WAT OM IN JOU STILTETYD TE DOEN

Daar is baie mense wat dink Christenskap is ook maar net nog ‘n godsdiens, maar dis nie waar nie. Christenskap is ‘n verhouding met God deur geloof in Jesus Christus. En wanneer mens in ‘n verhouding met iemand is, spandeer jy graag tyd saam met daardie persoon. Dis dan ook waarom ons stiltetyd hou. Dis ‘n tyd waar ons die wêreld en alles wat ons aandag en gedagtes gewoonlik besig hou eenkant toe skuif, sodat ons net op Jesus kan fokus om Hom beter te leer ken, ‘n dieper verhouding met Hom te vorm, en meer soos Hy te word. Daar is sommer heelwat dinge wat jy in jou stiltetyd kan doen.

Ons gaan eers gesels oor die drie basiese dinge wat jy kan doen en dan gaan ek jou nog ‘n paar idees gee wat jy ook kan probeer.

Wat om in jou stiltetyd te doen

In die eerste plek is dit belangrik om jou Bybel te lees wanneer jy stiltetyd hou. Die Bybel is immers God se Woord waardeur Hy met ons praat.

Daar is baie maniere waarop jy die Bybel kan lees.

Jy kan dit deurlees deur eenvoudig voor te begin en elke dag ‘n hoofstuk te lees tot jy deur die Bybel gelees het.

Of jy kan ‘n Bybelleesplan gebruik en oor ‘n spesifieke onderwerp lees. As jy ‘n Bybelleesplan nodig het, teken dan in vir ons weeklikse nuusbrief, want ek gee elke einde van die maand vir jou ‘n splinternuwe leesplan wat jy in die volgende maand kan gebruik. Al die vorige leesplanne is ook in die Bybel Biblioteek beskikbaar.

Om jou aandag gefokus te hou op dit wat jy lees en meer uit ‘n gedeelte te kry, kan jy jouself die volgende vrae vra:

Is daar iets in die teks wat ek gelees het, waarvoor ek God kan loof en prys of voor kan dankie sê?

Is daar ‘n voorbeeld in die teks wat ek moet volg (of dalk nié volg nie!) of ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam?

Het die Heilige Gees die teks gebruik om my oortuig van ‘n sonde in my lewe wat ek voor God moet bely?

Is daar ‘n belofte in die teks wat ek moet glo en myne maak?

Onthou om ‘n notaboek of joernaal byderhand te hou, sodat jy kan neerskryf wat God vir jou sê en wat Hy jou leer.

Tweedens is dit belangrik om tydens jou stiltetyd te bid. God het met jou gepraat deur die Bybel en nou praat jy weer met Hom deur gebed.

Jy kan met Hom oor enigiets praat, so moenie bang wees om jou hart met Hom te deel nie.

Begin deur Hom te loof en prys vir wie Hy is en sê vir Hom dankie vir alles wat Hy vir jou doen en vir jou gee.

As die Heilige Gees jou gewys het dat daar iets is wat jy verkeerd gedoen het, bely dit teenoor God en aanvaar in geloof Sy vergifnis vir jou sonde.

Bid vir jou eie behoeftes en vra God se hulp met dinge waarmee jy sukkel. Onthou ook om vir ander mense se behoeftes en probleme te bid.

LEES OOK: ‘n MAKLIKE GEBEDSMETODE VIR JOU STILTETYD

Nog iets wat jy kan doen om jou te help om die Bybel beter te verstaan, is om ‘n dagstukkie-boek aan te skaf wat jy saam met jou Bybel lees.

Hierdie tipe boeke fokus gewoonlik op een of twee verse. Dis dus ‘n goeie idee om die hele hoofstuk waaruit die verse kom, in jou Bybel te lees. Dan het jy ‘n idee van die konteks van die verse.

As jy so ‘n oordenkingsboek nodig het, loer gerus na die drie oordenkingsboeke wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is. Dis in PDF-formaat sodat jy dit sommer op jou foon kan aflaai en daar lees.

Ons het nou gesels oor die basiese dinge wat jy kan doen wanneer jy stiltetyd hou. As jy reeds hierdie dinge doen, dan kan ook die volgende probeer om jou stiltetyd so ‘n bietjie op te kikker.

Meeste van ons het die gewoonte om die Here te loof en prys wanneer ons bid. Maar ons doen dit gewoonlik net vir ‘n stukkie van die gebed.

Iets wat jy so nou en dan kan probeer is om jou hele stiltetyd daaraan te spandeer om die Here te loof en prys.

Jy kan dit doen deur geestelike musiek te speel en saam te sing.

Jy kan dit doen deur al jou gunsteling liedere, wat julle in die kerk sing, te sing.

Of jy kan dit selfs doen deur glad nie te sing nie, maar te dink aan al God se karaktertrekke en Hom in gebed daarvoor te loof en prys.

Baie van ons sukkel daarmee dat ons gedagtes dwaal wanneer ons probeer bid. As dit met jou die geval is, probeer om jou gebede neer te skryf.

Jy kan ‘n notaboek of journaal hiervoor gebruik.

Jy kan selfs vir jou spesiale skryfpapier en ‘n spesiale pen koop om te gebruik.

Mense wat hierdie idee al probeer het, het genoem dat hulle gedagtes nie meer dwaal nie en dat hulle verhouding met die Here meer intiem raak.

Nog ‘n skryf-idee wat jy kan probeer, is om so elke nou en dan ‘n brief vir God oor jou lewe te skryf.

Skryf oor ‘n gebied in jou lewe, waarmee jy sukkel. Skryf vir God hoe jy graag in daardie gebied sal wil groei.

Jy kan ook vir Hom skryf watter een van Sy karaktereienskappe jy graag beter wil leer ken in jou lewe.

Lees soms weer deur hierdie briewe en maak notas van hoe dinge intussen verander het.

Onthou ook om die Here dankie te sê vir daardie veranderinge!

Dis altyd ‘n goeie idee om die gedeelte wat jy vir die dag lees, woord-vir-woord in jou joernaal of notaboek oor te skryf.

Dit help jou om minder gejaagd deur die gedeelte te lees. Dit help jou ook om beter te onthou wat jy gelees het. En dit help jou om dinge in die teks raak te sien, wat dalk andersins by jou sou verbygaan.

As jy nie die hele gedeelte wil skryf nie, kan jy net die verse skryf wat vir jou uitstaan.

En as daar ‘n vers is waar jy jou naam kan invoeg, om dit meer persoonlik te maak, doen dit dan.

In Filippense 4:8 lees ons dat ons ons gedagtes moet rig op dit wat waar, edel, reg, ensovoorts is.

Maak ‘n lys van dinge wat mooi, prysenswaardig of lofwaardige, ensovoorts is.

Plak dit iewers in jou huis op en lees dit wanneer jy kwaad, ongelukkig of gestres voel.

Onthou om, soos jy nuwe dinge ontdek wat waar of mooi of prysenswaardig is, jou lys op te dateer.

Ons het in Afrikaans nie so baie verskillende Bybelvertalings nie, maar niks keer jou om ‘n paar Engelse vertalings ook aan te skaf nie.

Soms lees ‘n mens ‘n bekende vers in ‘n ander vertaling, en skielik verstaan jy iets nuuts omtrent die vers.

Dalk maak jy aantekeninge in jou Bybel of jy het baie verse wat onderstreep is. ‘n Ander vertaling, of selfs net ‘n ander Bybel waarin jy nog nie geskryf het nie, gaan jou help om nie te fokus op alles wat jy reeds neergeskryf of onderstreep het nie. Dis soos om met nuwe oë na ‘n gedeelte te kyk.

Meeste van ons het ‘n spesifieke gebedspostuur, wat ons gewoonlik gebruik. Jy sit dalk altyd op jou gunsteling stoel wanneer jy bid. Of dalk kniel jy by jou bed.

Probeer so nou en dan om jou gebedspostuur te verander.

Dis verbasend hoe ‘n mens God op ‘n ander manier ervaar deur net die manier waarop jy sit of kniel of staan wanneer jy bid, te verander.

Daar is nie een gelowige op hierdie aarde wat al die antwoorde op die Bybel, op gebed, op ‘n mens se geestelike lewe, ensovoorts het nie.

Almal van ons sit met vrae.

Nog iets wat jy in jou stiltetyd kan doen, is om die vrae wat jy het, neer te skryf.

Soms kan hierdie vrae beantwoord word deur ‘n Bybelstudie oor die onderwerp te doen.

Soms gaan jy dalk jou predikant, of iemand wat langer as jy ‘n gelowige is, se raad moet vra.

Moet net nie vergeet om oor jou vrae te bid en die Here te vra om jou te help om beter te verstaan nie!

Hierdie is net ‘n paar idees wat jy ook in jou stiltetyd kan gebruik. Daar is sommer nog baie ander dinge wat jy ook kan probeer.

Ek stel voor jy maak ‘n lys van dinge wat jy graag wil probeer, soos jy nuwe idees raakloop.

Sit ook sommer vandag nog tyd opsy om aan jou verhouding met God te werk deur van hierdie idees te probeer.

Leer God beter ken. Vorm ‘n dieper verhouding met Hom en laat die Heilige Gees toe om jou te verander, sodat jy meer soos Jesus word.

Tyd saam met God is nooit gemorste tyd nie, so jy sal beslis nie spyt wees as jy begin om gereeld tyd met God te spandeer nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *