DIE GEWOONTE VAN DANKBAARHEID

Ek het ‘n paar weke gelede ‘n artikel geskryf oor vyf gewoontes wat jy kan aanleer, wat jou lewe kan verander. Een van dié gewoontes is die gewoonte van dankbaarheid.

Om in die gewoonte te wees om dankbaar te wees, het verrykende gevolge. Dit bevorder byvoorbeeld jou geestesgesondheid en gee jou immuunsisteem ‘n hupstoot. Dit verlaag ‘n mens se bloedruk, laat jou optimisties voel en verlaag depressie. Verder verbeter dit ook jou liefdeslewe en alle ander verhoudinge wat jy het.

Dan is dit ook nog iets wat enige een van ons enige tyd kan doen. Dit kos ons niks, maar die voordele daaraan verbonde is absoluut die moeite werd.

So kom ons kyk eerstens na ‘n paar dinge wat jy kan doen om jou te help om die gewoonte van dankbaarheid aan te leer.

Die gewoonte van dankbaarheid

WEES DANKBAAR VIR ALLES.

Soms is ons geneig om te dink ons moet net dankbaar wees vir die ‘groot’ dinge in die lewe. Maar dis nie waar nie.

As jy die gewoonte wil aanleer om dankbaar te wees, moet jy by die klein dingetjies begin.

Skyn die son vandag, na dit vir ‘n paar dae bewolk en reënerig was? Wees dankbaar daarvoor.

Het jy ‘n parkering naby aan die winkel se ingang gekry toe jy nou die dag dorp toe was? Wees dankbaar daarvoor.

Het iemand vir jou ‘n deur oopgehou en jou eerste laat stap? Wees dankbaar daarvoor.

Watter klein dingetjies is daar in jou lewe, waarvoor jy vandag kan dankbaar wees? Maak sommer ‘n lysie en sê vir God dankie.

KOPPEL DIT AAN ‘N OU GEWOONTE.

Dis nie altyd maklik om ‘n nuwe gewoonte aan te leer nie. Een ding wat jy kan doen om jou hiermee te help, is om jou dankbaarheidsgewoonte aan een wat jy reeds het, te koppel.

Drink jy elke oggend koffie voor jy werk toe gaan? Koppel jou koffie-drink-gewoonte aan jou nuwe dankbaarheidsgewoonte. Sit jou dankbaarheidsjoernaal (ons gesels netnou meer daaroor) by jou koffiebeker neer, sodat jy dit byderhand het.

Lees jy elke aand jou Bybel voor jy gaan slaap? Koppel jou dankbaarheidsgewoonte aan hierdie een. Jou joernaal se ‘permanente huis’ kan sommer by jou Bybel wees. Dan het jy dit ook byderhand wanneer jy wil skryf waarvoor jy dankbaar is.

AANHALINGS EN PRENTJIES.

Nog iets wat jy kan doen om jou daaraan te herinner om dankbaar te wees, is om aanhalings oor dankbaarheid in jou huis op te plak. Of gebruik prentjies, wat jou aan dankbaarheid herinner.

Jy kan ook ‘n collage maak van dinge waarvoor jy dankbaar is en dit in jou huis uitstal. Dit sal jou daaraan herinner om op die uitkyk te wees vir nóg dinge waarvoor jy kan dankbaar wees.

DEEL DIT MET ANDER.

Om vir ander te vertel waarvoor jy dankbaar is, is ook ‘n goeie manier om die gewoonte van dankbaarheid aan te leer.

Maak ‘n punt daarvan om tydens aandete vir jou gesin te vertel waarvoor jy dankbaar is.

Of stuur elke oggend vir jou beste vriendin ‘n Whatsapp en deel jou dankbaarheidslysie met haar.

Jy kan selfs elke dag net een van die dinge waarvoor jy dankbaar is, op jou sosiale media deel. Onthou net om dit op só ‘n manier te doen, dat ander nie dink jy spog nie.

MANIERE OM DANKBAARHEID UIT TE LEEF.

Daar is sommer heelwat dinge wat jy kan doen wat jou gaan help om elke dag dankbaarheid uit te leef.

Hier is ‘n paar idees.

HOU ‘N DANKBAARHEIDSJOERNAAL.

Maak ‘n punt daarvan om elke dag ‘n paar dinge neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. Dit kan so min as drie en soveel as tien per dag wees.

Daar is verskeie ‘apps’ wat jy op jou foon kan aflaai, wat jy hiervoor kan gebruik. Ek gebruik nou al vir ‘n paar jaar die Presently App, wat jy gratis in Google Play Store kan aflaai.

Jy kan ook ‘n gewone joernaal of notaboek hiervoor gebruik.

Probeer om nie elke dag dieselfde dinge neer te skryf nie. Dit sal jou help om meer oplettend te wees en dinge te begin raaksien waarvoor jy dankbaar kan wees.

En as jy ‘n goor dag het, kan jy altyd deur jou ‘dankbaarheislysies’ lees en só jouself herinner aan al die goeie dinge in jou lewe.

WEES DANKBAAR TEENOOR DIEGENE WAT JOU BEDIEN.

As jy eerlik is, moet jy erken dat daar elke dag mense is wat jou op een of ander manier bedien.

Dink aan die persoon wat jou koffie by jou gunsteling koffiewinkel maak. Of wat van die persoon wat jou motor se tenk vol petrol maak? Of die persoon wat elke dag julle kantore skoonmaak?

Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat mense in die gemeenskap doen, waarvoor jy kan en moet dankbaar wees.

Maak ‘n punt daarvan om dit raak te sien en sê dankie.

DANKBAARHEID TEENOOR GELIEFDES.

Daar is mense in die gemeenskap, wat dinge doen waarvoor jy dankbaar moet wees. Maar jou familie en vriende doen ook dinge waarvoor jy dankbaar moet wees.

Hierdie kan groot liefdesdade wees, maar dit kan ook kleintjies wees. En dit is dalk juis die klein dingetjies wat ons geliefdes vir ons doen, wat ons miskyk en nie voor dankbaar is nie.

Een manier om dankbaarheid uit te leef, is om jou oë oop te hou vir dinge wat jou geliefdes vir jou doen.

Onthou om dankie te sê wanneer jy so ‘n daad raaksien. Dit help nie om net in jou hart dankbaar te wees daarvoor nie. Dra jou dankbaarheid met woorde oor.

DANKBAAR TEENOOR DIE HERE.

Hierdie een moes ek dalk eerste gesit het, want dit is die belangrikste.

Daar is so baie dinge wat die Here elke dag vir jou doen en gee, waarvoor jy dankbaar moet wees.

Kom dus in die gewoonte om elke dag op te let na hierdie dinge. As jy iets raaksien, moenie wag tot jou stiltetyd om vir die Here dankie te sê nie. Sê sommer dadelik dankie, sodat jy nie vergeet nie.

DANKBAARHEID AS GEWOONTE.

Dit is moontlik om die gewoonte van dankbaarheid aan te leer en dit elke dag in jou lewe uit te leef.

Probeer elke dag, al is dit net vir vyf minute, tyd in dankbaarheid te spandeer.

Jy sal sien dat hierdie gewoonte beslis jou lewe gaan verander.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *