Maar ek het in die gewoonte gekom om die hele gedeelte waar die verse wat ek moet lees staan, te lees. Op dié manier kry ek ‘n oorsig van die vers asook die konteks.
Na ek gelees het, begin ek skryf.
Partykeer skryf ek net die vers of verse wat vir die dag aangedui is. Ander kere skryf ek sommer ‘n klomp verse ekstra. Dit hang alles af van wat die Here my in die gedeelte gewys het.
SKRYF DIE WOORD WAT UITSTAAN.
Jy sien, daar is altyd iets in die gedeelte wat uitstaan. En dit is dié gedeelte wat uitstaan, wat ek gewoonlik in my dagboek neerskryf.
Na ek die vers of verse woord vir woord neergeskryf het, skryf ek neer wat ek daarin raaksien of wat die Here in my gedagtes laat opkom.
Daar is dae wat ek net die verse en wat ek daaruit leer neerskryf. Dit gebeur ook soms dat die Here my lei na ‘n ander gedeelte in die Bybel. Dan skryf ek dit ook neer en skryf wat ek daar leer.
Op dié manier praat die Here met my deur Sy Woord en voed my gees en siel. Dit is ook ‘n manier om die Woord te oordink en in my hart te bêre. En dit help my om dinge raak te sien wat ek voorheen gemis het.
VOORBEELD VAN WAT EK LEER.
Ek het byvoorbeeld een oggend verlede week Johannes 10:10 moes skryf. Soos my gewoonte is, het ek ‘n langer gedeelte gelees – van vers 7 tot 18.
Verse 7 tot 13 het vir my uitgestaan, en ek het dit neergeskryf. Terwyl ek skryf, het verse 12 en 13 weer uitgestaan, en ek het iets raakgesien wat ek nog nie voorheen opgelet het nie.
Jesus praat in hierdie verse oor die huurling, en as ‘n mens kyk hoe die huurling is en optree, gee dit jou ‘n goeie beeld van hoe Jesus is en optree. Hy is die téénoorgestelde van die huurling.
Die huurling is nie ‘n herder nie. Hy besit nie die skape nie en daarom bekommer hy hom nie oor hulle nie. Hy gee nie regtig vir hulle om nie. Wanneer gevaar dreig, slaan hy op die vlug en laat die skape aan hulle eie genade oor.
Jesus is nie so nie. Hy is die Goeie Herder. Die skape behoort aan Hom en Hy het hulle lief. Hy gee om vir hulle en sorg vir hulle. Lees maar net Psalm 23! Hy beskerm Sy skape en verdedig hulle teen gevaar. Hy het selfs Sy lewe vir Sy skape afgelê.
Bogenoemde is maar ‘n paar van die dinge wat ek raakgesien het in ‘n gedeelte wat ek uit my Skryf die Woord plan neergeskryf het.
LEES OOK: BYBELLEESPLAN IN PSALMS
DIE SKRYF DIE WOORD PDF.
Om elke dag ‘n paar verse uit God se Woord te skryf, is vir my ‘n kosbare deel van my stiltetyd.
Dit is ‘n dissipline wat my help om die Woord in my hart te bêre.
Die Woord-saad wat ek op dié manier in my hart saai, skiet wortel en dra vrug.
Dit help my om die Here se stem uit die Woord te hoor en fyn te luister wat Hy sê.
En dit gee my die geleentheid om neer te skryf wat die Here my leer sodat ek dit weer en weer kan lees om dit nog verder in te skerp.
As jy nog nie hierdie dissipline begin volg het nie, maar jy wil graag daarmee begin, dan is die Skryf Die Woord PDF net vir jou!
Die PDF het vier planne oor vier verskillende onderwerpe. Elke plan het 15 dae se gedeeltes om te skryf. Dit beteken die plan gaan jou so vir twee maande besig hou.
Daar is ook ‘n paar bladsye wat jy kan druk om te gebruik om die Woord te skryf. Jy kan egter sommer ‘n gewone notaboek of dagboek ook gebruik.
As jy belangstel in die gratis Skryf Die Woord PDF, vul jou gegewens in die vorm hieronder in en laai dit sommer dadelik af.
Gebruik die plan net soos dit is en skryf net die verse aangedui. Of lees en skryf die verse rondom ook. En, as jy iets sien uitstaan, skryf wat die Here vir jou sê.
Dit maak nie regtig saak hoe jy die Skryf Die Woord PDF gebruik nie, dit gaan jou help om na die Here te luister en die Woord in jou hart te bêre!